Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Langste algehele maansverduistering in SA

Die langste algehele maansverduistering van die 21ste eeu sal op Vrydagaand 27 Julie wees en Suid-Afrika is een van die lande wat dit sal beleef. Dit gaan oor die hele land heen en ook in ander lande sigbaar wees.

Daar sal nie weer só ’n lang en algehele maansverduistering wees tot ná 2100 nie. Sterrekundiges het uitgewerk presies hoe lank die maansverduistering sal duur: Een uur, 42 minute en 52 sekondes.

’n Algehele verduistering gebeur wanneer die maan deur die middel van die aarde se skaduwee (umbra) beweeg. Die son, aarde en maan is dan in lyn met mekaar.

Hoewel ’n maansverduistering soortgelyk aan ’n sonsverduistering is, is die aarde nou die een wat die son verduister en ’n skadu oor die maan gooi. Algehele sonsverduisterings is skaarser.

Die maan het nie lig van sy eie nie en skyn helder omdat sy oppervlak sonlig weerkaats. Wanneer daar ’n totale maansverduistering is, beweeg die aarde tussen die son en die maan in en blokkeer so die sonlig op die maan.

Wanneer dit gebeur laat dit die maan in kleure van oranje tot dieprooi verander en dit word nie heeltemal donker nie. Verstrooide straling van die son wat deur die atmosfeer beweeg, baai die maan in dié kleure. Dit is dieselfde straling wat ’n sonsondergang rooi maak.

Volgens Space.com is dié komende maansverduistering so lank – die totale verduistering gaan duur van 21:30 tot 23:13 – omdat die maan deur die middel van die umbra gaan beweeg. Meestal is dit so effe na die kant.

’n Ander rede hoekom dit so lank sal duur, is omdat daar ’n apogee is. Dit beteken dat die maan op dié datum op sy verste van die aarde af is in sy maandelikse wentelbaan, wat die verduistering langer maak.

Volgens die Astronomies Vereniging van Suider-Afrika (Assa) sal daar volgende Vrydagaand vier planete met die blote oog sigbaar wees. Venus, wat sal “sak” sodra die verduistering begin. Mars wat baie helder sal vertoon en redelik naby die maan sal wees. Dit is heeltemal toevallig dat Mars dan ook naby aan die aarde sal wees. Saturnus en Jupiter sal ook sigbaar wees.

* Die volgende algehele maansverduistering wat in Suid-Afrika gesien sal kan word is volgens die Assa op 7 September 2025.

* Mense in Kaapstad word genooi om saam met die Kaapse tak van die Assa die aand te geniet en by die V&A Waterfront deur teleskope na die maansverduistering te kyk. Daar sal ook praatjies wees en lede van die tak en sterrekundiges van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium sal ook teenwoordig wees. Die program begin om 18:00 wanneer die son sak. Bywoning is gratis.

Meer oor:  Ruimte  |  Maansverduistering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.