Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Gaap gerus, dit koel jou brein af . . .

Hoe langer die gaap hoe groter is die brein, maar wag, dit het niks met intelligensie te doen nie.

Die lengte van die gaap hang af van die grootte van die brein.

’n Groot studie by ’n dieretuin het ’n interessante ontdekking opgelewer: Werweldiere met ’n groter brein en meer neurone is geneig om langer te gaap.

Volgens die wetenskaptydskrif Science Alert het navorsers data versamel van 1 291 kere wat diere gaap, ook op aanlyn video’s. Dit het ingesluit 55 soogdier- en 46 voëlspesies.

Hulle het bevind daar is ’n verband tussen hoe lank ’n dier gaap en die grootte van sy brein.

Die navorser dr. Jorg Massen van die Universiteit van Utrecht in Nederland het aan Science Alert gesê hulle het met kameras by die diere se hokke gewag totdat hulle gaap. En ja, van die navorsers het later self gegaap.

Die wag was die moeite werd, want die navorsing kan nou uiteindelik ’n paar leemtes in die kennis oor gaap vul, insluitende waarom dit in die eerste plek gebeur en waarom diere soos kameelperde glad nie gaap nie.

“Hoewel die patroon van gaap konstant is, het die duur daarvan saam met die breingrootte en neurongetalle ontwikkel,” skryf die navorsers in hul artikel.

Hulle reken die evolusionêre oorsprong daarvan kan herlei word tot minstens ’n gemeenskaplike voorouer van voëls en soogdiere.

Die doel van die navorsing was om ’n hipotese te toets wat in 2007 deur een van die navorsers voorgestel is: Dat diere gaap om die brein af te koel. Dit volg dus dat groter breine langer ’n langer gaap nodig het om behoorlik af te koel. Die navorsers meen hul bevinding dat soogdiere langer as voëls gaap, steun dié afleiding.

Voëls het ’n hoër kerntemperatuur as soogdiere. Dit beteken ’n korter gaap is genoeg om koeler lug in te laat.

Soortgelyke gevolgtrekkings is bereik in ’n 2016-studie waarby mense betrek is, maar in daardie geval is slegs 205 gape en 24 spesies gemeet. Toe is bevind dat muise die kortste gaap (0,8 sekondes) en mense, teen 6,5 sekondes, die langste. Mense gaap gewoonlik tussen vyf en tien keer per dag.

“Deur gelyktydige inaseming van koel lug en die strek van die spiere om die mondholtes, verhoog die gaap die vloei van koeler bloed na die brein en het dit dus ’n termoregulerende funksie,” verduidelik dr. Andrew Gallup, ’n dieregedragskenner aan die Staatsuniversiteit van New York.

Die navorsers sê diere wat langer gaap, is nie noodwendig slimmer nie. Dit dui bloot op die grootte van die brein. Een hipotese oor waarom gaap aansteeklik is, is dat dit ’n sosiale funksie dien om ’n groep in dieselfde gemoedstoestand te kry en miskien slaappatrone te sinchroniseer.

“Om video-opnames van soveel gapende diere te kry verg nogal geduld, en die kodering van al die gegaap het my immuun gemaak vir die aansteeklikheid van gaap,” sê die bioloog Margarita Hartlieb van die Universiteit van Wene in Oostenryk.) Bronne: Communications Biology, Science Alert

Meer oor:  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.