Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
KYK: Moontlike ruimtelewe in Venus se wolke ontdek

’n Internasionale span sterrekundiges het Maandag bekend gemaak dat ’n seldsame molekule, fosfien, in die wolke om Venus gevind is. Op aarde word die gas slegs deur nywerhede of mikro-organismes, wat in suurstofvrye omgewings floreer, vervaardig.

Die ontdekking van fosfien in die wolke van Venus kan moontlik dui op lewe in die atmosfeer van dié planeet, aldus ’n nuusverklaring van die Royal Astronomical Society (RAS).

Die span onder leiding van prof. Jane Greaves van die Cardiff-Universiteit het die bevindings in die vaktydskrif Nature Astronomy aangekondig.

“Sterrekundiges bespiegel al dekades dat hoë wolke op Venus ’n tuiste vir mikrobes kan bied – waar hulle weg van die skroeiende oppervlak kan dryf, maar steeds hoë suurvlakke moet kan verdra. Die opsporing van fosfienmolekules, wat uit waterstof en fosfor bestaan, kan op dié buiteaardse lewe in die atmosfeer dui.”

Die span het aanvanklik die James Clerk Maxwell-teleskoop (JCMT) in Hawaii gebruik om die fosfien op te spoor en later 45 teleskope van die Atacama Large Millimeter Array (Alma) in Chili gebruik om dit te bevestig.

Albei het Venus waargeneem teen ’n golflengte van sowat ’n millimeter, veel langer as wat die mens se oog kan sien. Volgens die RAS kan slegs teleskope teen ’n sekere hoogte bo seespieël dié golflengte doeltreffend waarneem.

Venus met sy wolkkombers waarin sterrekundiges tekens van moontlike lewe ontdek het. Foto: JAXA/ISAS/Akatsuki Project Team

Greaves sê die eksperiment is uit “pure nuuskierigheid” gedoen om van die JCMT se vermoë gebruik te maak.

“Ek het gedink ons sou net in staat wees om uiterse scenario’s uit te skakel, soos dat die wolke vol organismes is. Toe ons die eerste tekens van fosfien gevind het, was dit ’n skok!”

Prof. Hideo Sagawa van die Kyoto Sangyo-Universiteit het modelle van Venus se atmosfeer gebruik om die data te interpreteer en bevind dat fosfien teenwoordig, maar skaars is, teen net sowat 20 molekules vir elke miljard.

Berekenings is gedoen om vas te stel of die fosfien van natuurlike prosesse op Venus kom, maar die inligting is gebrekkig omdat studies van fosfor op die planeet laas in 1985 uitgevoer is, lui die verklaring.

Die navorsers het gekyk na natuurlike maniere om fosfien te maak, maar kon nie ’n oorsprong vind wat naby aan genoeg daarvan sou vrystel nie.

Volgens berekenings van dr. Paul Rimmer van die Cambridge-Universiteit sou organismes op aarde net teen 10% van hul maksimum kapasiteit hoef te werk om die hoeveelheid fosfien wat waargeneem is te vervaardig.

’n Kunstenaarsvoorstelling van Venus met ’n insetsel wat fosfien-molekules in die hoë wolke om Venus voorstel. Foto: ESO / M. Kornmesser / L. Calçada & NASA / JPL / Caltech

Mikrobes op Venus sal heelwat anders as dié op aarde moet wees om die suur atmosfeer te oorleef.

Op aarde kan bakterieë fosfate absorbeer, waterstof byvoeg en uiteindelik fosfien vrystel. Dit is egter onbekend of dit ’n afvalproduk is of dalk gebruik word om mededingers af te weer.

Navorsers het ook al voorgestel dat donker stroke op Venus, waar ultravioletlig geabsorbeer word, van kolonies van mikrobes afkomstig is.

Die Akatsuki-ruimtetuig wat die Japanse ruimte-agentskap Jaxa gelanseer het, karteer tans dié gedeeltes om dit beter te verstaan.

Volgens die RAS het die hoë wolke van Venus temperature van tot 30 °C en is dit uiters suur, met rondom 90% swaelsuur.

Nuwe ruimtereise sal in die toekoms na die planeet onderneem kan word en monsters van die wolke neem om verder vir tekens van lewe te soek, lui die verklaring.


Meer oor:  Ruimtelewe  |  Fosfien  |  Venus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.