Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Het SA die bewyse vir oerklimaatsverandering?

Die klimaat op aarde het 12 800 jaar gelede skielik verkoel, veral in die Noordelike Halfrond, vir ’n betreklike kort tydperk, maar dit was lank genoeg dat van die grootste diere soos die wollerige mammoet, reuse-bere en groot luidiere uitgesterf het.

’n Span Suid-Afrikaanse kenners het nou vir die eerste keer ’n hipotese daargestel dat daar ’n plaaslike verbintenis is met dié gebeure, wat destyds wêreldwyd ’n invloed gehad het.

Sabeltandkatte en mammoete in ’n prehistoriese landskap. Het ’n meteoriet, waarvan die bewyse in Suid-Afrika gevind is, bygedra tot die verandering in klimaat wat die einde van vele van dié megafauna beteken het? Voorstelling: Mauricio Anton

Die span is gelei deur prof. Francis Thackeray van die Evolusionêre Studies-instituut van die Universiteit aan die Witwatersrand, bygestaan deur die navorser Philip Pieterse aan die Universiteit van Johannesburg en prof. Louis Scott aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hulle werk is pas in die vaktydskrif Palaeontologia Africana gepubliseer en dié gebeurtenis het nou vir die eerste keer ’n verbintenis met Afrika. Daar word al vir dekades gedebatteer oor die oorsaak van die verkoeling, bekend as die “Younger Dryas”, en daar is nog nie konsensus bereik nie.

Volgens die studie het ’n meteoriet die aarde destyds getref. Bykomende bewyse is nou daarvoor op ’n argeologiese terrein by Wonderkrater in Limpopo gevind. Wonderkrater bestaan uit veengrond (moerasturf) en is een van die beste rekords van klimaat wat ons in Suid-Afrika het.

Die sedimente, tot 8 m dik op plekke, wat saam met fonteinwater daarin neergelê is, bevat ook stuifmeel wat ’n mens baie van die paleolandskap kan leer. Wanneer dit geanaliseer word, kan omgewingsveranderings oor ’n lang tydperk daarin gesien word. Die veengrond strek sover terug as 30 000 jaar gelede.

Wat die span gevind het, is ’n “platinum-piek” toe hulle ’n kernmonster van die veengrond geneem het. Die stuifmeel het ook gewys daar was ’n verlaging in temperatuur. Meteoriete is ryk aan platinum en kon die stof wat oor die aarde neergesak het, veroorsaak het dat die temperatuur geval het?

Dit is die eerste bewyse van ’n “platinum-piek” in Afrika wat net voor die klimaatsverandering gevind is. Daar is egter van dieselfde episode sulke stygings in platinum gevind in Groenland, Eurasië, Noord-Amerika, Mexico en Chili.

Die span glo dit wat hulle gevind het, is deel van die bewyse dat ’n meteoriet die aarde 12 800 jaar gelede getref het en ten minste gedeeltelik verantwoordelik was vir die “Younger Dryas”. Dié was van korte duur – van 12 800 tot 11 500 jaar gelede, nie lank as dit met vorige soortgelyke gebeure vergelyk word nie.

Die naam van die episode ontleen hom aan ’n blom, Dryas octopetala, wat destyds wyd in Europa voorgekom het en koue kan verduur.

Gedurende dié klimaatsverandering het baie van die megafauna uitgesterf, die groot enigmatiese diere. Die mastodon, mammoet, sabeltandkatte, reuse-bere, ’n groot Amerikaanse buffel en meer. Daar is voorheen al geredeneer dat mense ook verantwoordelik was vir die uitwissing van dié diere.

Die eerste mense wat wyd oor Noord-Amerika migreer het vanaf 16 000 jaar gelede en ’n blywende spoor gelaat het, is die Clovis. Dit word gesien as die wieg van die inheemse Amerikaanse kultuur, hoewel daar al mense voor hulle in Amerika was.

Sommige kenners dink die verandering in die klimaat kon ook die Clovis benadeel het, asook dat hulle daarmee saam verantwoordelik was vir die uitwissing van Amerika se megafauna.

Vandag is 80% van inheemse Amerikaners nasate van die Clovis – al het hul kultuur verdwyn, het hul gene voortgeleef. Binne ’n klompie duisend jaar het hul nasate tot in Suid-Amerika gevorder. Navorsing het gewys die mense het in sarsies migreer, elke keer enkele duisende jare ná mekaar van Noord na Suid.

Elsabé Brits

Hulle het aanvanklik die Beringstraat vanaf Siberië oorgesteek en het ’n nuwe vasteland begin bewoon. Daar is vir die eerste keer in die moderne tydperk op hul terreine afgekom in die 1930’s toe van hulle gereedskap gevind is.

Die oudste bekende graf in Amerika is dié van ’n babaseuntjie van 12 600 jaar gelede, een van die Clovismense. Hy is in Montana begrawe, toegedraai en sy lyf was gesmeer met rooi oker. Op die terrein is meer as 100 stukke klipgereedskap, eie aan die Clovis, ook gevind.

Sy genoom is in 2014 gekarteer. Die DNS het bewys die eerste mense wat na Amerika gegaan het, het uiteindelik in twee groepe verdeel. Een groep is die voorsate van die inheemse Amerikaners wat in Kanada leef en die ander is die voorsate van byna al die inheemse mense verder suid in die Amerikas.

Hierdie mense sou as ’n meteoriet die aarde getref het dit gesien en ervaar het. Saam met al die ander mense wat toe geleef het. Dit sou een van die weinige kere gewees het dat ’n impak wat ’n grootskaalse verandering gebring het deur moderne mense beleef is.

Bronne: Palaeontologia Africana; Wits en Cell; Nature

Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.