Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Jy kan SA se bekendste dinosourus nou in 3D druk

Suid-Afrika se bekendste dinosourus, van 200 miljoen jaar gelede, se skedel is met rekenaartomografie geskandeer en nou kan enigiemand ’n 3D-afdruk daarvan maak.

Dié dinosourus, Massospondylus carinatus, was ’n plantvreter en was van die eerstes ter wêreld wat beskryf is – in 1854 deur Sir Richard Owen.

In 1976 is daar ook van dié dinosourus se eiers gevind, waarvan sommige embrio’s ingehad het. Dié met die embrio’s in is die oudste van hul soort wat tot nog toe in die wêreld gevind is, en een van Suid-Afrika se kosbaarste paleontologiese erfenisse.

Kimi Chapelle, doktorale student aan die Instituut vir Evolusionêre Studies aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg, het dié werk gedoen wat Vrydag in die vakjoernaal PeerJ verskyn het.

’n Profiel van die dinosourus Massospondylus carinatus wat 200 miljoen jaar gelede in Suid-Afrika voorgekom het. Skanderings van die fossiel het dit nou moontlik gemaak om ’n model van die skedel in 3D te druk.Foto: Kimberley Chapelle

Die skandering kon tot klein senuweepunte in die brein, en die klein beentjies in die binne-oor wat vir balans verantwoordelik is, wys.

Deur beentjies in die oor te bestudeer kan meer geleer word hoe die dinosourus beweeg het. Daar is ook tandjies sigbaar in die kaak, wat sou uitkom indien die dinosourus een sou verloor.

In 2015 is die bekende eiers in Frankryk geskandeer. Dr. Jonah Choiniere, ook van Wits, het toe gesê: “Ons het gesien daar is baie mooi embrio’s in twee eiers; nog twee het iets in; ’n vyfde eier het dalk uitgebroei en oor die laaste een is ons nie seker nie,” het hy gesê.

Die Massospondylus het vier bene gehad, ’n korterige stert, ’n nek wat horisontaal gehou is, lang voorbene en ’n groot kop. Die volwasse dier se nek het vinnig gegroei en die voorbene en kop stadiger. Die eindresultaat was ’n dier wat op twee agterpote geloop en wat ’n kragtige stert gehad het.

Daar is ook bevind dat die embrio’s, al was hulle gereed om uit te broei, nie tande gehad het nie, wat beteken dat hulle ouerlike sorg nodig gehad het vir ’n ruk nadat hulle uitgebroei het.

Die besonderhede om die 3D-druk te maak, is in hierdie artikel te kry. 

Meer oor:  Wetenskap  |  3D
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.