Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Grys oornag? Só werk dit

Ons almal ken die verhale van mense wat oornag grys geword het, meestal weens trauma en erge stres. Kenners het nou vasgestel hoe dit gebeur – darem nie só gou nie, maar tog, dat mense sommer die kleur in hulle hare binne maande kan verloor.

Dié navorsing is vandeesweek in die vaktydskrif Nature gepubliseer deur ’n span kundiges aan die Harvard Stem Cell Institute. ’n Tipe senuwee wat betrokke is by die veg-en-vlug-reaksie kan permanente skade veroorsaak aan die stamselle in ’n mens se haarfollikels wat kleurpigmente regenereer.

Daar was nog altyd anekdotes – die tipies stories wat vertel word, maar nié deur die wetenskap bewys is nie – dat uiterse stres en trauma ’n mens grys maak. Tot nou toe. Soveel so, dat die vinnige, skielike grysword selfs ’n naam gekry het: die Marie Antoinette-sindroom.

Om stadig grys te word soos die jare aanstap, is ’n natuurlike deel van veroudering. As jy wil weet hoe jy gaan grys word – of verouder – kyk na jou ma en pa en oumas en oupas.

Marie Antoinette
’n Portret van Marie Antoinette wat Jean-Baptiste André Gautier-Dagoty in 1775 geskilder het, toe sy 25 jaar oud was. Hier gesien met ’n pruik – sy het ook “oornag” grys geword. Foto: Wiki Commons

Die Franse koningin Marie Antoinette was eintlik van Habsburgse afkoms en was maar 15 jaar oud toe sy met Louis XVI, die Franse troonopvolger, getroud is. (Sy het terloops nooit gesê die armes moet koek eet as hulle nie brood het nie.)

Nadat sy, haar man en kinders in 1791 probeer vlug het, was hulle skaars 24 uur op vrye voet toe hulle weer gevang is. Haar hoofhofdame, Madame Campan, het geskryf Marie Antoinette het in die nag van 20 tot 21 Junie 1791, toe hulle vlugtend was, “so wit geword asof sy ’n 70-jarige ou vrou is”. Sy was 35 en is twee jaar later dood toe haar kop met ’n guillotine afgekap is.

Daar is geskryf dieselfde het met sir Thomas More (1478-1535) gebeur toe hy in die Tower of London sy dood afgewag het. Dit was nadat hy as raadgewer met koning Hendrik VIII hoofsaaklik oor geloof kop gestamp het. Later is die verskynsel ook ná die twee wêreldoorloë aangemeld.

Elsabe Brits

Volgens die navorsing is daar eers gedink stres veroorsaak ’n immuniteitsaanval op die selle wat kleur aan hare gee. Maar toe muise, wat nie immuniteitselle gehad het nie, se hare steeds grys geword het, is daar gefokus op kortisol. Dit is die hormoon wat nou met stres verbind word – hoe meer daarvan in die bloed, hoe meer ervaar jy stres.

Verdere ondersoek het hulle gelei na die simpatiese senuweestelsel, wat ook verantwoordelik is vir die liggaam se veg-en-vlug-reaksie. Simpatiese senuwees vertak uit na elke haarfollikel in die vel. Stres veroorsaak dat die senuwees die chemiese stof noradrenalien afskei, wat weer opgeneem word deur die nabye stamselle. Hulle taak is om pigment te regenereer.

Hou in gedagte dat die gemiddelde mens 100 000 haarfollikels op sy kop het. Watter haarkleur jy sal hê, is geneties, maar die selle wat dit uitvoer, is die melanosiete wat weer verskillende kombinasies van lig-absorberende melanien-pigmente produseer – dít wat aan hare hul kleur gee. Wanneer jou hare heeltemal wit is, is daar nie meer melanien oor nie.

In die derduisende follikels is daar sekere stamselle wat as ’n opgaarplek dien vir selle wat melanien vervaardig. Wanneer ou hare uitval en nuwes groei, sal van die stamselle sorg dat dié hare ook weer kleur het.

Die kenners het bevind dat die afskeiding van noradrenalien van die simpatiese senuwees veroorsaak dat die betrokke stamselle heeltemal ooraktief raak. Hulle vermeerder vinnig en dan verander hulle al die selle wat betrokke is by pigment. Die skade is permament.

Akute stres, wat daar is om ’n mens te beskerm teen gevaar, kan dus dié negatiewe reaksie hê. Maar as dit so erg is vir jou hare, wat van die res? Wat as stres ook op ander plekke in ’n mens se liggaam negatief inwerk via senuwees op stamselle – veral op die organe en weefsel?

Om dit te ontrafel, sal baie tyd neem. Die evolusionêre respons wat ons en alle diere het om vinnig te reageer, haal ons egter toenemend in. Die chroniese stres van die moderne lewe en hoe ons liggame ontwikkel het, is al hoe meer uit tred.


Meer oor:  Elsabe Brits  |  Rubriek  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.