Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Jongste navorsing: Tuisland van mensdom wás in Suider-Afrika

Al 7,7 miljard mense op aarde se tuisland was een groot streek in die noorde van Botswana wat uit vleilande bestaan het.

Die streek, wat vandag grootliks ’n woestyn met soutpanne is, was waterryk en vol lewe, lui ’n studie wat daarop dui dat die streek ’n sentrale rol in die vroeë geskiedenis van die mensdom 200 000 jaar gelede gespeel het.

Talle plaaslike akademici was deel van die navorsingspan wat gelei is deur prof. Vanessa Hayes, genetikus aan die Garvan-instituut vir mediese navorsing aan die Universiteit van Sydney, en ook as buitengewone professor verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP).

Sy en prof. Riana Bornman, senior navorser aan die UP se fakulteit vir gesondheidsdienste, was deel van ’n span internasionale navorsers wat die DNS-inligting van meer as 1 200 inheemse mense van Suider-Afrika ontleed het.

Hulle het bloedmonsters van onder andere 198 Namibiërs en Suid-Afrikaners wat aan die navorsing deelgeneem het ingesamel, lui ’n verklaring deur die UP.

Prof. Vanessa Heyes saam met lede van die gemeenskap van Ju/’hoansi in die afgeleë ooste­like Omaheke in Namibië, wat ook aan die navorsing deelgeneem het. Foto: Chris Bennett/Evolving Picture

Die bevindinge is ook Maandag in die vaktydskrif Nature gepubliseer.

Luidens die studie het die streek 70 000 jaar lank die mensdom gekoester totdat klimaatsverandering die mense gedwing het om te begin migreer. ’n Meer wat Afrika se grootste was – twee keer groter as die Victoria-meer vandag – het die vleilande tot gevolg gehad wat die groter Zambezirivier uitmaak. Die meer het oor die noorde van Botswana tot in Namibië in die weste en tot by Zimbabwe in die ooste gestrek, luidens die navorsers, berig Reuters.

Daar word algemeen aanvaar dat Homo sapiens, oftewel die moderne mens, in Afrika ontwikkel het.

“Wat ons nie geweet het totdat hierdie navorsing gedoen is nie, is waar presies dié tuisland was,” sê Hayes.

Die oudste bewyse van H. sapiens-fossiele dateer uit Marokko meer as 300 000 jaar gelede. Volgens die nuwe navorsing het die vroeë lede van ons spesie wat in Marokko was geen nasate agtergelaat wat tot vandag toe nog lewe nie.

“Daar is dus geen teenstrydigheid tussen die teenwoordigheid van die vroeë H. sapiens-soort kopbeen in noord-Afrika, wat moontlik aan ’n uitgestorwe stamboom behoort, en die voorgestelde oorsprong van die H. sapiens-stamboom in suidelike Afrika wat vandag nog voortleef nie, volgens Axel Timmermann, ’n klimaatswetenskaplike by die Universiteit van Boesan in Suid-Korea wat medeouteur van die navorsing is.

Hayes praat met hoofman Ikun |kunta van die Ju/’hoansi-gemeenskap. Foto: Chris Bennett/Evolving Picture

Dr. Andy Moore, geoloog van die Rhodes-Universiteit, het geologiese, argeologiese en fossielbewyse ontleed om te onthul waar die grootste meerstelsel op die vasteland in die gebied bestaan het. Dit staan bekend as die antieke Makgadikgadi-meer wat 200 000 jaar gelede begin opbreek en ’n uitgespreide vleilandstreek tot gevolg gehad het wat deur jagter-versamelaars bewoon is.

“Die meer het begin dreineer weens skuiwe in die onderliggende tektoniese plate. Dit sou ’n uitgespreide meerstelsel tot gevolg gehad het,” sê Moore in ’n verklaring wat deur die UP uitgereik is.

Wysigings in die aarde se wentelbaan het veranderinge in klimaat, reënval en plantegroei tot gevolg gehad wat mense uiteindelik laat migreer het – eers na die noordooste 130 000 jaar gelede en toe na die suidweste 110 000 jaar gelede, sê hy.

“Ons navorsing is die eerste kwantitatiewe en deeglik gedateerde bewyse dat klimaatsverandering tot grootskaalse migrasie van mense gelei het wat die ontwikkeling van genetiese diversiteit en uiteindelik kulturele, etniese en taalidentiteit tot gevolg gehad het,” sê Timmermann.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.