Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Malariamiddels teen Covid-19 is gevaarlik

Donald Trump het aan die wêreld verkondig dat bekende malariamiddels grensverskuiwend in die geskiedenis van die geneeskunde gaan wees. Boonop het hy beweer dat die middels heeltemal veilig vir almal is – wat dit nie is nie.

In ’n studie wat pas in die vakjoernaal The Lancet gepubliseer is, is bevind dat die einste chlorokien en hidrochlorokien met ’n verhoogde sterftekoers en ’n aritmiese hartklop in hospitaalpasiënte met Covid-19 verbind word.

Daar word aanbeveel dat hierdie middels nie gebruik word om mense met dié siekte te behandel, buiten in kliniese proewe nie, en sulke toetse is dringend nodig vir bevestiging.

Trump se onverantwoordelike uitsprake in April oor chlorokien en hidrochlorokien was nie net geheel en al anekdoties nie, maar dit het tot wêreldwye tekorte gelei vir mense wat die middel regtig benodig. Die middels word ook gebruik in die voorkoming en behandeling van malaria, asook vir die behandeling van lupus, rumatoïede artritis en ’n tipe porfirie wat die bloed aantas.

Hy het ook gejok oor die feit dat dit reeds vir Covid-19 goedkeur is.

Dié middels het vele newe-effekte, soos gemoedsveranderings, en mense met psigiatriese siektes moet dit nie neem nie. Dit kan ook die hartritme affekteer en tot naarheid, kopseer, maagpyn en duiseligheid lei.

Dis allesbehalwe ’n onskuldige oor-die-toonbank-pil waarna hy dit laat klink het. Dit maak nie saak wát hy sê nie, daar is nie ’n wondermiddel teen Covid-19 nie.

Die studie wat in The Lancet gepubliseer is, was ’n groot waarnemingstudie waarin bevind is dat die middels nie enige voordele vir die lyers van Covid-19 inhou nie.

In die studie is die data nagegaan van 14 800 Covid-19-pasiënte, wat een van die twee middels met of sonder die antibiotika azithromycin of clarithromycin ontvang het. Dit is vergelyk met ’n kontrolegroep van 81 000 mense wat ook positief vir Covid-19 getoets is. Die pasiënte in die studie was in 671 hospitale wêreldwyd.

Laboratoriumtoetse het gewys dat die malariamiddels antivirale eienskappe en immuunmodulerende effekte het. Maar die gebruik van die middels vir Covid-19 was op anekdotiese ervarings gegrond.

In die studie is bevind dat die middels nie tot voordeel van die pasiënte is nie en met beide ernstige hartprobleme en ’n verhoogde kans om te sterf geassosieer word.

Een uit elke 11 mense in die kontrolegroep het gesterf. Hulle het nie een van die vier middels ontvang nie. Die sterftes van die pasiënte in die studiegroep wat net chlorokien of hidrochlorokien ontvang het, was een uit elke ses. Wanneer chlorokien met een van die antibiotikas gekombineer was, het een uit elke vyf gesterf. Een uit elke vier het gesterf toe hidrochlorokien met een van die antibiotikas gekombineer is,.

Nadat die faktore soos gewig, ouderdom en ander onderliggende siektes by die data uitgeskakel is, was die bevinding steeds dat dié middels pasiënte se kanse om te sterf verhoog.

Die enigste manier om heeltemal seker te wees is ’n dubbelblinde kliniese toets, omdat dié studie ’n waarneming van die data was.

Dit wys egter weer dat net bewese navorsing, en nie politici se uitsprake nie, die enigste manier is om die wetenskap en geneeskunde toe te pas.

Die wêreld verkeer in ’n pandemie, en waninligting en die verspreiding van samesweringsteorieë kos menselewens. Die pandemie is egter nie net ’n situasie waarin elkeen vir sy eie gesondheid verantwoordelik is nie, maar ook vir dié van ander omdat die virus aansteeklik is. Daarom is waninligting so gevaarlik, dit bedreig almal – dié wat dit glo en dié wat dit nie glo nie.

Die verspreiding daarvan op Facebook, Twitter en WhatsApp is veel vinniger as die leer en deel van feite. Die werk van bekende en internasionale wetenskaplike organisasies en liggame, wat al dekades lank navorsing doen en ervaring het, word verdag gemaak.

Diegene wat teen entstowwe is, is weer met hul gewone misleidende en pseudowetenskaplike verdagmaking van die geneeskunde besig. Hulle het natuurlik ’n groot belang in die geldpot van onbewese alternatiewe geneeskunde.

Dis alles net ’n bol wol.

Ongelukkig is ware geneeskunde en wetenskap stadig, maar dit is omdat die middels getoets word om veiligheid en effektiwiteit vir ’n spesifiéke toestand te verseker. Dan weet jy wat jy kry en wat die newe-effekte is.

Met Covid-19 sal daar soos met enige siekte nie een middel wees nie, maar ’n kombinasie, waar elke bietjie in die groter geheel help. En ’n entstof – dalk meer as een deur meer as een maatskappy, wat steeds die beste verweer sal wees.

• The Lancet https://www.thelancet.com/lancet/article/s0140673620311806

• Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis.

Meer oor:  The Lancet  |  Covid-19  |  Gevaarlik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.