Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
’n Melkpotjie vir ’n baba van des jare

Klein kleipotjies met tuitjies aan wat langs babas en kleuters in hul grafte gevind is, wys dit was van die eerste “bababottels” waaruit kinders gedrink het.

Dié houers, waarvan die oudste sowat 7 000 jaar is, het egter nie borsmelk bevat nie, maar die melk van diere, het navorsing gewys. Dit is die eerste bewyse dat prehistoriese babas gespeen of hul dieet aangevul is met die melk van diere.

Mense het nie altyd die melk van diere gedrink en ander suiwelprodukte geniet nie. Dit het eers met die aanvang van landbou toe skape, bokke en beeste mak gemaak is, sowat 12 000 tot 10 000 jaar gelede begin. Gewasse is toe ook vir die eerste keer aangeplant en daar is wegbeweeg van ’n jagter-versamelaar-lewe. So het dorpe en infrastruktuur ook ontstaan, met al die probleme wat daarmee gepaardgaan.

Volwassenes sou die laktose van melk nie maklik kon verteer nie en sou kaas, jogurt en dikmelk makliker kon verteer. Hulle het wel suiwel ingekry, want toetse wat op tande gedoen is, wys dit.

Die klein melkpotjies was net 5 cm tot 10 cm in deursnee, volgens die studie wat in die vakjoernaal Nature gepubliseer is. Klein genoeg dat ’n kleuter se hande daarom kon vou, en die tuit is dun genoeg sodat hulle maklik die melk so kon opsuig.

Dit is gevind in grafte in Duitsland.

Van die “bababottels” is gemaak in die vorm van magiese diere, selfs met pote aan. Dalk om die kinders te vermaak?

Van die melkpotjies – drie wat saam met babas begrawe is – is onderwerp aan chemiese isotooptoetse om te sien wat daarin was.

Van die melkpotjies vir babas en kleuters wat in prehistoriese tye geleef het. Foto: Katharina Rebay-Salisbury

Daar is na die spesifieke vetsuurmolekules in die potjies gekyk. Die antieke lipiede van die melk kon ook gekry word omdat spore daarvan vir duisende jare kan bewaar kan bly, al kan jy dit nie met die blote oog sien nie. Omdat die potjies nie geglasuur is nie, het die melk in die porieë van die klei ingetrek.

’n Hedendaagse baba kry melk uit ’n rekonstruksie van ’n prehistoriese “bababottel”. Foto: Helena Seidl da Fonseca

Die ontledings het gewys die melk was van diere wat herkou, hoewel die spesifieke spesies nie geïdentifiseer kon word nie. Maar dit was moontlik van beeste, skape en bokke omdat hul bene op soortgelyke terreine gevind is.

Volgens die studie is dit onbekend of die potjies gebruik is om die kinders te speen en/of hulle ekstra voeding te gee. Borsvoeding in die eerste ses maande vir ’n baba is al die voeding wat hy nodig het en is veral nodig vir die ontwikkeling van die immuniteitsisteem.

Elsabé Brits

Jagter-versamelaars het hul babas vir ’n hele aantal jare geborsvoed sodat die kind kon oorleef in die moeilike omstandighede, maar toe landbou ontstaan is dit moontlik dat dié tyd verkort is. Veral omdat nuwe en meer kos beskikbaar geraak het.

In die Middeleeue is ’n stuk sagte leer om ’n hol horing gedraai en so is kinders melk gegee. Die bakterieë wat hierin gefloreer het moes afgryslik gewees het, en die melk was ook nog nie gepasteuriseer nie. Soogvroue is gebruik tot in die 20ste eeu; dit was selfs ’n professie.

Die eerste moderner bottels met ’n rubbertuit is in 1845 gebruik, maar dit het lank geneem om die smaak van die rubber te verdoesel. Aan die begin van die 20ste eeu is die bababottel soos ons dit nou ken, ontwerp en teen 1950 is daar al hoe meer aan die ontwerp verbeter.

In argeologiese studies is kinders vroeër dikwels geïgnoreer, maar daar is nou ’n al hoe groter fokus op kinders; die rol wat hulle in die samelewing gespeel het en hoe daar vir hulle gesorg is.

Net omdat mense in ander tydperke as ons geleef het, beteken nie dat hulle nie lief vir hul kinders of vir mekaar was nie. Hulle het dieselfde emosies as ons gehad.

Die navorsing bied ’n rare blik op die leefstyl van mense voor ons, wat melkpotjies gemaak het sodat hul kinders daaruit kon drink. Daar is ’n persoonlike en menslike verbintenis met die artefakte.

’n Mens kan die kinders byna in jou geestesoog sien. Monde om die tuitjies.

• Bronne: Nature https://www.nature.com/articles/s41586-019-1572-x en die Journal of Perinatal Education 10.1624/105812409X426314

• Elsabé Brits is ’n vryskut-wetenskapsjoernalis.

Meer oor:  Elsabé Brits  |  Hoe Werk Dit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.