Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Hawking se laaste bydrae tot kosmologie gepubliseer

Die ontslape fisikus Stephen Hawking se laaste wetenskaplike referaat is gepubliseer deur fisici wat saam met hom aan die raaisels van gravitasiekolke gewerk het, berig The Guardian.

Hawking, wat weens motorneuronsiekte aan ’n rolstoel gekluister was, het die grootste gedeelte van sy loopbaan daaraan gewy om uit te vind wat gebeur met die inligting van voorwerpe wanneer dit in ’n gravitasiekolk beland.

Stephen Hawking Foto: Argief

Die vraag staan in die teoretiese fisika as die “inligtingsparadoks” bekend.

Volgens die koerant is Hawking se navorsing hieroor in die dae voor sy dood in Maart vanjaar afgehandel. Dit is nou deur sy kollegas aan die universiteite van Cambridge en Harvard opgeteken en aanlyn gepubliseer.

Prof. Malcolm Perry, verbonde aan Cambridge, was een van die medeskrywers aan die laaste Hawking-referaat met die titel “Gravistasiekolk-entropie en sagte hare”.

Perry het aan The Guardian gesê die inligtingsparadoks was meer as 40 jaar lank die middelpunt van Hawking se navorsing.

Die oorsprong van die raaisel kan teruggevoer word na Albert Einstein se algemene relatiwiteitsteorie wat in 1915 gepubliseer is. Dit beskryf hoe swaartekrag voortspruit uit materie se vermoë om ruimtetyd krom te trek en dus, waarom die planete om die son wentel. Einstein se teorie het ook belangrike voorspellings oor gravitasiekolke gemaak, vernaam dat ’n gravitasiekolk deur net drie eienskappe gedefinieer kan word: massa, lading en tolling.

Byna 60 jaar later het Hawking nog ’n toevoeging daartoe gemaak. Hy het geredeneer dat gravitasiekolke ook ’n temperatuur het. En omdat warm voorwerpe hul hitte in die ruimte verloor, is die uiteindelike lot van ’n gravitasiekolk om eenvoudig te verdamp en op te hou bestaan.

Maar dit skep ’n probleem: Ingevolge die wette van kwantummeganika gaan inligting nooit verlore nie. Wat gebeur dus met al die inligting wat in ’n voorwerp is – byvoorbeeld die aard van ’n maan se atome – wanneer die maan in ’n gravitasiekolk beland?

Hawking en sy kollegas wys in die jongste referaat hoe sekere inligting ten minste bewaar kan bly. Beland ’n voorwerp in ’n gravitasiekolk, sal die gravitasiekolk se temperatuur verander. So ook sal ’n eienskap bekend as entropie verander. Dit is die maatstaf van ’n voorwerp se interne disorganisasie of wanorde wat toeneem hoe warmer dit raak.

Die entropie kan aan die hand van dié ‘sagte hare’ uitgemaak word.

’n Gravitasiekolk se entropie kan aangeteken word deur die fotone (lig) wat so ’n kolk omring op die punt waarop die lig nie meer van die intense aantrekkingskrag kan ontsnap nie (ook bekend as die “event horizon”) Fisici noem dié glans van fotone “sagte hare”.

“Die entropie kan aan die hand van dié ‘sagte hare’ uitgemaak word,” het Perry aan The Guardian gesê.

Hy sê hoewel dit nie die inligtingsparadoks afhandel nie, is dit ’n stap nader aan ’n antwoord.

Meer oor:  Stephen Hawking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.