Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Hoekom het die mensdom offers gemaak?

’n Menigte kulture het mense geoffer om hul politieke beheer te verseker en die sosiale stelsel te stabiliseer, maar daar was ook ’n skakel tussen geloof en die ontwikkeling van moderne hiërargiese gemeenskappe.

Kinders en lamas wat in 1450 geoffer is in Peru is saam begrawe. Foto: John Verano/Plos One

Die jongste vonds van só ’n offer is dié week in die vakjoernaal Plos One bekend gemaak. Bewyse hiervan is gevind in die stad Chan Chan van die Chimú-beskawing aan die Peruaanse kus. Die terrein wat 700 m² beslaan, dateer uit 1450.

Om mense te offer om die gode gelukkig te hou of om hulle te kalmeer het voorgekom in meer beskawings as wat opgenoem kan word. Dit was beskou as iets wat terwille van die gemeenskap gedoen moes word.

Offerandes het egter meer as dit ingehou.

Navorsing het gewys dié wat in beheer was, het uiteindelik veroorsaak dat offerandes bygedra het tot die samelewing wat ons vandag het.

Gemeenskappe het toenemend minder egalisties geword en ’n streng klassestelsel het ontstaan. Die rituele offer van mense het maghebbers in hul posisies gehou en die res op hul plek.

In samelewings waar mense meer gelyk was, was sulke offers skaars, maar dit het baie in beskawings met streng klassestelsels voorgekom. Sodra dit eers posgevat het, het die klassestelsel en die gepaardgaande mag gebly.

Die slagoffers kon nie terugveg nie, maar is geëlimineer. Die blaam is nie op diegene in magsposisies geplaas nie, maar op die bonatuurlike – die geloof. Dit was nie die koning wat dit vereis nie, maar die gode.

Dit was een van die maniere om mag deur middel van geloof te behou, en dit was ’n baie kragtige manier. Geloof was, en is steeds, tot moraliteit verbind. Met die groot en lang historiese oorvleueling tussen politiek en geloof is die mag maklik behou.

Volgens navorsing wat in 2014 in die vakjoernaal Nature gepubliseer is, het die rituele offer van mense die samelewing verander van ’n plek waar mense eens in klein, gelyke groepies geleef het, na groter gemeenskappe waarin baie klasse voorgekom het.

Natuurlik is eerder vroue en kinders as mans wat in beheer was, geoffer. Mense is van die Amerikas, Afrika tot Arabië, China, Suidoos-Asië en tientalle eilande en in Europa geoffer.

In die jongste vonds in Chan Chan is gevind dat 200 lamas en 140 kinders – seuns en meisies tussen vyf en 14 jaar – geoffer is. Die wyse waarop hulle om die lewe gebring is, is nog nie elders in Peru gesien nie.

Aan die merke aan die skelette kan gesien word dat die kinders en die diere se borskaste deur behendige hande horisontaal oopgesny is. Vermoedelik is hul harte verwyder.

Die kinders is in geweefde katoen toegedraai en in groepe van drie van die jongste tot die oudste begrawe. Van hul gesigte is rooi geverf en ander het katoenhooftooisels gekry. Die lamas is óf langs die kinders óf bo-op hulle geplaas.

Dit blyk dat die offers gemaak is tydens of net ná ’n reuse-vloed – ’n dik laag modder is net onder die oorskotte aangetref. Kinders is destyds gesien is boodskappers na die gode en hulle is as ’n soort hibried geag, iets tussen gode en mense.

Kenners het verlede jaar ’n piramide in China gevind, wat gebou is op ses putte wat gevul was met vroue wat onthoof is. Die terrein genaamd Shimao is in ’n gebied wat as die Noordelike Sone bekend staan. Aanvanklik is gedink dat die struktuur deel van die Groot Muur was.

Met nadere ondersoek is bevind dat dié piramide 2 300 v.C gebou is. Wie die beskawing was en wat van hulle geword het, is ’n raaisel.

Elsabé BritsFoto:

Die Maja, Inka en Asteke, wat bekend is vir hul grusame rituele, het ook selfoffering toegepas. Hulle het volgens spesifieke kalenders hul eie bloed en dié van hul kinders geoffer. Daar was ook ’n Hindoe-praktyk (sati), waar weduwees hulself op die man se begrafnisbrandstapel gewerp het.

Nadat ’n vrou se man gesterf het, was haar enigste keuse om met haar man se broer te trou, in afsondering in ’n plek vir weduwees te gaan bly of om sati te pleeg.

’n Man hoef dit natuurlik nie te gedoen het wanneer sy vrou sterf nie.

Bye offer hulself wanneer hulle aanval en sommige spinnekoppe offer hul lewe op om een keer te paar, waarna die wyfie hulle opvreet. Die bidsprinkaan is nog ’n voorbeeld. Pikkewynouers maak van die grootste opofferings deur een kleintjie groot te kry. En, die mens offer steeds diere, in geloofsrituele en op verskeie ander maniere.

Soms offer mense hulself op. Dit is tragies dat hulle dink dat ander mense en die gemeenskap beter af sonder hulle sal wees. Hulle onderskat hul eie waarde of hulle oorskat hul eie vermoëns en lê hul eie kosbare lewe vir ander neer.

In ’n tipiese eksperiment waarin deelnemers in ’n virtuele wêreld moes kies of hulle een persoon sal doodmaak om moontlik vyf ander voor ’n aankomende trein te red, het 63% die persoon doodgemaak.

In Engels kom die woord “sacrifice” van Latyn af: sacrificum – sacer (heilig) en facere (te maak). Ons offer dalk nie meer mense op altare nie, maar of ons glad nie meer mense offer nie, is debatteerbaar. En dis alles behalwe heilig.

*Bronne: Plos One (PLoS ONE 14(3): e0211691); Nature: 14 April 2016 (https://www.nature.com/articles/nature17159); Sacrifice/Human Sacrifice in Religious Traditions (Davíd Carrasco); Scientific Reports (24 Okt 2017).

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis.

Meer oor:  Elsabe Brits  |  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.