Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
KYK: Liewe aarde, ’n nuwe aarde? Só wen jy ’n Nobelprys

Dinsdag se Nobelprys vir fisika was eintlik die prys om die mensdom te help verstaan waar hy vandaan kom en waarheen hy eendag op pad kan wees – op ’n planeet met ’n ander son.

Dinsdag se prys in Stockholm is tussen drie wetenskaplikes verdeel, maar die omvang van hul bydraes tot kennis is nie vir almal so ooglopend nie.

Wat James Peebles uitgevind het en Michel Mayor en Didier Queloz ontdek het is in ’n neutedop: Wat was daar aan die begin van die heelal? En is ons alleen?

Die drie ontvangers van die Nobelprys vir fisika vir 2019 is van links James Peebles, Michel Mayor en Didier Queloz. Foto: Reuters

Die kosmiese agtergrond-bestraling

Hierdie mondvol verwys na moontlik een van die belangrikste uitvindsels oor hoe die heelal net na die oerknal gelyk het.

Kortom is dit die nagloed van die knal self, toe die heelal nog ’n “babatjie” van slegs 400 000 jaar oud was.

Peebles (84), ’n Kanadees-Amerikaanse kosmoloog, het die teoretiese fondasie gelê vir wetenskaplikes om uiteindelik hoëresolusiebeelde van dié nagloed te neem en ’n raamwerk geskep om dit enigsins te kan verstaan en ontleed.

Die beeld wys die lig van mikrogolfenergie wat 400 000 jaar na die oerknal nou eers by ons uitkom.

Dit wys onder meer waar materie en energie gekonsentreer was wat later sterrestelsels sou word soos die heelal ontwikkel het.

“Vanjaar se Nobelpryswenners het ’n prentjie van ons heelal vreemder en wonderliker geskilder as wat ons ooit kon indink,” het Ulf Danielsson, ’n professor en lid van die Nobelkomitee vir Fisika, gesê.

Die Sweedse koninklike akademie van wetenskap sê dat die wetenskaplikes se navorsing “ons idees oor die kosmos getransformeer het”.

Planete ver van die huis af

Mayor (77) en Queloz (53), albei van Switserland het saam die eerste sogenaamde eksoplaneet in 1995 ontdek.

Dit is planete wat om ander sterre wentel, tot duisende ligjaar weg van die aarde af.

Mayor en Queloz het hul eerste eksoplaneet 51 Pegasi B gedoop. Om en by 50 ligjaar weg, wentel dié planeet om ’n sonagtige ster, maar baie nader as die aarde aan die son, wat daartoe lei dat dié arme eksoplaneet gebak word tot ’n vurige 1 000 grade celsius.

Dit is nou dalk nie ’n moontlike tuiste vir ander lewe nie, maar voor Mayor en Queloz se ontdekking het niemand geweet of planete volop deur ons (of ander) sterrestelsels was nie.

Vandag, en te danke aan Mayor en Queloz, weet ons dat die getal planete in ons Melkweg-sterrestelsel die getal sterre heeltemal oorskadu.

In slegs ’n paar jaar het die getal ontdekte eksoplanete tot meer as 4 000 opgeskiet, met talle wat baie soos die aarde voorkom, al is hulle so ondenkbaar ver weg.

“Die bestudering van eksoplanete is miskien die opwindendste veld van sterrekunde,” het Martin Rees, ’n professor aan die Universiteit van Cambridge en koninklike sterrekundige aan Reuters gesê.

“Ons weet nou dat die meeste sterre deur talle planete omwentel word. Daar kan ’n miljard planete in ons sterrestelsel wees wat soos die aarde lyk,” het Rees bygevoeg.

Vir hul werk deel Mayor en Queloz een helfte van die prysgeld (£369 000) en Peebles die ander helfte.

Meer oor:  Nobelprys  |  Stockholm  |  Fisika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.