Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Lopende water op Mars ontdek

Daar is lopende water onder die oppervlak van Mars ontdek – meer as 30 jaar nadat dit die eerste keer voorspel is.

Dié aankondiging is Woensdagmiddag in Rome, Italië, gedoen deur die Italiaanse Ruimteagentskap, asook in die vaktydskrif Science. Verskeie Italiaanse kundiges aan universiteite en instansies in dié land het die waarnemings op Mars gedoen.

Die water is 1,5 km onder die oppervlak in ’n reservoir, of ondergrondse meer, wat 20 km lank is. Die span het dit op Mars se suidpool gevind in ’n gebied wat as Planum Australe bekend staan.

’n Saamgestelde beeld danksy die Mars Express-tuig wys die gebied op die suidpool van Mars waar kundiges ’n groot reservoir van lopende water onder die oppervlak ontdek het. Die kleurmosaïek wys ’n gedeelte van dit wat deur middel van radar gevind het. Blou is ’n sterk aanduiding van water. Daar is wel ys op Mars, soos in die beeld gesien kan word, maar daar is nou die eerste bewyse van lopende water. Samestelling : USGS Astrogeoly Science Centre/Arizona State University/ESA/INAF/Davide Coero Borga

Die kenners het ’n instrument (Marsis) aan boord van die Mars Express-tuig gebruik en data wat vir drie jaar lank, van 2012 tot 2015, versamel is, is ontleed. Hulle het spesifiek radar wat die oppervlak kan penetreer, gebruik.

Volgens die studie is die gebied gekarteer en daar was baie skerp veranderinge in die golwe. Die radarprofiel wat saamgestel is, is soortgelyk aan die mere van ondergrondse water wat in Antarktika en Groenland gekry is.

Die radar werk so: Soos die Mars Express-tuig oor die area beweeg, straal dit radar uit van die tuig na die oppervlak, wat dit weer reflekteer. Daar is ys op die oppervlak. ’n Deel van die radar penetreer die ys en dit word weer gereflekteer op die rotsbodem onder die ys. Dit gee ’n basislyn om tussen rots en lopende water te kan onderskei.

Die refleksie van die lopende water was egter baie sterker.

Daar word verwag dat die temperatuur van die water baie laag sal wees, en dit kan vergelyk word met die yskoue mere onder gletsers op aarde.

Die kenners het ook aangedui hulle dink daar is magnesium, kalsium en natrium – wat teenwoordig is in rotse op Mars – in die water opgelos.

Dit, saam met die druk van die rots wat daaroor lê, sal die smeltpunt van die ys verlaag wat die water lopend sal hou. Dit is dieselfde op aarde.

Hierdie foto en samestelling wys die Mars Express-tuig by die suidpool van Mars. Die kruisseksie van die lae is 90° gedraai. Dit wys die radar-opname en kenners het danksy die hoë refleksie gesien daar is lopende water (die blou kleur). Dit is die eerste keer dat daar bewyse gevind is van lopende water op Mars. Foto: ESA/INAF/Davide Coero Borga.

Verskeie tuie wat al op Mars geland het, het voorheen ys op die oppervlak gevind, asook ’n paar sentimeter onder die oppervlak. Minerale wat verbind word met lewe is ook al gevind, asook talle geologiese bewyse wat daar eens op ’n tyd baie lopende water op Mars was. Dit sluit antieke droë rivierbeddings en valleie met neerslae van ys in.

Daar word ook gereeld waterdruppels op die landingstuig Phoenix gesien.

Volgens dr. Anja Diez van die Noorweegs Poolse Instituut wat kommentaar gelewer het in ’n tweede navorsingsartikel in Science, sal die souterige water, danksy die magnesium, kalsium en natrium daarin, die vriespunt onderdruk, asook die geweldige drukking omdat dit so diep onder die oppervlak is.

Sy dink ook daar kan nog water wees wat vlakker is en wat in kleiner reservoirs voorkom.

Hoe oud die water is, sal afhang van die lae waarin dit voorkom en die klimaat in die verlede.

Meer oor:  Mars  |  Ruimte  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.