Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Is dít dalk die planeet met lewe?
Die Hubble-ruimteteleskoop bo die aarde in Mei 2009 nadat hy die laaste keer deur die bemanning van die pendeltuig Atlantis gedien is. Foto: Nasa

Die heel eerste eksoplaneet buite die sonnestelsel wat ’n atmosfeer en water het, heel waarskynlik aardagtig is en onlangs ontdek is, lê in wat kenners as die Gouelokkies-zone beskryf.

Hy is nie so ver van sy son dat hy bevrore sal wees nie, maar ook nie so naby dat alles verskroei word nie. Net soos Gouelokkies se perfekte bakkie pap: nie te koud nie; nie te warm nie; nét reg.

Dié aankondiging is Woensdagaand in die vaktydskrif Nature gedoen. Dit is die eerste keer dat ’n planeet gevind word waar water én ’n atmosfeer bestaan én boonop is hy op die regte afstand van sy ster af.

Die planeet, genoem K2-18b, is twee keer so groot soos die Aarde met ’n massa van agt keer dié van die Aarde. Sy son is ’n rooidwerg, dus kleiner as die son en nie so warm nie – net sowat 2 226 °C.

Rooidwerge is die sterre wat die meeste in die heelal voorkom en hul lewensduur is baie lank. Die betrokke ster en sy planeet is 110 ligjaar van die Aarde af – in astronomie-terme eintlik taamlik naby. (Die Aarde se ster is ’n geeldwerg, met meer lig en hitte.)

Water en ’n energiebron, asook ’n atmosfeer om die planeet te beskerm, is van die basiese bestanddele vir lewe.

Die meeste eksoplanete wat al ontdek is, was gasreuse. Die digtheid van K2-18b is dieselfde as dié van Mars, en drie keer dié van ’n gasplaneet. Omdat daar ’n atmosfeer met wolke is, is daar volgens die kenners ’n goeie kans dat daar ’n soliede kern en oppervlakte is. Maar dit kon hulle nie sien deur die atmosfeer nie; daarvoor is beter teleskope nodig.

Die observasie is gemaak met die ou werkesel wat net nie sy einde ken nie. Die Hubble-ruimteteleskoop wat 29 jaar oud is.

Wie sou ooit kon dink hy sou steeds in aksie wees? Hubble is seker die beste belegging wat tot nog toe in wetenskap en tegnologie gemaak is. Sy laaste diens was in Mei 2009 – en daar word gereken hy sal nog werk tot in 2025. Sy plaasvervanger is die James Webb-ruimte-teleskoop.

Die wetenskaplikes het gesien hoe die kleur van die ster se lig verander soos dit gefilter word deur die planeet se atmosfeer. Nog ’n ontleding is gedoen deur die Spitzer-ruimte-teleskoop, wat meer optiese liggolwe kan sien.

Só kon hulle waterdamp sien in die atmosfeer en dat daar kondensasie na lopende water is. Dit is die eerste keer dat die siklus van water gesien is.

Water en ’n energiebron, asook ’n atmosfeer om die planeet te beskerm, is van die basiese bestanddele vir lewe. Bepaalde molekules sal opgespoor kan word met ’n beter teleskoop.

Die Hubble-teleskoop wat in ’n wentelbaan om die aarde is, het al meer as 1,3 miljoen observasies gedoen en gesorg vir van die grootste ontdekkings in astronomie wat tot dusver gedoen is. Sowat 16 000 portuurevalusie-artikels in vakjoernale is geskryf danksy sy werk.

Sowat 70% van die massa en energie in die heelal is donkerenergie.

Dit was met Hubble dat bevestig is dat die heelal nie net besig is om uit te dy nie, maar dat dit al hoe vinniger gebeur. Die energie wat daarvoor verantwoordelik is, is donkerenergie wat sterrestelsels uitmekaar druk, deur die ruimte tussenin te rek, met ’n toenemende spoed. Sowat 70% van die massa en energie in die heelal is donkerenergie.

Elsabé Brits

Dit was ook Hubble se observasies wat gewys het gravitasiekolke – met die massa van miljoene sterre – is oral in die heelal teenwoordig. Hoe groter die sterrestelsel, hoe groter is die gravitasiekolk. En vir die eerste keer is gesien hoe materie in plat skywe om gravitasiekolke draai, en strale subatomiese deeltjies word teen ’n enorme spoed uitgeskiet.

Die Kepler-ruimteteleskoop is in 2009 die ruimte ingestuur om veral na eksoplanete in die Melkweg te soek. Die sending het in Oktober 2018 geëindig nadat 2 900 kandidaatplanete en 2 682 bevestigde planete in ons sterrestelsel gevind is. ’n Klompie is aardagtig en daar is dalk lopende water, maar die meeste is gasreuse.

Ons soek na ander planete, na sterrestelsels en verskynsels omdat die mens nuuskierig is en meer wil weet. Ons kyk op, en vorentoe en nie af na ons voete nie. Ons wil verder, hoër, vinniger en beter.

Die mens klim berge, reis oor vastelande soos ons voorvaders 80 000 jaar gelede uit Afrika, om regoor die planeet te migreer en dit te bevolk.

Net soos die seevaarders van ouds wat nie geweet het of hulle dalk van die aardbol gaan val en deur seemonsters verorber gaan word nie. Hulle het uitgevind dit is nie waar nie. Ons het gevlieg en minder as 70 jaar later op die maan geland.

Die mens is ’n ontdekker, reisiger en gierig om te leer. Die sterre wink letterlik vir ons.

• Bronne: Hubblesite.org; Kepler-Nasa; Nature.

•Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis

Meer oor:  Lewe  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.