Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Lewe op Mars groter moontlikheid – ons moet net soek

Al die bestanddele vir moontlike lewe op Mars is daar, maar of dit bestaan sal berus op toekomstige sendings na dié planeet.

Die aankondiging dat daar lopende water op Mars is – 1,5 km onder die oppervlak in ’n reservoir of ondergrondse meer van 20 km  wyd – het wêreldwyd reaksie ontlok.

’n Italiaanse span het die werk gedoen onder leiding van prof. Roberto Orosei, wat op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê het: “Hier is die eerste stabiele liggaam water wat nog op Mars gevind is. Dit kan lewe bevat, maar dit sal van toekomstige sendings afhang om daarna te soek en dit kan jare neem. Dit (wat hulle gevind het) is soveel soos ons kan doen (met die tuig) se instrumente.”

Onder die waterys op Mars lê ’n reservoir van lopende water, 1,5 km diep en 20 km lank. Die Europese Ruimte-agentskap se tuig Mars Express is ingespan om dit op te spoor met radar. Foto: ESA/DLR/FU Berlin

Die aankondiging is Woensdagmiddag in Rome gedoen deur die Italiaanse Ruimteagentskap, asook in die vaktydskrif Science.

Die kenners het ’n radarinstrument (Marsis) aan boord van die Mars Express-tuig gebruik. Die radarprofiel wat saamgestel is, is soortgelyk aan die mere van ondergrondse water wat in Antarktika en Groenland gekry is.

Die radar werk so:

Soos die Mars Express-tuig oor die area beweeg, straal dit radar van die tuig na die oppervlak uit, wat dit reflekteer. Daar is ys op die oppervlak. ’n Deel van die radar penetreer die ys en dit word gereflekteer op die rotsbodem onder die ys. Dit gee ’n basislyn om tussen rots en lopende water te kan onderskei.

Die refleksie van die lopende water was egter baie sterker. Soortgelyke bevindings is al gemaak met mere onder gletsers op aarde.

Die kenners het ook aangedui hulle dink daar is magnesium, kalsium en natrium – wat teenwoordig is in rotse op Mars – in die water opgelos.

Orsei het ook gesê dit was al die tyd “reg onder ons neus, ons het net nie diep genoeg gekyk nie . . . die gebruik van radar om nog sulke waterliggame op te spoor kan nou op ander plekke op Mars gebruik word.”

Die span meen die souterige, lopende water, wat in kontak met die rots is, kan lewe huisves.

Vroeër vanjaar is organiese molekules in rots van sowat drie miljard jaar gelede op Mars gevind.

Volgens Nasa is dié molekules in die boonste lae van die grond, die boonste vyf sentimeter, gevind. Dit sou wees uit ’n tyd toe dié planeet nog bewoonbaar sou kon wees.

Organiese molekules bevat koolstof en waterstof, maar kan ook ander elemente soos suurstof en stikstof bevat. Dit word met lewe verbind.

Daar is aansienlike aanduidings dat Mars voorheen lopende water gehad het. Daar was onder meer ’n meer in die Gale-krater waar die Curiosity-tuig is.

Meer oor:  Mars  |  Ruimte  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.