Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Mense, ons is nie so spesiaal nie

Ons was nie altyd die enigste menslike wesens op aarde nie. Lank, lank gelede was hier talle ander.

Nou is ons behep met intelligente lewe wat dalk in die ruimte mag wees, maar hier onder ons neuse is al die bewyse van die ander menslike spesies wat sáám met ons hier geleef het.

Daar was minstens vyf ander spesies wat op dieselfde tyd saam met Homo sapiens geleef het. Wat sê dit van ons? Is ons so uniek as wat ons dink?

En dit is net die spesies waarvan ons weet – daar kan in grotte en rotslae nog fossiele lê.

Die jongste navorsing wys ook H. sapiens is nie 200 000 jaar oud nie. Dit is in fossiele en genetika gesien. Ons is dalk 350 000, maar minstens 260 000, jaar oud.

Die genetiese bewyse is in antieke genome (die volledige genetiese samestelling) van jagter-versamelaars van Suid-Afrika te sien waar DNS onttrek kon word uit gebeentes.

Die mense het geleef voordat migrante van die noorde hierheen gekom het en dus kon hul DNS gebruik word om die skeiding van ouer voorsate na moderne ­mense te bepaal.

Genetika werk onder meer só: Daar is merkers van herkoms en ’n mens kan biologies derduisende jare daarop terugloop. Dit is waarskynlik dat daar ander plekke in Afrika is waar mense ook van hul voorsate geskei het in die oorgang na die moderne mens.

Fossiele van H. sapiensvan Marokko wat onlangs beskryf is, is tussen 300 000 en 350 000 jaar oud, veel ouer as die oudste bekende fossiel van ’n moderne mens van Oos-Afrika, wat 195 000 jaar oud is.

Saam met die moderne mens was daar dus in ’n stadium H. floresiensis (van Indonesië) waarvan die fossiele wat gevind is, tussen 100 000 en 60 000 jaar oud is, maar hul gereedskap was veel ouer – tot 190 000 jaar.

Dan is daar H. Neanderthalensis van Europa en Suidoos-Asië wat beslis met ons gemeng het. Indien jy vandag van Europese afkoms is, dra jy tot 2,6% (wat baie is) van hul gene.

Goed soos hoë cholesterol, rumatoïede artritis, die manier hoe vet om ’n mens se ingewande versamel, eetstoornisse, skisofrenie, asook die manier hoe ’n mens vitamien D opneem, kry ons van hulle.

Die Denisovans is ’n subspesie wat in 2010 geneties geëien is van ’n vingerbeen wat in Siberië gevind is. Verlede jaar is twee gedeeltelike skedels ook in China ontdek. Dit was die eerste keer dat ’n spesie beskryf word deur sy DNS en nie deur die morfologie van die fossiel nie. Toetse het gewys hulle het bygedra tot hedendaagse Asiërs se genetiese profiel.

Dan is daar ons eie H. nalediwat tussen 335 000 en 236 000 jaar oud is – jonk genoeg dat hulle saam met die vroeë moderne mense in Suid-Afrika op die grasvlaktes gewandel het.

Die enigmatiese H. erectushet van sowat 2 miljoen jaar gelede tot 100 000 jaar gelede, dalk minder, oorleef. Fossiele wat soortgelyk aan dié spesie is, is regoor die wêreld gevind.

Dus was ons voorsate en minstens ál vyf die spesies saam op aarde.

Die grense tussen spesies en wat menslik is, is nie altyd duidelik nie, het Charles Darwin gesê.

Nie een van dié spesies was “dom” nie. Hulle het vir honderde duisende jare oorleef. Langer as landbou, stede, beskawings of enige ander “mensgemaakte konstruk”.

Dalk is ons nie so spesiaal as wat ons vir onsself toeëien nie.

  • Elsabé Brits is Netwerk24 se wetenskapjoernalis.
Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.