Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Maan sal ’n reuse-sprong vir vrouegeslag wees

Twee ruimtevaarders het onlangs geskiedenis gemaak toe hulle die eerste keer in die 61 jaar van Nasa se bestaan ’n ruimtewandeling slegs deur vroue buite die Internasionale Ruimtestasie (IRS) onderneem het.

Dit was sowat ’n week gelede toe Jessica Meir haar eerste ruimtewandeling en Christina Koch haar vierde onderneem het. Wat dit geskiedkundig maak, is dat dit net vroue was wat die ruimtestasie verlaat het om onderhoudswerk te gaan doen.

Jessica Meir (links) en Christina Koch besig om hul gereedskap in gereedheid te kry voordat hulle hul eerste ruimtewandeling as ’n vrouespan onderneem. Foto: Nasa

Dit was die 221ste keer dat herstel- of onderhoudswerk buite die ruimtestasie gedoen is.

Kort nadat Meir, wat ’n doktorsgraad in mariene biologie het, die IRS ná Koch verlaat het, het sy die 15de vrou geword wat ’n ruimtewandeling onderneem.

Koch het ’n meestersgraad in elektriese ingenieurswese. Wanneer Koch haar sending aan die einde van die jaar voltooi, sal sy die rekord hou vir die vrou wat die langste ononderbroke in die ruimte was: 328 dae.

Meir en Koch se geskiedkundige onderhoudswerk buite die ruimtestasie het 7 uur en 17 minute geduur. In dié tyd het hulle ’n krageenheid, wat die batterye reguleer wat sonkrag versamel en versprei, vervang.

Die eenheid is groot, en Koch het die geleentheid gekry om op die groot robotarm te “ry” – ’n kans wat nie almal te beurt val nie.

Hulle het ook ’n stutpaal geïnstalleer aan die Columbus-module ter voorbereiding van ’n nuwe buitenste platform, genaamd die Bartolomeo, wat volgende jaar aangebring sal word. Alles het vlot verloop.

Kyk die video hier:

Opmerkings is gemaak dat dit twee vroue so lank geneem het om die werk te doen omdat mans en vroue se liggame verskil. Dus, hulle is nie sterk genoeg nie, wat natuurlik nie waar is nie. Daar is nie swaartekrag nie – dit hang alles af van hoe goed jy opgelei is. Dit het niks met geslag uit te waai nie. En, ook hoe goed jou ruimtepak en handskoene pas – wat jare lank gemaak is om mans beter te pas.

Dit is egter nie maklik om in ’n staat van gewigloosheid te werk nie, al lyk dit lekker en vinnig in die flieks. Dit is stadige en moeisame werk.

Dit is ook gevaarlik buite die IRS. In die ruimte is daar nie ’n bo of onder nie – dié konsep moet die ruimtevaarders heeltemal laat vaar. Dit is ook nie regtig ’n “wandeling” nie, maar eerder soos bergklim.

Jy loop nie met jou bene nie, want jy kan nie eintlik vastrap nie. Jy loop met jou hande. Om “vas te trap”, gryp jy aan handvatsels rondom die IRS.

Die handskoene is ook drukvas. Terwyl jy om groot strukture werk, is die tyd teen jou en jy gebruik gereedskap wat heeltemal anders as dié op aarde is.

Jim Bridenstine, Nasa-administrateur, en Kristine Davis, ’n ruimtepakingenieur by Nasa, met die nuwe prototipe-pakke wat in 2024 gebruik sal word om op die maan te loop. Foto: Nasa

Boonop hou die wêreld elke beweging op Nasa-TV dop. Jou hande en vingers kramp, omdat die handskoene moeilik is om mee te werk.

Omdat dit so koud in die ruimte is, is sommige take kritiek. Indien jy iets verwyder, het jy net ’n sekere tyd om die werk af te handel voordat dit te koud raak vir wat jy ook al verwyder het.

Die gevaar bestaan ook die heel tyd dat ’n skerp rand jou handskoene of pak kan skeur. Al is dit ’n piepklein skeurtjie, sal die druk daarmee heen wees.

Dan is daar die skadelike kosmiese strale en ultravioletlig van die son.

Om onder druk en met emosionele intelligensie te kan werk, is ’n gegewe, anders sou ’n ruimtevaarder nooit eens ’n Nasa-kadet geword het nie.

Die opleiding word in ’n groot watertenk in neutrale dryfvermoë – wanneer ’n voorwerp nie dryf en ook nie sink nie – gedoen. Sodat ’n ruimtevaarder dit in water kan ervaar, word die natuurlike geneigdheid om te dryf of te sink deur gewigte of vlottoestelle weerstaan.

Dit is nie presies dieselfde as om gewigloos te wees nie, want jy voel sleur, maar dit help met die oefening om voorwerpe te beweeg.

Hoewel vroue al in die 1960’s – toe Nasa met die opleiding begin het – gereed was om ruimte toe te gaan, is hulle weens diskriminasie eenvoudig uitgesluit. Daar is geglo dat vroue dit nie kan doen nie.

Intussen is besluit om na die maan terug te keer, en hierdie keer sal die eerste vrou in 2024 deel van die nuwe maansending, Artemis, wees. In die Griekse mitologie is Artemis die godin van die maan en Apollo se tweelingsuster.

Nasa het pas die nuwe ruimtepakke vir dié sending, wat as xEMU (Exploration Extravehicular Mobility Unit) bekend staan, gewys. Met Apollo 11 is gevrees dat die ruimtevaarders dalk in die grond sou wegsak, omdat daar so min oor die geologie bekend was. Nou weet kenners dat die stof byna glasagtig is en nie ingeasem moet word nie.

En die pakke moet baie, baie meer beweeglik wees sodat die ruimtevaarders op die volgende sending nie so rondval en sukkel soos dié van Apollo nie.

Ek sien uit daarna om te sien hoe die eerste vrou haar eerste tree op die man gee. “A giant leap for all womankind.”

Bronne: Nasa; European Space

Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

Meer oor:  Nasa  |  Elsabé Brits  |  Ruimtevaarders  |  Ruimtevaart  |  Hoe Werk Dit?  |  Wetenskaprubriek  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.