Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Dodemars van een van die oudste diere

In ’n baie besonderse ontdekking is van die eerste klein diertjies en die spore wat hulle op aarde gelaat het, gevind. Wat dit veral besonders maak, is dat die spore in ’n soort dodemars gelaat is.

Die vroegste herkenbare diere is sowat 610 miljoen jaar oud en was sponse wat in die vlakwater van die oseane geleef het. Hulle was egter nie beweeglik nie. Navorsing wat pas in die vakjoernaal Nature bekend gemaak is, beskryf baie vroeë diertjies wat tydens die laat Ediacaran-tydperk, sowat 550 miljoen jaar gelede geleef het.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van hoe die wurmagtige dier van 550 miljoen jaar gelede sou gelyk het, saam met die gefossileerde spore wat hy net voor sy dood gemaak het. Voorstelling: Zhe Chen/Nanjing Institute of Geology and Paleontology

Die fossiele van die wurmagtige diertjies (Yilingia spiciformis) en die spore wat hulle gelaat het net voordat hulle dood is, is in rotslae naby die Chinese stad Yiling gevind. Die klein fossiele is gevind naas hul spore – die laaste wat hulle gelaat het voordat hulle dood is.

Altesame 35 fossiele is gekry, almal tussen 5 mm en 26 mm wyd, en 27 cm lank. Die wurmagtige diere het uit sowat 50 segmente bestaan en het nog geleef voordat die supervasteland Pangea op aarde bestaan het.

Die eerste diere wat kon beweeg, het reeds 550 miljoen jaar gelede bestaan. Hulle het spore op die aarde nagelaat en net soos al die diere ná hulle die vermoë gehad om die landskap uiteindelik te verander. (Dit was wel nie die eerste vorm van lewe nie – dié mikroskopiese lewe is ouer as 3,5 miljard jaar.)

Die wurms het hul liggaam oor die modderagtige terrein gesleep en elke nou en dan gerus. Die vonds van die fossiele én die gefossileerde spore wat saam bewaar is, is baie uniek omdat dit onweerlegbaar wys dié betrokke diere het die spore gemaak en hulle is binne die bepaalde konteks bewaar.

Volgens die kenners wys dit die wurms het van iets probeer wegbeweeg of na iets toe beweeg. Dit was ’n groot stap in die evolusie van beweging en van ander diere.

Hierna was daar ’n groot revolusie in die ontstaan van lewe: Die Kambriese ontloffing. Die kompleksiteit en talrykheid van lewe het vinnig toegeneem en binne net 65 miljoen jaar het allerhande interessante vorme van lewe ontwikkel. Die grootste en mees diverse groepe van diere het teen 500 miljoen jaar gelede begin ontwikkel, die artropode, wat die insekte, spinnekoppe, triboliete, skaaldiere en dies meer insluit. Hulle is vandag nog die grootste groep op aarde.

Die meeste kenners meen die groot en vinnige diversifikasie het gebeur toe meer suurstof beskikbaar geraak het. Die Kambriese ontploffing het gelei tot ekologiese sisteme wat ons vandag ken.

Een van die merkwaardigste fossielterreine is die “Burgess Shale” in Kanada waar die Kambriese ontploffing se oorblyfsels gesien kan word. Die fossiele het mooi bewaar gebly in kleisedimente, wat toe oorlê is met ’n tipe dik karbonaatsement omdat die seewater alkalies was. Dit het gekeer dat oksidante inkom en die organiese materiaal het dus versteen.

Die magdom diere wat daar ontdek is, neem allerhande vreemde vorms aan en sal nie uit plek lyk in ’n wetenskapfikasierolprent nie. Tog is hulle alles behalwe fiksie, hulle is die eerste diere van die planeet.

Die harde eksoskelet, gewrigte in die bene, saamgestelde oë, die antenne van insekte en die heel eerste kake het in dié tyd ontstaan. Dit was ook die begin van predasie. Die eerste diere op land was die amfibiese diere wat uit visagtiges met vier pote ontwikkel het. Die tetrapode het ná die Kambriese ontploffing in die Devoon ontstaan.

Op ’n dag het een van dié diere uit die see gekruip en op land begin loop. ’n Tetrapode. Vier vinne het vier ledemate geword. Hierdie oorgangsfossiel was Tiktaalik roseae van 375 miljoen jaar gelede.

Dié fossiel, wat in 2004 ontdek is, is die beste voorbeeld van oorgang van vis na ’n dier op land. Dit het gelyk na iets tussen ’n vis en krokodil en was tot 3 m lank. Hoewel dit skubbe gehad het en op sy vinne geloop en daarmee geswem het, het hy ook ’n mobiele nek wat kon draai, ’n ribbekas en primitiewe longe gehad, asook elmboë en gewrigte om homself te steun. En ’n bekken soos ’n vierpotige.

Hy en sy nasate was ons voorsate.

* Bronne: Nature en “Die Verhaal van Lewe & Die Omgewing – ‘n Afrikaperspektief; Jo van As et al”; The Burgess Shale ; Proceedings of the National Academy of Sciences (13 Jan 2014).

* Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Wetenskaprubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.