Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Hoekom het die ‘Titanic’ so vinnig gesink?

Kort voor middernag op 14 April 1912 het die Titanic teen ’n ysberg, wat van die Jakobshavn-gletser op Groenland losgebreek het, gebots en binne die bestek van twee en ’n half uur het die skip onder die water verdwyn.

In navorsing wat oor ysberge gedoen is, word bereken die berg wat die skip sywaarts getref het, was sowat 100 m dik en het sowat 15 tot 17 m bo die water uitgesteek – dit sou sowat twee miljoen ton geweeg het.

Daar was faktore heeltemal buite menslike beheer – daardie jaar was daar meer ysberge as gewoonlik en hulle het verder suid gedryf weens die weer.

Maar hoekom het die skip so vinnig gesink? Dit moes meer kon weerstaan, want die Titanic het meer as 46 000 ton geweeg, was 261 m lank en 53 m hoog van sy kiel tot by die punte van die skoorstene.

Die skade aan die romp was 90 m lank – noemenswaardig, maar daar was ander probleme. Die feit dat die seeman in die kraaines nie ’n verkyker gehad het om na ysberge te soek nie was ook nie die enigste ander oorsig nie.

Die reddingsbote dan? Volgens vandag se standaarde het die Titanic nie genoeg reddingsbote gehad nie, maar tog was daar meer reddingsbote op die skip as wat die wet daai tyd vereis het. Moontlik het van die passasiers egter nie dadelik besef die skip is besig om te sink nie.

Die Titanic was ’n moderne skip vir sy tyd en een van die eerstes wat verseëlbare waterdigte tussenskotte gehad het. Die 16 afskortings kon met elektrisiteit vanaf die brug met die druk van ’n knoppie gesluit word. Die romp was van staal gemaak en daar was drie miljoen staal- en gietyster-klinknaels. Aan boord was boonop die jongste radiokommunikasiestelsel wat tot 500 km ver kon uitsaai.

Om 23:40 op die nag van 14 April is die ysberg getref en reeds teen middernag het die water ses van die 16 waterdigte tussenskotte oorstroom. Om 01:02 op 15 April het die boeg begin oorhel en water het deur die ankerketting-gate gestroom. Daarna het die reuse-skroewe uit die water gelig.

Teen 02:10 het die skip 45 grade oorgehel en die boonste staalstruktuur het bloot verkrummel. Twee minute later lig die agterstewe op uit die water en die boeg vul met water. Om 02:18 skeur die hele boeg los en die agterstewe lig byna vertikaal in die lug op. Net twee minute later verdwyn alles onder die oppervlak.

Dit was bitter koud en niemand kan langer as ’n paar minute in water van -2 °C oorleef nie.

Eers in 1991 toe die wrak ontdek is, is kon kenners die raaisel begin oplos ná die herwinning van stukke van die romp. Die skip het te vinnig gevaar omdat hulle ’n spertyd gehad het. Dit was dus ook onmoontlik om die ysberg te vermy wat te laat gewaar is.

Die analise op die metaal het gewys die boeg kon nie die botsing weerstaan nie weens ’n “bros-defek” van die metaal. Die erge koue, spoed en hoë swaelinhoud in die staal (in die romp en die klinknaels) het veroorsaak dat die metaal verbrokkel het omdat dit glad nie buigbaar was nie. Dit het letterlik verkrummel.

Bemanning van die skip Mackay-Bennett haal ’n liggaam uit die water van een van die slagoffers van die Titanic. Foto: Nova Scotia Archives

Die waterdigte kompartemente het ook nie gewerk nie. Met net vier van die 16 onder water, sou die skip sink en daar was gou ses onder water. Die kompartemente was net waterdig wanneer die skip horisontaal was – as dit beter ontwerp was, sou die skip baie stadiger gesink het.

Die kompartemente en die verkrummeling van die metaal het daartoe bygedra dat die skip so vreeslik vinnig ondergegaan het. Dit het die vloedwater in die boeg gehou en gekeer dat die inkomende water versprei deur die skip. Dít kon die skip horisontaal gehou het, al was hy besig om te sink en ure langer tyd gegee het.

Die eerste span in 14 jaar wat na die wrak van die Titanic toe is in ’n klein duikboot, het onlangs berig die skip se toestand verswak veel vinniger as wat kenners verwag het. Die skip lê 595 km suid van Newfoundland in Kanada, byna 4 km diep op die seebodem.

Daar was sowat 2 200 passasiers en bemanningslede aan boord en 1 500 mense is dood. Die ysberg het uiteindelik gesmelt en vir ewig in die Atlantiese Oseaan verdwyn.

Die skip Carpathia was ná twee uur eerste op die toneel en het ongeveer 700 oorlewendes opgepik. Die groot werk het egter ses dae later plaasgevind toe vier skepe gestuur is om lyke te probeer vind, wat ’n nuwe era in forensiese geneeskunde ingelei het. Aan boord van die skepe is elke lyk wat gevind is, genommer, besonder goed beskryf en sy of haar klere en enige ander persoonlike items is in ’n sakkie met dieselfde nommer gesit.

’n Derde van die sowat 330 lyke wat gevind is, is ter see begrawe en die res is na die dorp Halifax in Engeland geneem. Altesame 42 lyke is steeds nie geïdentifiseer nie.

Elsabé Brits

Dié eenvoudige, maar hoogs praktiese stelsel het gelei tot die identifikasie van baie van die liggame en die behoud van wat nou artefakte is. Dit is steeds (in verbeterde vorm, soos om DNS en vingerafdrukke ook te neem) hedendaagse praktyk.

Dit is een van die nalatenskappe van die Titanic.

• Bronne: Wiley; Physics World; Nova Scotia Archives.

• Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Titanic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.