Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
‘Fossielvonds kan mense help verenig’
David Makhura, premier van Gauteng, kyk na ’n gietsel van ’n skedel wat as deel van die nuwe Homo naledi-fossielvonds gevind is. Proff. John Hawks (links) en Lee Berger (regs) het navorsing oor die vonds bekend gemaak. Foto: Murray Louw

Die nuwe fossielvonds van Wits is “uiters belangrik in die politieke klimaat in ’n wêreld waarin populistiese regse politiek aan die toeneem is”, omdat ons toekoms in ons gedeelde herkoms lê.

So het prof. Adam Habib, rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, by die aankondiging van die nuwe Homo naledi-fossielvonds gesê. Hy het bygevoeg dat die wêreld en regse politiek mense ál meer verdeel. En dat wetenskap en wat dit die mensdom uit ons gesamentlike herkoms leer, nodig is om mense vandag te verenig.

Fotograwe stoei vir plek om die nuwe Homo naledi-fossielvonds af te neem. Foto: Murray Louw

Hy het bygevoeg dat ’n inklusiewe toekoms in Suid-Afrika net moontlik is deur die vordering wat wetenskap en tegnologie bring.

David Makhura, premier van Gauteng, het bygevoeg die mens kom van Afrika en ook Suid-Afrika af. “Al is daar mense wat anders dink.”

Afrika se rykste fossielterrein het nog ’n versteekte grotkamer met 131 fossiele van Homo naledi opgelewer en die lang verwagte ouderdom van dié spesie is ook pas bekend gemaak.

Die Homo naledi-fossiele is tussen 335 000 en 236 000 jaar oud – jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë moderne mense in Suid-Afrika op die grasvlaktes gewandel het. Die nuwe vonds het ook een van die volledigste skelette van ’n menslike voorsaat (hominied) ingesluit.

Hulle het iets baie besonders met hul dooies gedoen, op twee plekke.
Prof. John Hawks

Dié aankondiging is Dinsdagoggend deur prof. Lee Berger, paleontoloog van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand, by die Maropeng-besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom gedoen. Altesame 52 wetenskaplikes aan 35 instansies het aan dié nuwe navorsing gewerk wat in die vaktydskrif eLife gepubliseer is.

Die Rising Star-grotstelsel waar die fossiele gevind is, is nou die grootste enkele fossielterrein in Afrika met die meeste individue wat nog op een plek gevind is – minstens 18, het Berger Maandagmiddag op ’n mediakonferensie aan ’n klein groepie uitgesoekte media gesê.

Dit kom nadat hy die eerste aankondiging oor Homo naledi in September 2015 gedoen het. Toe is 1 500 fossiele in die Dinaledi-grotkamer in die Rising Star-grotstelsel in die Wieg van die Mensdom in Gauteng gevind.

’n Tweede grotkamer, genaamd Lesedi (wat “lig” beteken in Sotho), is 145 m verder gevind, met onder meer die fossiele van ’n volwasse man genaamd Neo (wat “geskenk” in Sotho beteken), ’n kind van jonger as vyf jaar en nog ’n volwassene.

Die bene is “skitterend volledig”, sê dr. Peter Schmid, wat honderde ure daaraan bestee het om die skedel weer aanmekaar te sit.

David Makhura, premier van Gauteng, en prof. Adam Habib, rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, kyk na ’n gietsel van ’n skedel wat as deel van die nuwe Homo naledi-fossielvonds gevind is. Foto: Murray Louw

Prof. John Hawks, deel van die span, sê die fossiele is op dieselfde manier as dié in Dinaledi geplaas.

“Dit verleen gewig aan die hipotese dat hulle donker, afgeleë plekke gebruik het om hul dooies te plaas.”

Die bene van albei kamers is byna identies. Hy het op die bekendstelling gesê daar is en bly mense wat nie aanvaar dat moderne mense nie uniek ontwikkel het nie. “Hulle gaan nog minder van die aankondiging hou. Dit was nie net die moderne mens met sy groot brein wat spesiaal was nie,” het hy bygevoeg.

Berger sê ook dat hulle hul dooies op ’n baie unieke manier daar gaan plaas het. Daar is geen bewyse van trauma, siekte, roofdiere of enige uitwissingsgebeurtenis nie.

Dit verleen gewig aan die hipotese dat hulle donker, afgeleë plekke gebruik het om hul dooies te plaas.
Prof. John Hawks

“Hulle het iets baie besonders met hul dooies gedoen, op twee plekke.”

Volgens die navorsers is die ouderdom verrassend jonk en ses onafhanklike tegnieke (met dubbelblinding) en 19 mense is gebruik om die datering te doen. Dit is moontlik dat Homo naledi vir baie lank – soveel as twee miljoen jaar – saam met ander spesies in Afrika oorleef het. Hawks het verduidelik omdat die spesie ’n mengsel van primitiewe en moderner kenmerke het, het hulle waarskynlik baie lank gelede al ontwikkel.

Die ouderdom van die fossiele in die Dinaledi-grotkamer beteken egter dat moderne mense ontstaan het toe Homo naledi ook daar was. Ons was nie alleen in Afrika nie.

Berger sê nog ’n vraag is: Wie het die klipgereedskap gemaak wat so wyd hier voorkom?

“Ons kan nie meer aanneem ons weet wie dit was nie – en indien daar een spesie was wat die wêreld met moderne mense gedeel het, was daar waarskynlik ander. Ons moet hulle net opspoor.”

Meer oor:  Lee Berger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.