Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Eerste SKA-prototipe in Karoo gebou

’n Prototipe-skottelantenna van die Square Kilometre Array (SKA) word op die terrein gebou, waarna die eerste toetse gedoen sal word.

Die SKA-organisasie, wat uit 12 lande bestaan, gaan volstoom voort met fase 1 van die wêreld se volgende grootste en kragtigste radioteleskoop.

Die voetstuk van die SKA-fase-1 se eerste prototipe-skottelantenna word op die SKA-terrein in die Karoo staangemaak. Foto: Sarao

Die verskillende dele van die skottelantenna is in China gebou en na Suid-Afrika verskeep.

Die Suid-Afrikaanse Radio-astronomiese Sterrewag (Sarao) het reeds ver gevorder om die teleskoop staan te maak, waarna die toetse sal begin.

Die prototipe is 12 ton ligter as MeerKAT, sy voorloper, maar het ’n groter area om radiogolwe op te vang.

Die skottelantennas is 15 m x 18 m groot.

Die ingenieurs van die SKA maak gereed om die eerste SKA prototipe-skottelantenna se raamwerk op te lig. Foto: Sarao

Thomas Küsel, SKA-programbestuurder, het gesê die belangrikste toetse is vir die akkuraatheid van die skottels en die sensitiwiteit van die instrument.

“Daar is honderde vereistes waaraan voldoen moet word rakende funksionaliteit, uitvoering, veiligheid, radiofrekwensie-inmenging en die instandhouding.”

Wanneer die skottelantenna klaar op die SKA-terrein gebou is, moet dit nog geïntegreer word met die beheerstelsel. Dit word beplan vir einde September. Die ontvangers behoort teen einde November geïnstalleer te word, waarna die toetse – om te kyk of die hele instrument werk – van Januarie toe Mei aanstaande jaar gedoen sal word.

’n Internasionale span kenners hersien die ontwerp oor sowat ’n jaar. Daarna sal bouwerk aan SKA-1 in 2021 begin, het die Sarao gesê.

Die eerste SKA-skottelprototipe (SKA-P) staan by die werkwinkel van China Electronics Technology Group Corporation (CETC54) in Shijiazhuang, China. Foto: SKA-organisasie

Volgens Küsel en Willem Esterhuyse, wat MeerKAT se projekbestuurder was en nou ook by die SKA betrokke is, sal SKA-1 uit 130 skottelantennas bestaan.

Die meeste sal tussen die MeerKAT gebou word, maar sommige sal tot 120 km ver in spiraalarms opgerig word. Uiteindelik sal SKA-1 deel van MeerKAT word.

Daar is ook ’n verskil tussen wat MeerKAT oor die volgende vyf jaar sal doen en SKA-1, omdat die wetenskaplike teikens verskil. Daarom is daar ’n verskil in die ontvangers en digitaliseerders se verskillende radiofrekwensies. Tog doen dié instrumente dieselfde werk, net op verskillende maniere.

’n Werker van China Electronics Technology Group Corporation (CETC54 in Shijiazhuang, China, waar groot dele van die SKA-fase-1 se konstruksie plaasvind. Foto: SKA-organisasie

Vroeër vanjaar het CETC54 (China Electronics Technology Group Corporation) reeds die eerste skottelantenna, ook ’n prototipe in Shijiazhuang, China, in sy werkwinkel gebou. Meganiese toetse sal daar gedoen word.

Dié maatskappy vervaardig die hoofreflekteerder, subreflekteerder, raamwerk en voetstuk.

Die ontwerp van die skottel word gedoen deur MT Mechatronics, ’n Duitse maatskappy, en CETC54, het die SKA-organisasie by navraag gesê.

Werk word ook gedoen in Australië, Kanada, Frankryk, Italië, Swede en Brittanje.

Die prototipe-skottelantenna wat in Suid-Afrika gebou word, is deur die Max Planck-genootskap befonds.

Meer oor:  Ruimte  |  Wetenskap  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.