Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Inskripsies op runeklip dui op klimaatskatastrofe, sê navorsers

Verskeie gedeeltes op die Rök-klip – die wêreld se bekendste runeklip uit die Viking-tydperk – wat beskou is as ’n inskripsie oor gevegte, word nou geïnterpreteer as ’n moontlike verwysing na ’n klimaatskatastrofe.

Die Rök-runeklip is ongeveer 800 jaar ná Christus in Östergötland opgerig. Foto: Helge Andersson

Volgens navorsing hou die inskripsies verband met gevegte wat oor ’n tydperk van ’n 100 jaar strek, maar danksy ’n interdissiplinêre navorsingsprojek word ’n nuwe interpretasie aangebied.

Volgens hulle gaan die inskripsies oor ’n heel ander soort geveg: die konflik tussen lig en donker, hitte en koue, lewe en dood.

Die Rök-runeklip, wat ongeveer 800 ná Christus in Östergötland in Swede opgerig is, is een van die moeilikste om te interpreteer, omdat gedeeltes weg is en verskillende runeskrifte gebruik is.

“Die sleutel om die inskripsies te ontsluit, was die interdissiplinêre benadering: teksanalise, argeologie, die geskiedenis van godsdienste en runologie (die studie van rune-alfabette). Sonder dié benadering sou dit onmoontlik wees om die raaisels van die Rök-runeklip op te los,” sê Per Holmberg, ’n professor verbonde aan die Universiteit van Gotenburg wat die studie gelei het, in ’n verklaring.

’n Vorige klimaatskatastrofe

Die navorsing is geskoei op nuwe argeologiese navorsing wat beskryf hoe erg Skandinawië onder ’n vorige klimaatskatastrofe deurgeloop het met laer as gemiddelde temperature, misoeste, hongersnood en massa-uitwissings.

Bo Gräslund, ’n professor in argeologie aan die Universiteit van Uppsala, wys op verskeie redes waarom mense moontlik ’n nuwe katastrofe van dié aard gevrees het.

“Voordat die Rök-runeklip opgerig is, het ’n aantal gebeure plaasgevind wat baie onheilspellend gelyk het: ’n Kragtige sonstorm het die lug in dramatiese rooi kleure verander, oesopbrengste is weens ’n buitengewone koue somer geraak, en later het ’n sonsverduistering net ná die sonsopkoms plaasgevind,” sê Gräslund.

Die Rök-runeklip is die wêreld se bekendste runeklip uit die Viking-tydperk. Foto: Helge Andersson

Nege raaisels

Volgens die navorsers se nuwe interpretasie, wat nou gepubliseer is, bestaan die inskripsies uit nege raaisels.

Die antwoord op vyf van hierdie raaisels is “die son”. Die een is ’n raaisel wat vra wie dood is, maar nou weer leef. Die oorblywende vier raaisels handel oor Odin, ’n Noorse mitologiese god, en sy krygers.

Olof Sundqvist, professor in godsdiensgeskiedenis aan die Universiteit van Stockholm, verduidelik die verband:

Die magtige elite van die Viking-tydperk het hulself as uitverkorenes beskou wat goeie oeste waarborg. Hulle was die leiers van die kultus wat die brose balans tussen lig en donker gehandhaaf het. En uiteindelik met Ragnarök (in Noorse mitologie die stryd teen die einde van die wêreld), sou hulle saam met Odin baklei in die finale geveg vir die lig.”

Parallelle met ander Oudnoorse tekste

Volgens die navorsers het verskeie aspekte in die inskripsies duidelike parallelle met ander Oudnoorse tekste, wat niemand voorheen opgemerk het nie.

“Vir my was dit amper soos om ’n nuwe literêre bron uit die Viking-tydperk te ontdek,” sê Henrik Williams, professor in Skandinawiese tale verbonde aan die Universiteit van Uppsala, wat in runologie spesialiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.