Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Is die mens Nesthockers of Nestflüchters?

Natuurwetenskaplike denke word onder meer gekenmerk deur klassifikasies wat op ooreenkomste en verskille berus. Die Switserse bioloog, Adolf Portmann, het die besondere biotiese ontwikkelingsaard (ontogenese) van mens en dier vergelyk. Hy onderskei twee ontwikkelingstipes: Nesthocker (Nesplakkers) en Nestflüchter (Nesverlaters).

Nesthocker omvat die diere wat naak en hulpeloos met toe oë en ore gebore word en wat in ’n voorbereide nes versorg word. Nesthocker-soogdiere kom na ’n kort dragtige tyd (ongeveer 20-30 dae) in die lewe, byvoorbeeld insektivore (primitiewe inseketende soogdiere), knaagdiere en sommige roofdiere. Die getal nuutgeborenes per werpsel is relatief groot (ongeveer 5-22).

Nesplakkers verlaat die nes sodra hulle na hulself kan omsien.Foto: Mathew Schwartz/Unsplash

Die meer ontwikkelde Nestflüchter besit daarenteen by geboorte ’n bewegingsvorm, houding en proporsies wat ooreenstem met die volgroeide vorm daarvan. Die ooglede en gehoorgang is oop, die afhanklikheid van die ouers is relatief gering, want die ouerlike versorging van soogdiere vind in die moedersmelk sy wesenlike element.

Die dragtige tydperk van Nestflüchter is lank (meer as 50 dae en dikwels langer as 20 weke) terwyl die getal nuutgeborenes by die meeste soorte tot een of twee beperk is (byvoorbeeld hoefdiere, robbe, walvisse, ape en halfape). Soogdiere met ’n relatief onontwikkelde brein word as Nesthocker gebore (byvoorbeeld die eekhoring, huismuis, rooijakkals, huiskat en tier), terwyl soogdiere met ’n meer ontwikkelde brein (wat ’n lang groeiperiode in die moederliggaam deurmaak), as Nestflüchter ter wêreld kom (soos die vark, bees, perd, skaap, rob en walvis).

Ook die Nestflüchter maak nietemin in die uterus (baarmoeder) ’n stadium deur (sonder enige funksionele betekenis) waarin die oë en ore toe is, wat aan die geboortetoestand van die Nesthocker herinner. Portmann merk op: “Die primate deurloop in die moederliggaam ’n stadium wat uiterlik ooreenstem met die geboortetoestand van ’n Nest­hocker. Hul groei het derhalwe tydens die geboorte daarvan ’n verdere ontwikkelingsvlak bereik.”

In die lig van hierdie duidelike indeling van die soogdiere in twee groepe kan die vraag gestel word: Is die mens ’n Nesthocker of ’n Nestflüchter?

Die mens word hulpeloos gebore en is by geboorte nie in staat om sigself voort te beweeg of te versorg nie – net soos die Nesthocker moet die mens versorg word. Is hy daarom ’n Nest­hocker? Die antwoord is negatief, want anders as alle Nest­hockers word die mens met oop ore en oë gebore. Dit is juis kenmerkend van die Nestflüchter! Reeds met die eerste vergelyking blyk dit dat die mens in geen van hierdie kategorieë tuisgebring kan word nie. Is die mens ’n sekondêre Nesthocker of is hy ’n hulpelose Nestflüchter? In albei gevalle word die definisie van die twee groepe weerspreek.

Voëls behoort tot die Nesplakker-groep.Foto: Marty Southwell/Unsplash

’n Verdere besonderheid wat die mens by geboorte vertoon, is die opvallende grootte van sy brein, wat minstens twee keer die breinmassa van die mensape wat net so groot soos die mens is, oortref. Die breinmassa van ’n pasgebore mens is sowat 370 g en die van ’n vergelykbare oerang-oetang of sjimpansee is slegs 150 g. In merkwaardige teenstelling tot die mens se groot geboortemassa (3 200 g teenoor die 1 500 g tot 1 800 g van die gorilla, sjimpansee en oerang-oetang) staan die onontwikkelde toestand van die pasgebore mens. Alle hoëre soogdiere is by die geboorte daarvan reeds ver ontwikkeld: dit beweeg soos hul volgroeide spesiegenote en die liggaamsbou (wat met ledemaat-proporsies van volgroeide diere ter wêreld kom – vergelyk vulletjies, kalwers, jong olifante en selfs mensape), moet hoogstens nog tot rypheid (volgroeidheid) kom.

Hoewel die lang embrionale ontwikkeling die mens skynbaar ’n Nestflüchter maak, is die pasgebore baba nie alleen hulpeloos nie, maar ook nie in staat om regop te loop nie. Die dierlike liggaamshouding word instinktief voorgeskryf, die van die mens moet moeisaam in kultuurkontak en kultuurverkeer met sy ouers en ander mense aangeleer word.

In vergelyking met die Nestflüchter kom die mens ’n jaar te vroeg ter wêreld en wen sodoende ’n “ekstra-uteriene” jaar. Portmann praat hier ook van ’n “sosiale uterus-tyd”. Die meeste hoog ontwikkelde soogdiere bereik by benadering hul volgroeide liggaamsgrootte teen hul tweede lewensjaar (slegs by olifante en primate is dit tot die agste of negende jaar). In al hierdie gevalle is die groeikurwe egter gelykmatig en kontinu.

Die mens agterhaal hierteenoor gedurende sy eerste lewensjaar die agterstand wat hy gehad het en groei dan dubbeld so vinnig soos die mensape wat die naaste aan hom staan. In die periode van twee tot nege jaar groei die mens egter slegs dubbeld soveel as wat hy in sy hele eerste lewensjaar gegroei het, met ander woorde ’n verlangsaming in groeitempo vind plaas.

Ná hierdie kindertyd volg dan weer ’n periode van snelle groei wat sy hoogtepunt ongeveer in die 15de jaar bereik (in hierdie puberteitstadium tree geslagsrypheid in) en daarna loop die groeiproses gelykmatig af tot by die volwassenheid wat in die 20ste tot 22ste jaar bereik word. Tesame met sy volwassenheid en verouderingstydperk bereik die mens ’n ouderdom van 60 tot 70 jaar wat ongeveer dubbeld so lank is as die lewensduur (sowat 30 jaar) van die mensape wat ’n ooreenstemmende gestalte as die mens besit.

In vergelyking met die naaste hoëre soogdiere besit die mens ’n veel langer groeiperiode voordat volgroeidheid (volwassenheid) bereik word. Indien die mens in die patroon van die meeste soogdiere ingepas het, sou die 20 jaar lange jeugperiode ’n bypassende volwassenheidsperiode van ongeveer 100 jaar geverg het!

* Literatuur: Portmann, A. 1990. A Zoologist Looks at Humankind. New York: Columbia University Press.) Strauss is ’n wetenskapfilosoof.

Meer oor:  Wetenskap  |  Mens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.