Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Hoe werk dit? Só lyk die Denisovans

Danksy inligting uit DNS kon kenners onlangs vir die mense bekend as die Denisovans ’n gesig gee, net soos hulle vroeër dié antieke spesie net deur middel van genetika kon beskryf.

Die fossiele van Denisovans is skaars. Mense het in Eurasië met die Neanderdalmense gekruisteel, met die Denisovans, wat ook aan die genus Homo behoort, en laasgenoemde twee het met mekaar gekruisteel.

Die Denisovans het minstens 130 000 jaar lank in een gebied in Siberië gewoon, asook in die Himalaja, waar nog ’n fossiel onlangs gekry is.

Mense wat van Europese of Asiese herkoms is, het tussen 1% en 6% gene van Neanderdalmense en/of van Denisovans. Sou ’n mens 100 000 jaar teruggaan in tyd, sou jy minstens die drie groepe in Eurasië vind.

Wat hulle van mekaar gedink het en hoe hulle mekaar as dieselfde of anders ervaar het, sal seker vir ewig antropologiese raaiskote bly. Wat bekend is, is dat hulle met mekaar in aanraking was.

Die voorstelling is van ’n tienerjarige Denisovan. Dit is een van die groepe hominiede wat saam met moderne mense en Neanderdalmense in Eurasië voorgekom het. Die voorlopige gelykenis is gemaak uit inligting van antieke DNS. Voorstelling: Maayan Harel

Deur te kyk na DNS-metilasie, chemiese veranderings, op die Denisovans se genoom kon afgelei word hoe hulle gelyk het. So kon kenners die eerste rekonstruksie van ’n gesig maak wat onlangs in die vaktydskrif Cell bekend gemaak is.

DNS-metilasie het ’n effek op ’n geen se aktiwiteit, maar nie op die onderliggende geenreeks nie. Hulle het dus op gene gefokus wat waarskynliker is om proteïen te vervaardig. En toe kyk hulle na areas wat hulle weet te doen het met fisieke kenmerke.

Die kenners het eers die DNS-metilasie-patrone tussen die drie groepe vergelyk om areas op die genoom te vind wat chemies anders uitgedruk word. Daarna het hulle gesoek na wat die verskille op anatomiese vlak beteken, gegrond op dit wat reeds oor mense bekend is.

Om die metode te toets het hulle dit toegepas op twee spesies waarvan die anatomie goed bekend is: die sjimpansee en die Neanderdalmens. 85% wat hulle gevind het, volgens die DNS-metilasie-prosedure, was korrek, toe hulle dié kenmerke in die toets herbou het.

Elsabé Brits

Altesame 56 anatomiese kenmerke waarin Denisovans verskil van moderne en Neanderdalmense kon geëien word, waarvan 34 aan die skedel is. Hul skedel was wyer, met ’n langer tandbrug en nie veel van ’n ken nie. Die skedel is ook effens “platter” as dié van hedendaagse mense.

Maar hulle deel die wyer ribbekas van Neanderdalmense en het langer, nouer vingers, soos dié van mense gehad. Hul tande was ook groter met dik emalje daarop.

Die werk het drie jaar geneem om te voltooi. Kort nadat hulle klaar was, is daar ’n kakebeen van ’n Denisovan gevind en toe hulle dié vergelyk met hul metode was hulle beskrywing korrek, al het hulle nie die kakebeen gesien nie. Vandaar die baie klein ken.

Oor bekende kenmerke soos haar-, vel-, en oogkleur was hulle meer as 80% seker. Vir nou is dit eers ’n voorlopige beskrywing, hoewel ’n interessante een. Daar sal nog fossiele gevind word en meer kennis sal ingewin word.

Die Denisovans en Neanderdalmense het dieselfde gemeenskaplike voorsaat gehad, nie te lank gelede nie, dalk sowat 440 000 jaar gelede. Voor dit het ons en dié twee spesies ook ’n gemeenskaplike voorsaat gehad, wat natuurlik ouer was.

Die Denisovans is eers in 2012 ontdek. Wie weet, dalk word nog ’n spesie gevind? En nog een.

En ding is seker – die mens is nie uniek nie, net evolusionêr gelukkig.

• Bron: Cell 

• Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.