Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Jy hoef nie meer oor jou koffie te jok nie . . .

Om matig koffie te drink – buiten wanneer jy swanger is – is nie sleg vir ’n mens nie. Jy voel nie meer skuldig te voel oor drie tot vier koppies per dag nie.

Maar wat presies beteken dié onlangse bevinding en hoe werk dit?

Moet daar nou in groot opskrifte verklaar word dat koffie gesond is en siekte voorkom? Of dat dokters dit moet voorskryf om gesondheidsredes? Allermins.

Wanneer daar in wetenskap bevind word iets is veilig vir gesonde mense en dat dit eerder voordele inhou as nadele, beteken dit net dit: Dis veilig, dit doen nie skade nie en daar is dus eerder voordele as nadele.

Dit beteken nie dit is óf voorkomend óf genesend nie.

Die sambreelstudie wat gedoen is, het na dekades se werk oor koffie gekyk en 201 omvattende studies se navorsing noukeurig nagegaan.

Die uiteindelike bevinding in die British Medical Journal was dat ’n mens drie tot vier koppies koffie kan drink en nie meer skuldig hoef te voel nie.

Dit is egter nie enorme koppies nie, maar gewone koppies. Die riglyn wat gegee word, is 400 mg kafeïen per dag. Dan moet jy inreken as jy dalk energiedrankies of ander koeldrank drink wat kafeïen in het.

Die goeie nuus is dat koffie wel verbind word met ’n laer risiko vir sommige kankers, diabetes, lewersiektes en demensie. Benewens die antioksidante en anti-inflammatoriese eienskappe van koffie is daar koffiesuur in koffie. Dit lyk asof dit een van die agente is wat help met verbeterde kognitiewe funksie. Dit blyk ook dat koffie veral voordelig vir die lewer is.

Maar, vroue wat geneig is tot beenbreuke, moet wel minder drink en swanger vroue moet glad nie koffie drink nie. Koffie drink wanneer ’n mens swanger is, kan lei tot lae geboortegewig, ’n baba wat vroeg gebore is en selfs die verlies van die fetus.

Omdat hierdie ’n sambreelstudie van soveel meta-artikels is, is dit hoogs onwaarskynlik dat daar in die toekoms gesê sal word koffie is skadelik.

Tensy nuwe robuuste bewyse gevind word.

Dit is die aard van die wetenskap om homself te korrigeer en dit is reg so. Dit verander met nuwe bewyse en ’n mens moet ook na kwaliteit van die wetenskap let.

Koffie se invloed op ’n mens was jare lank onduidelik en dit is gelys as ’n “moontlike karsinogeen”.

Dié lys is in groepe volgens hulle aard gelys en volgens bewyse van stowwe wat onder verdenking is. Groep 1 is natuurlik dodelike stowwe waaroor niemand twyfel nie.

Koffie is verlede jaar van die lys afgehaal.

’n Paar eeue gelede het koffiehuise in Londen en later deur Europa heen ontstaan. Dit was ’n heel unieke verskynsel waar mense gesit en gesels, musiek geluister, gelees en na opvoerings gekyk het. Vir ’n pennie kon ’n mens koffie drink en dit was die plek waar intellektuele byeengekom het.Dit het so stimulerend geraak, daar is na die koffiehuise as “pennie-universiteite” verwys.

Lekker koffie drink!

Bronne: British Medical Journal (November 2017); Food Science and Technology (Mei 2015)

Elsabé Brits is ’n wetenskapjoernalis.

Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.