Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Little Foot net 2,8 miljoen jaar oud – navorsers
Die volledige linkerhand en voorarm van Little Foot, ’n menslike voorsaat, wat 20 jaar gelede in Sterkfontein gevind is. Foto: Wits

’n Nuwe ouderdom is voorgestel vir Little Foot, een van Suid-Afrika en die wêreld se bekendste fossiele van ’n menslike voorsaat.

Little Foot is 2,8 miljoen jaar oud, pleks van 3,6 miljoen jaar, skryf navorsers in ’n artikel wat Woensdagoggend in die South African Journal of Science gepubliseer is.

Die ontleding van die kwarts waarin Little Foot in die Silberberg-grot in Sterkfontein gelê het, gee ook ’n oplossing vir hoe dit daar beland het.

Prof. Jan Kramers aan die Universiteit van Johannesburg en prof. Paul Dirks aan die James Cook-universiteit in Australië, se werk volg op navorsing wat in 2015 in die vaktydskrif Nature gepubliseer is.

Kramers het by navraag gesê monsters is geneem van die breksie (gesteentekorrels) waarin die fossiel gelê het. Omdat die fossiel vasgesit het, sal die ouderdom ooreenstem. Maar die vorige studie het gefokus op hoe lank die kwarts in die breksie onder die grond was. Daarin lê die verskil.

In die nuwe ontleding het hulle gefokus op die radio-aktiewe verval van deeltjies toe die hominied in die grot geval het. “Ons het gefokus op hoe lank fragmente van die kwarts op daardie bepaalde plek (die Silberberg-grot) kon gewees het, in daardie posisie. Die verskil was subtiel, maar beduidend.

“Dit is omdat ons ’n jonger ouderdom het vir wanneer hy daar ‘begrawe’ is as vir die materiaal. Om vir die verskil op te maak, beteken dit dat daar ’n hoër grot was waar die kwarts gevorm het, voor dié een (die Silberberg-grot) waar hy uiteindelik gevind is.”

Hulle dink hy het geloop of gevlug na dié hoër grotkamer en deur ’n gat in die vloer geval in wat nou die Silberberg-grot is. Hy kon nie baie lank in die boonste grotkamer gewees het nie, want die skelet is baie volledig gevind. As hy lank in die boonste kamer was, sou hy in stukke na onder geval het.

Prof. Ron Clarke van Wits terwyl hy besig was om Little Foot uit die Silberberg-grot in Sterkfontein te haal. Dié fossiel is in 1997 gevind en is ná jare se werk in 2014 uiteindelik uit die rots gehaal. ’n Nuwe ouderdom van 2,8 miljoen jaar is nou vir dié fossiel voorgestel. Foto: Wits

* Little Foot is in 1997 in ’n sygrot van Sterkfontein in die Wieg van die Mensdom gevind en daar is jare lank oor die spesie en ouderdom gegis. Die fossiel was heeltemal deur natuurlike prosesse in die grot “vasgesement” wat die opgrawing bemoeilik het.

Druipsteen het tussen die beendere ingesypel. Die druipsteen, wat natuurlik in grotte voorkom, het gedrup in die gaatjies wat deur die erosie gevorm is. Dié neerslae het dus gevorm lank nadat die hominied geleef het.

Prof. Ron Clark, wat Little Foot gevind het, het jare later bevind dit behoort tot die spesie Australopithecus prometheus. Dr. Raymond Dart (wat ook die Taung-kind gevind het), het die eerste fossiel van Australopithecus prometheus in 1948 in Makapansgat ontdek.

Daar is drie spesies van Australopithecus wat in die Wieg van die Mensdom, ’n Wêrelderfenisgebied, gevind is. Die ander is Au. africanus (Mev. Ples en verskeie ander) en die res is Au. sediba, wat in 2008 gevind is.

Die fossiele wat in die Rising Star-grot gevind is, is Homo naledi.

* Waar kom die naam Little Foot vandaan?

In 1997 het Clarke deur gemerkte houers in ’n pakkamer by Wits gesoek en op 12 voetbeentjies afgekom.

Hy het vas geglo die res van die skelet is iewers in die grot.

Hy het Stephen Motsumi en Nkwane Molefe gevra om na die grot te gaan en na die spreekwoordelike naald in ’n hooimied te soek.

Twee dae later, op 3 Julie 1997, het hulle wonderbaarlik die res van die skelet in die grot gekry en dit is toe Little Foot gedoop.

Meer oor:  Australie  |  Johannesburg  |  Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.