Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Grootste stofwolk nóg en besoeker uit die ruimte

’n Reuse-asteroïed van 150 km in deursnee het 466 miljoen jaar gelede tussen Jupiter en Mars verkrummel in ’n ontploffing wat epies moes gewees het.

Dit het die hele binneste sonnestelsel met soveel stof gevul dat dit twee miljoen jaar geneem het om op te klaar. Die gebeurtenis het die Aarde se klimaat verander en uiteindelik ’n invloed op die lewe op die planeet gehad.

Kenners het lank kopgekrap oor hoekom die Aarde 466 miljoen jaar gelede op plekke gevries het. Die oseane het by die pole gevries, die temperatuur het verander en die teelaarde vir nuwe spesies is geskep.

Die gevolge hiervan is vandeesweek in die vakjoernaal Science Advances gepubliseer.

Dié asteroïed was gróót – in vergelyking met die een wat sowat 65 miljoen jaar gelede die einde van die dinosourusse beteken het – wat 10 km in deursnee was.

Hoewel die betrokke een in die ruimte opgebreek het, het die stofdeeltjies en stukkies die sonlig na die Aarde gedeeltelik verskans en ’n ystydperk het begin.

Destyds was die planeet se klimaat oor die hele Aarde min of meer dieselfde – maar daarna het dit verander na tropies by die ewenaar en ys by die pole.

Dit lyk dalk nie na veel nie, maar in die middel is ’n klein stukkie meteoriet wat in die rots vassit. Dit is afkomstig van ’n asteroïed wat 466 miljoen jaar gelede opgebreek het en die stof en stukkies op die Aarde laat reën het. Dit het die planeet se klimaat verander. Bo-aan is die fossiel van ’n pylinkvis-agtige dier. Foto: Field Museum/John Weinstein

Hierdie gebeurtenis het ’n hoë diversiteit van lewe laat ontwikkel, want die ontploffing van die asteroïed het ’n biologiese aanpassing teweeggebring.

Een van die kenners het dit vergelyk met ’n stofsuiersak wat in die middel van jou sitkamer bars – net op ’n baie groter skaal.

Die kenners het die buiteruimtelike stof opgespoor op die versteende oerseebodem wat vandag in die suide van Swede is. Vandag is dit nie meer op die seebodem nie. Die stof is verryk met helium toe dit onderweg na die Aarde deur die sonwind gebombardeer is. Die stof het die Aarde aansienlik afgekoel – tot so lank as twee miljoen jaar. Dit was dus nie skielik nie, maar geleidelik – en dit het die lewe op die planeet genoeg tyd gegee om aan te pas en nie skielik te sterf nie.

Klein stukkies stof is in die sediment gevind nadat die ou rots met spesifieke suur behandel is. Die suur vreet die rots weg en los die ruimtestof, wat daarna chemies ontleed is. Die isotope hiervan is anders as wat normaalweg op die Aarde gevind word. Helium het gewoonlik twee protons, twee neutrons en twee elektrons, maar dit wat die son uitskiet, het een neutron minder. Asteroïede bevat ook dikwels skaars metale.

Daar is altyd stofdeeltjies wat uit die ruimte op die Aarde val, soveel as 40 000 ton per jaar. Dit is afkomstig van komete, asteroïede en vulkane. So ons is nie so verwyderd van die ruimte nie want ruimtestof reën op ons.

Wat 466 miljoen jaar gelede voorgekom het, is egter tienduisende keer meer – miljoene vragmotors vol sand.

Nuwe komeet kom van ver

Die ontdekking van ’n nuwe komeet is ook die week aangekondig. Dit is veral uniek omdat dit van buite die sonnestelsel afkomstig is. Dit is nog maar die tweede een wat so ver gereis het en deur die mens opgestoor is. Die vorige was Oumuamau, wat in Oktober 2017 bevestig is.

Elsabé Brits

Dit was nie ’n sterrekundige wat die nuwe komeet ontdek het nie, maar ’n oogkundige, Gennadi Borisof. Die komeet (C/2019 Q4) heet nou Borisof.

Die komeet beweeg nog in die rigting van die son en volgens Nasa sal dit verder as die wentelbaan van Mars bly. Dit sal nooit nader as 300 miljoen km van die Aarde af wees nie. Wat ’n jammerte.

Dit is tans 420 miljoen km van die son en op 8 Desember vanjaar sal die komeet sy naaste punt aan ons bereik.

Dit beweeg teen 150 000 km/h. Dit is juis dié spoed wat bewys dat hy van buite die sonnestelsel kom en net ’n besoeker is. Dit sal na die interstellêre ruimte terugkeer.

Van die groot teleskope het reeds dowwe foto’s daarvan geneem.

Die groot vraag is of ons dit in Desember sal kan sien. Met ’n redelike amateurteleskoop (20 cm of groter) sal ’n mens dit tot in April 2020 kan sien, sê die kenners. Met die blote oog, nee.

Deur groot teleskope sal dit mooi gesien kan word en die foto’s sal beslis gedeel word. Dit is iets om na uit te sien – ’n besoeker van baie ver.

•Bronne: Nasa; Science Advances https://advances.sciencemag.org/content/5/9/eaax4184

•Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Ruimte  |  Hoe Werk Dit?  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.