Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
DNS kleur storie van ons voorsate in

Die oudste fossiele van moderne mense in Europa is pas beskryf en dit kleur die verhaal van ons voorsate nog interessanter in.

’n Skedel wat 210 000 jaar oud is, van die hedendaagse Griekeland, is nou die oudste bewys van moderne mense in Europa en dalk Eurasië. En ’n tweede skedel, 170 000 jaar oud, van dieselfde terrein, toon eienskappe van Neanderdalmense en ons.

Die werk is pas in die vaktydskrif Nature gepubliseer en gee verdere bewyse dat moderne mense veel vroeër uit Afrika migreer het.

Die skedel van 170 000 jaar gelede van Griekeland van ’n moderne mens met die kenmerke van ’n Neanderdalmens. Foto: Katerina Harvati, Eberhard Karls Universiteit van Tübingen

Die skedels is jare gelede in die Apidima-grot in Griekeland gevind, maar argeologiese konteks het ontbreek, wat nou verskaf is. Beter, moderne uraandatering is ook nou daarop gedoen.

Die eerste skedel, Apidima 1, is 210 000 jaar oud en het moderne en effens primitiewe kenmerke, en die tweede, Apidima 2, is 170 000 jaar oud en het kenmerke van die Neanderdalmense. Die fossiele is nou vir die eerste keer goed beskryf nadat dit herbou kon word danksy nuwe skanderingstegnologie. Dit was erg gefragmenteerd.

Kenners is dit reeds geruimte tyd eens dat Homo sapiens ouer as 200 000 jaar is omdat al meer fossiele ontdek word, onder meer dié van Marokko, wat tussen 300 000 en 350 000 jaar oud is.

Dié vonds op die Jebel Irhoud-terrein in Marokko is al in 1960 gemaak, maar toe is die fossiele beskryf as ’n Afrika-vorm van ’n Neanderdalmens van 40 000 jaar gelede.

Volgens nuwe navorsing twee jaar gelede in die vaktydskrif Nature, en nog opgrawings wat gedoen is, is dit foutief. Klipgereedskap en verskeie ander fossiele wat ontdek is, wys dit is “die vroegste evolusionêre fase van Homo sapiens”.

Die fossiele verteenwoordig minstens vyf individue wat in ’n grot gebly het. Die klipgereedskap wat met behulp van vuurtegnieke gemaak is, stem ooreen met ander werktuie van die era en op ander terreine. Die span, onder leiding van prof. Jean-Jacques Hublin van die Max Planck-instituut vir Evolusionêre Antropologie, sê in ’n verklaring daar is eers gedink daar was ’n wieg van die mensdom in Oos-Afrika sowat 200 000 jaar gelede. “Ons data wys dat Homo sapiens 300 000 jaar gelede oor die hele vasteland versprei het – lank voordat die spesie uit Afrika beweeg het.”

In Suid-Afrika is ’n gedeeltelike fossiel by Florisbad ontdek wat 260 000 jaar oud is en dié stem ooreen met die ontwikkeling van die moderne mens.

Klipgereedskap wat met albei dié terreine vergelykbaar is, is in Oos-Afrika gevind – en was dus van dieselfde mense.

Die eerste migrasie uit Afrika was sowat 2 miljoen jaar gelede toe Homo erectus die vasteland verlaat het. Daarna het die voorsate van Neanderdalmense tussen 800 000 en 600 000 jaar gelede uit Afrika migreer. Die derde groepe was Homo sapiens, met van die oudste fossiele wat in Israel gevind is, tussen 130 000 en 150 000 jaar gelede. Mense het Asië, Australië en heel laaste Amerika – oor die Bering-seestraat – bevolk.

Mense het in Eurasië met die Neanderdalmense gekruisteel, met die Denisovans, wat ook aan die genus Homo behoort en laasgenoemde twee het met mekaar gekruis. Die Denisovans het minstens 130 000 jaar lank in een gebied in Siberië gewoon, asook in die Himalaja, waar nog ’n fossiel onlangs kry is.

Die hominied met die bynaam Hobbit (Homo floresiensis), het tot so onlangs as 50 000 jaar gelede op ’n Indonesiese eiland geleef voordat hulle uitgesterf het. En vanjaar is nog ’n familielid van ons stamboom ontdek op ’n eiland in die Filippyne. Homo luzonensis het so onlangs as 50 000 jaar lede op die Luzon-eiland in die Noorde van die Filippyne geleef in die Luzon-grot.

Dit is duidelik dat verskeie intelligente spesies in tydperke wat oorvleuel op die aarde geleef het en dat hul paaie beslis gekruis het, en ander wat dalk met mekaar gekruis het. Homo naledi wat in die Wieg van die Mensdom in Suid-Afrika gevind is, kon dalk van dié klipgereedskap wat hier gevind is, gemaak het, en nie Homo sapiens nie.

Homo naledi, wat dateer tussen 335 000 en 236 000 jaar oud, is jonk genoeg om met die vroeë moderne mense hier kennis te gemaak het.

Die storie van mense en hul voorsate is nog lank nie klaar geskryf nie. En met die verbetering van DNS-tegnieke gaan ons nog baie meer verrassings kry. Ons is dalk glad nie wie ons gedink het ons is nie.

• Bron: Nature: https://www.nature.com/articles/s41586-019-1376-z

• Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Hoe Werk Dit  |  Fossiele  |  Dns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.