Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
'n Doodskoot vir ongetoetse middels?

Ongetoetse voedingsaanvullers wat bemark word asof dit kanker kan voorkom of selfs genees, diabetes, MIV/vigs, depressie, hartsiektes, hoë bloeddruk en ander ernstige siektes kan behandel, gaan moontlik nie meer lank in Suid-Afrika beskikbaar wees nie.

Dié produkte in Suid-Afrika gaan nou onderwerp word aan dieselfde streng reëls as allopatiese medikasie.

Ingevolge nuwe wetgewing moes sekere van dié produkte al teen Mei verlede jaar geregistreer gewees het, en die res teen November 2019. Dit word beheer die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte (Sahpra), voorheen bekend as die Suid-Afrikaanse Medisynebeheerraad, wat nou ook na mediese toestelle sal omsien.

Die einde van kommersiële komplementêre pille, poeiers en kruie (nie dié wat vir geur gebruik word nie), vitamiene en minerale wat wilde beloftes van genesing en voorkoming maak, is hopelik ’n paar jaar van nou af in sig. Dit geld mediese aansprake wat op mense en diere van toepassing is.

In Suid-Afrika word produkte verkoop met die belofte dat dit help vir diabetes, die voorkoming van kanker, artritis, hoë bloeddruk, depressie, hartgesondheid, hoë cholesterol, immuniteit, virusse – enigiets onder die son. En daar is vreemde kruie te koop in botteltjies met byna geen inligting op nie.

Vitamien C is goed vir jou, veral in die vorm van ’n vrug pleks van ’n aanvuller. Foto: Pixabay

Nuwe regulasies is nou ingestel wat die registrasie van duisende produkte gaan afdwing, eis dat daar behoorlike inligting op die etiket is, en vervaardigers gaan gedwing word om newe-effekte, die veiligheid, doeltreffendheid en moontlike toksikologie te bewys. Vir mediese aansprake sal kliniese data verskaf moet word.

Dit sal onaanvaarbaar wees om die woord “natuurlike produk” te gebruik om “veiligheid” te impliseer. Deesdae sien ’n mens dit op byna elke bottel.

Natuurlik, of organies, is geen aanduiding van veiligheid of doeltreffendheid nie, net soos wat chemies nie noodwendig op gevaar dui nie.

Daar is konkoksies op rakke wat na bewering kanker en MIV/vigs genees. Die goed moet of die toets van die wetenskaplike metode deurstaan, of dit moet van die rakke verwyder word. Dit gee mense vals hoop en is gevaarlik.

Dit is natuurlik aanvaarbaar om vitamiene te verkoop, maar die maan en sterre moenie beloof word nie. Dit is net wat dit is.

In die toekoms sal ook gekyk word of die sogenaamde alternatiewe medikasie en aanvullers aan behoorlike vervaardigingspraktyke voldoen en vervaldatums moet ook nou aangebring word.

Dit geld alle voedselaanvullers of middels wat van diere, swamme, alge, mos, plante of minerale afkomstig is. Of dit nou vir die behandeling, voorkoming of diagnose van mens of dier se fisieke of sielkundige toestand of as voedselaanvuller gebruik word.

Die middels mag nie meer verkoop word as dit nie aan ’n reeks standaarde voldoen nie. Baie botteltjies met goed, waarin daar niks is nie of net spoorelemente van ’n aktiewe bestanddeel is, gaan verdwyn. Mag gevaarlike produkte en dié met onbewese aansprake ook verdwyn.

Elke produk sal aan die standaarde moet voldoen – selfs aromaterapie, Chinese geneeskunde, homeopatie, Westerse kruie, Ayurveda (’n vorm van Indiese geneeskunde) en Unani (tradisionele Arabiese geneeskunde).

Daar is byvoorbeeld onlangs ’n oorsig oor omega 3-vetsure in die vakjoernaal Cochrane Library gepubliseer.

Ons hoor al lank dat dit ’n mens beskerm teen hartsiektes, en dat ’n mens dit as aanvuller moet drink. Net soos die bohaai oor anti-oksidante.

Luidens die oorsig is bevind daar is min of geen voordeel daarin om omega 3 te neem om hartsiektes te voorkom nie.

In dié 79 Chochrane-studies, waaraan 112 059 mense deelgeneem het, was die resultaat dat die risiko om te sterf aan enige oorsaak 8,8% is vir diegene wat omega 3 geneem het en 9% is vir dié wat dit nie geneem het nie.

Mense glo net so vas aan vitamien C as die kuur vir griep en ongelukkig ook kanker. Dit is omdat prof. Linus Pauling, ’n man wat twee keer die Nobelprys gewen het, geglo het dit voorkom kanker en verleng die lewe van mense wat kanker het.

Ongelukkig het iemand soos hy (en dr. Ewan Cameron) in sy een eksperiment met 100 kankerpasiënte en 1 000 ander mense, die reëls van die wetenskaplike metode verbreek. Inteendeel die resultate was oneerlik.

Dit is later in onder meer die Mayo Clinic herhaal en geen voordeel van vitamien C vir kankerlyers is nog ooit gevind nie. Weens Pauling se statuur in die mediese wêreld het die mite bly voortbestaan.

Dié vaandel word nou verder gedra deur Patrick Holford, wat net uit die storie ryk word.

Hoe meer hoe beter? Dit kan tog nie skade doen nie?

Inteendeel. Te veel vitamiene, veral as die dosis oorskry word, is nie goed nie. Dit kan selfs skade aanrig.

Vitamien A, E en beta-karoteen is vetoplosbaar en kan tot toksiese vlakke in die liggaam opbou as jy te veel inneem. Baie van die anti-oksidantaanvullers bevat 10 tot 20 keer hoër vlakke van anti-oksidante wat in ’n normale dieet ingekry word.

Sodra vervaardigers van voedingsaanvullers ’n element probeer onttrek en dit in ’n pilvorm of as ’n kapsule bemark, is dit ’n sintetiese produk. Wat jy drink, by die hande vol, is lankal nie meer “natuurlik” nie.

Elsabé Brits

Die vrugte en groente op jou bord is.


 

*Brits is ’n wetenskapjoernalis by Netwerk24.

Bronne: MCC Publications

Cochrane Library (18 Julie) 

International Journal of Preventative Medicine

South African Journal of Science 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.