Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Groot Griep van 1918 het wêreld op sy knieë gedwing

Net meer as 100 jaar gelede het die wêreld ook teen ’n pandemie geveg – twee jaar lank.

Dit was onder ander omstandighede, ’n ander soort virus én ’n tweede en derde dodelike golf het die wêreld getref.

Hoewel die Groot Griep nie regstreeks vergelyk kan word met Covid-19 nie, is daar interessante ooreenkomste en verskille. Albei is die gevolg van virusse, maar hulle verskil in aard en hoe hulle presenteer. En, die vinnige manier hoe wetenskap en geneeskunde nou werk om binne maande die raaisels op te los, is ongekend in die geskiedenis.

Die Groot Griep van 1918 het aanvanklik soos seisoenale griep gelyk, maar dit was nie. Medici het nie eens geweet dit word deur ’n virus veroorsaak nie – dié is eers in die 1930’s ontdek met beter mikroskope.

Die raaisel oor wat presies in 1918-’19 gebeur het, is eers in hierdie eeu opgelos. Die virus kon weer bestudeer word ná die opgrawe van die oorskot van mense wat in yskoue plekke begrawe is en wie se weefsel dus bewaar is. Dit het aan die lig gebring dat dit ’n tipiese A-stamvirus (H1N1) is wat van voëls na mense gespring het.

Ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus-tipe-2 (Ears-CoV-2), wat Covid-19 veroorsaak, is ’n ander tipe virus. Dit veroorsaak ook nie seisoenale griep nie en dié een muteer gelukkig ook nie so vinnig nie.

Een van die vele veldhospitale tydens die Groot Griep. Dié een is in Kansas in Amerika opgerig. Foto: Wiki/National Museum of Health and Medicine

Die eerste golf van die Groot Griep het die Noordelike Halfrond van Maart tot Mei 1918 getref. Dit was matig, maar hoogs aansteeklik. Die griep het nie in Spanje ontstaan nie, maar is na dié land genoem omdat Spanje neutraal was in die Eerste Wêreldoorlog en Spaanse koerante dus sonder sensuur verslag kon doen.

Die eerste berigte oor die Groot Griep het dus uit Spanje gekom.

Baie lande het die nuus oor die griep onderdruk, en dit het aanleiding tot die vinnige verspreiding en groot lewensverlies gegee. Dit het vinnig onder die soldate versprei.

Toe doen die virus wat ’n tipiese griepvirus doen – hy muteer om makliker te kan oorleef. En hy raak dodelik. Dit is in dié pandemie dat die meeste mense nóg in Suid-Afrika se geskiedenis binne die kort tydperk van ses weke dood is – 350 000 mense.

Tot vier miljoen van die land se sewe miljoen inwoners in daardie stadium het siek geword. Dit kom daarop neer dat 5% van die bevolking dood is en na die beste skatting het sowat 60% siek geword.

Die tweede, dodelike golf het aan Swart Oktober in 1918 sy naam gegee. Soos die troepe teruggekeer het van die oorlog, het hulle van die hawens al langs die spoorlyn waar hulle gereis en afgeklim het die virus versprei.

Die meerderheid van mense wat dood is, was tussen die ouderdom van 16 en 40 jaar oud. Dit is vreemd vir ’n griepvirus, wat gewoonlik die jongstes en oudstes in ’n bevolking eis.

In 2005 is dié raaisel opgelos toe die virus se genoom gekarteer is. Die jonger mense se sterker immuniteitstelsel het noodlottig oorreageer en immuniteitselle het organe aangetas. Dit staan bekend as ’n sitokienstorm.

Maar hoekom is 50 miljoen tot 100 miljoen mense dood? Dat 500 miljoen siek geword het tydens ’n oorlog en die daaropvolgende demobilisering, kan ’n mens verstaan. Daar is talle redes. Die oorlog het die hele wêreld met te min dokters en verpleegsters gelaat, omdat hulle meestal in Europa was. Dié griep het mense binne dae doodgemaak. Buiten dat dit so dodelik was, kan die geneeskunde van 1918 nie naastenby vergelyk word met wat ons vandag het nie. Geen waakeenhede nie, geen ventilators, geen ekstra broodnodige suurstof nie. Epidemiologie het nie bestaan nie. Daar was nie toetse nie. Van fisieke afstand was daar nie sprake nie, en higiëne het sedertdien aansienlik verbeter.

Omdat hulle nie geweet het dis ’n virus nie, het hulle alle aandag gevestig op die bakterie wat hulle gedink het die oorsaak is, ene Pfeiffer se basillus. Wanneer jy die verkeerde vyand bestry, met die verkeerde metodes, gaan jy verloor.

Tans doen foto’s op sosiale media die ronde van mense wat in die Groot Griep maskers gedra het. Dit is veral in Kanada en Amerika afgedwing, maar baie mense het geweier om dit te dra. Die gaas waarvan dit gemaak is, was ook nie voldoende nie.

Elsabe Brits

Die siekte is bestry met knoffel, suurlemoene, kinien, brandewyn, aspirien en sogenaamde “pienk pille”. Daar is onder meer besluit om skole, winkels, poskantore en teaters te sluit en sommige het siek mense huis toe gestuur, maar nie oral nie. Van ’n tipe staat van inperking, wat soos nou in tientalle lande geld, was daar nie sprake nie – dit het beslis die sterftesyfer die hoogte laat inskiet. Baie meer mense moes gaan werk, want hulle kon nie van die huis af werk soos tans nie.

Die derde golf het in November 1918 gekom, en die sterftesyfer was net so hoog soos in die tweede. Teen dié tyd was elke land oorweldig. Daar was veldhospitale, maar baie mense, hele gesinne, is in hul huise dood. Al was die gloeilamp reeds daar, beteken dit nie mense het elektrisiteit of lopende water in hul huise gehad nie. Dit was ’n ander era.

Vandag is die wêreld veel meer georganiseerd, daar is aansienlik meer samewerking. Ons maak nie meer staat op telegramme en knoffel nie. Dit is weer ’n era vir die geskiedenisboeke, maar minder sal doodgaan danksy wetenskap. Hou moed.

* Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Elsabe Brits  |  Inperking  |  Groot Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.