Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
DNS wys Filistyne het Europese voorsate

Die Filistyne is bekend as die aartsvyande van die Israeliete in die Bybel. Selfs vandag word iemand wat “kultuurloos” of “barbaars” is, ’n Filistyn genoem.

Nou is ’n span argeoloë en genetici besig om dié volk se storie te vertel.

Waar het die Filistyne vandaan gekom? Die vraag word nou beantwoord met moderne genetika deur kenners van die Max Planck-instituut vir die Wetenskap van Menslike Geskiedenis en die Leon Levy-ekspedisie.

Genoomwye data van Filistyne wat begrawe is aan die einde van die Brons- en die begin van die Ystertydperk van 3 600 tot 2 800 jaar gelede is onlangs vir die eerste keer ontleed.

Die oorgang van die Brons- na die Ystertydperk is gekenmerk deur groot kultuurskuiwe en migrasie in die Nabye Ooste en Middellandse See-gebied van sowat 1200 v.C. Stede is verwoes; ryksgebiede waarvan ons lankal vergeet het, het verdwyn en ’n chaotiese hoofstuk in antieke geskiedenis is ingelei.

Danksy nuwe tegnieke kon DNS nou vir die eerste keer uit die oorskot van 10 mense wat die hawestad Askelon begrawe is, onttrek word.

Volgens die navorsing wat beskryf is in die vakjoernaal Science Advances was Askelon een van die stede van die Filistyne. Die DNS van die ouer skelette was anders as dié in die era van die oorgang. Daar was dus ’n groot genetiese invloed van mense gedurende daardie tyd.

Opgrawings in 'n begraafplaas van Filistyne in die stad Askelon. Foto: Melissa Aja/Leon Levy Expedition

’n Diverse bevolking van Europa het na Askelon gegaan in dieselfde tyd toe die Filistyne daar aangekom het.

Van die ander Filistynse stede wat in die Bybel geïdentifiseer word, is Asdod, Gasa, Gat en Ekron. Daar is na hulle verwys as die “seemense” of “seevarende mense”.

’n Voorstelling van 'n Filistynse huis: Foto: Balage Balogh/Leon Levy Expedition

Die mense wat in die vroeë Ystertydperk in Askelon gewoon het, het ’n aansienlike hoeveelheid van hul genetiese samestelling ontvang van mense wat van Europa gemigreer het.

Dié samestelling is nie teenwoordig in diegene uit die Bronstydperk nie. Dit stem ooreen met die tyd toe die Filistyne in Askelon aangekom het.

Die genetiese impak wat hulle daar gehad het, het egter nie lank gehou nie. Twee eeue later kon dié biologiese veranderings nie meer in die DNS opgespoor word nie. Dit is “verdun” en die Europese nalatenskap is byna onopspoorbaar. Die plaaslike mense het weer geneties oorgeneem.

Daar is min in antieke tekste oor die Filistyne bekend. Daar word onder meer verwys na “Caphtor” die ou naam vir Kreta. En volgens die navorsing het Egiptoloë meer as ’n eeu gelede geskryf dat die Filistyne dieselfde mense is as ’n ander groep, die “Peleset”, wat hedendaagse Ciprus en Turkye probeer inval het.

Maar die genetiese veranderinge wat op die terrein gevind is, is volgens die kenners ’n bewys van die aankoms van die Filistyne in Askelon, en dit stem ooreen met die presies die regte tyd.

Die Filistyne was immigrante wat hul eie kulturele en politieke afdruk gelaat het. Hulle het tempels gebou en soos enige ander nasie geleef, en oorlog gemaak.

Elsabé Brits

Die werk by Askelon het reeds in 1985 begin en meer as 200 skelette is al in dié begraafplaas gevind. Baie mense is met juwele, wapens, bakkies, bekers, kleipotte en speserye begrawe. Kos, olies en wyn is by die dooies geplaas.

Die mense is een-een begrawe, saam, in tombes of veras. Die kinders is begrawe onder ’n “kombers” van potskerwe.

Varkbene wat op argeologiese terreine van die Filistyne in Israel gevind is, dateer ook uit die begin van die Ystertydperk.

Op ander terreine in Israel is varkbene baie skaars of nie teenwoordig nie. Toe dit getoets is, volgens vorige navoring in Scientific Advances, is gesien dié varke kom van Europa af, hulle het saam met die Filistyne, die seevaarders, op hul bote gereis.

Die Filistyne, insluitend Goliat en Delila, was net nog ’n groep mense uit ’n bepaalde histories tydperk. Hul kultuur was dalk anders as dié van die plaaslike mense, maar hulle was nie kultuurlose barbare nie.

  • Bronne: Science Advances: https://advances.sciencemag.org/content/5/7/eaax0061 en http://digashkelon.com/
  • Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.
Meer oor:  Elsabé Brits  |  Europa  |  Dns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.