Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Mosbeertjies leef ná 30 jaar in vrieskas
’n Traagloper, ook bekend as ’n beerdiertjie of mosbeertjie, baie vergroot onder ’n mikroskoop. Dié organismes oorleef al 530 miljoen jaar op aarde. Wetenskaplikes van die nasionale instituut van poolnavorsing in Japan het mosbeertjies wat 30 jaar lank gevries was, weer laat ontwaak. Foto: Eye of Science
Een van die traaglopers wat 30 jaar lank gevries was en toe weer ontwaak het. Die ander een het doodgegaan, maar dié een het 19 eiers gelê waarvan 14 uitgebroei het. Foto: Cryobiology

Piepklein organismes bekend as traaglopers het 30 jaar nadat dit gevries is, ontwaak en weer eiers gelê.

Dié organismes, ook bekend as beerdiertjies of mosbeertjies, is in 1983 op Antarktika versamel. Dit is saam op ’n stukkie mos gebêre en vir langer as 30 jaar teen -20 °C gevries.

Navorsers van die nasionale instituut vir poolwetenskap in Japan het hulle toe in Mei 2014 stelselmatig begin ontdooi. Dié navorsingsresultate is pas gepubliseer.

Die navorsers het die twee wat weer lewe gekry het onderskeidelik Skone Slaapster 1 en 2 gedoop. Dit was nadat hulle uit die vrieskas gehaal en in petribakkies met water en alge vir kos gesit is.

Die een het ná 20 dae doodgegaan. Die ander een het 19 eiers gelê (hulle het ’n a-seksuele voortplantingstelsel) waarvan 14 uitgebroei het, skryf die navorsers in die vaktydskrif Cryobiology.

Daar was ook ’n klompie eiers in die oorspronklike stukkie mos en dié het ook ná ’n paar dae uitgebroei.

Die organismes het agt pote en is net 1 mm lank. Hulle oorleef al 530 miljoen jaar op aarde en kan uiterste koue en hitte oorleef. Hulle kom in water en op land voor.

Die navorsers glo hulle het oorleef juis danksy hul vermoë om uiterste omstandighede te weerstaan, asook vanweë die feit dat hul reproduksiestelsel behoue gebly het omdat oksidasieskade aan gene en selle danksy die koue beperk is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.