Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Vroegste bewys van kanker gevind in 1,7 m. jaar oue fossiel
Verskillende aansigte van ’n werwel van Australopithecus sediba, ’n hominied wat in Suid-Afrika in die Wieg van die Mensdom in 2008 gevind is. Dié skandering wys waar ’n niekwaadaardige gewas, wat pynlik sou gewees het, danksy skandering gevind is. Foto: Paul Tafforeau | ESRF

Kaapstad. – Die oudste bewys van dodelike kanker in ’n menslike voorsaat is in ’n grot in Suid-Afrika gevind.

Dié voetbeen van ’n hominied is in die Swartkransgrot in die Wieg van die Mensdom in Gauteng gevind en deur navorsers aan die Universiteit van die Witwatersrand asook internasionale kollegas bestudeer.

Dit is ’n kanker wat in die selle van ’n mens se bene ontstaan, verduidelik prof. Maryna Steyn van Wits. Dit is geïdentifiseer deur gesofistikeerde skanderingsmetodes plaaslik en by die European Synchrotron Research Facility (ESRF) in Grenoble, Frankryk, te gebruik.

Steyn sê dié soort kanker (osteosarkoom) is uiteindelik dodelik. Dit sou die individu se vermoë om te loop en te hardloop benadeel het.

“Die wortels van kanker is waarskynlik baie diep,” sê sy.

Die oudste bewys van kanker wat nog in ’n menslike voorsaat gevind is, is dié beenkanker aan ’n hominied van 1,7 miljoen jaar oud se voetbeen. Dit is in Swartkrans in die Wieg van die Mensdom deur navorsers van die Universiteit van die Witwatersrand en internasionale kollegas gevind. Foto: Patrick Randolph Quinney | UCLAN

Edward Odes, doktorale student aan Wits en hoofnavorser van dié projek, sê: “Moderne geneeskunde leer ons kanker is ’n leefstylsiekte. Ons studies wys die oorsprong van die siektes in ons voorsate was miljoene jare voor industriële gemeenskappe bestaan het.”

Omdat daar nie ander bene van dié betrokke skelet is nie, is dit nie moontlik om die geslag en ouderdom by dood te bepaal nie.

In ’n tweede navorsingstuk wat ook vandag in die South African Journal of Science verskyn, skryf die Wits-span en kollegas van nóg ’n gewas. Dit is niekwaadaardig en ook in die been, maar sou ook pynlik gewees het en beweging belemmer het. Dit is gevind op ’n rugwerwel van die tienerseun se fossiel van Australopithecus sediba (sowat 1,9 miljoen jaar oud). Dié fossiel is in die Malapa-gebied in die Wieg van die Mensdom gevind en in 2010 beskryf.

Dr. Patrick Randolph-Quinney van die Universiteit van Sentraal-Lancashire in Engeland het verduidelik dié gewas sit op ’n “uiters skaars plek vir die siekte (osteoblastoom) en dit is vreemd om die gewas in só ’n jong kind te vind. Dit is die eerste bewyse van só iets in die hele fossielrekord”.

Prof. Lee Berger, wat die Sediba-fossiel ontdek het, het gesê daar is nie net ’n opvatting dat kankers en gewasse siektes van die moderne samelewing is nie – en die fossiele bewys dit is nié – maar daar is ook die opvatting dat ons as moderne mense dit ontwikkel omdat ons langer leef, en tog is die niekwaadaardige gewas in ’n baie jong kind gevind. Dit is duidelik dat die geskiedenis van gewasse en kankers meer kompleks is.

  • Die vorige bewyse van kanker was ’n Neanderdal-rib wat 120 000 jaar oud is.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.