Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
KYK: Wright-broers-oomblik op Mars

Die Amerikaanse ruimteagentskap sê hy het ’n klein helikopter suksesvol op Mars laat vlieg.

Die klein helikopter of hommeltuig staan bekend as Ingenuity en was vir minder as ’n minuut in die lug.

Nasa het egter die eerste, kortstondige vlug gevier en sê dit is die eerste beheerde vlug deur ’n vliegtuig in die ruimte.

’n Satellietuitsending het die vlug bevestig en die inligting na die aarde herlei.

Nasa sê hy glo meer gewaagde vlugte in Mars se atmosfeer sal in die komende dae gedoen word.

Ingenuity sal opdrag gegee word om hoër en verder te vlieg omdat ingenieurs die beperkinge van die tegnologie wat hulle gebruik, wil beproef.

Die klein helikopter is in die bagasieruim van Nasa se Perseverance Rover vervoer, wat in Februarie op Mars se Jezero-krater geland het.

“Ons kan nou sê dat mense ’n vliegtuig met rotore op ’n ander planeet kon laat vlieg,” het ’n tevrede MiMi Aung, projekbestuurder van Nasa, ná die tyd gesê.

“Ons praat al so lank oor ons Wright-broers-oomblik op Mars en hier is dit,” sê Aung, wat na die Wright-broers se geskiedkundige vlug in 1903 verwys.

Daar is selfs ’n klein stukkie materiaal van een van die vlerke van die Wright-broers se eerste vliegtuig in die Ingenuity geplaas.

Aung het ’n toespraak, wat sy by haar gehad het, onder ’n gejuig opgeskeur toe dit bekend word die eerste vlug op Mars was suksesvol.

Die toespraak is geskryf in geval die vlug misluk het.

Die helikopter het 3 m hoog opgestyg, in die lug gehang en toe gedraai, weer in die lug gehang en weer geland.

Die Ingenuity op Mars. Foto: Nasa

Die vlug het 40 sekondes geduur.

Dit is volgens Nasa moeilik om op die rooi planeet op te styg omdat die lug baie dun is en dit beteken die rotore van die helikopter het nie “vastrapplek” in die lug nie.

Hoewel daar minder aantrekkingskrag op Mars is, is dit steeds moeilik om op te styg.

Ingenuity is buitengewoon lig en die lemme draai teen 2 500 omwentelings per minuut om genoeg stukrag op te bou.

Radioseine neem minute lank om Mars te bereik wat die beheer van die helikopter ook moeilik gemaak het.

Aung sê sy is nie verbaas dat die proefvlug suksesvol was nie. Die span het hard gewerk en die formules in die laboratorium presies uitgewerk.

Ingenuity het twee aanboord kameras, een wat grond toe kyk en ’n hoëresolusiekleurkamera wat die horison afneem.

Nasa sê die landingstrook waar die Perseverance vir Ingenuity afgelaai het, sal voortaan as die Wright-broersveld bekend staan.

Nog vier toetsvlugte word in die volgende paar dae op Mars beplan.  – Bronne: BBC, APF, AP

Meer oor:  Helikopter  |  Nasa  |  Ruimtevaart  |  Mars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.