Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Navorser ontdek orgidee buit kewer ‘seksueel uit’

’n Navorsingsassistent het ontdek dat ’n orgidee manlike kewers “seksueel uitbuit” deur vroulike kewers na te boots om bestuif te word.

Die orgidee, “Disa forficaria”, se nabootsing van ’n vroulike kewer is so getrou dat die manlike kewers met die blom “paar” en dit so bestuif. Foto: Callan Cohen

Die ontdekking is deur dr. Callan Cohen, ’n navorsingsassistent van die Universiteit van Kaapstad (UK) se FitzPatrick Instituut vir Afrika Ornitologie (Institute of African Ornithology), gemaak en word wêreldwyd as ’n eerste beskou.

Volgens Cohen het hy ontdek dat die Disa forficaria-orgidee, wat byna uitgesterf het en bekend is om ’n enkele oorblywende plant in die berge naby Kaapstad, vroulike boktorre of “langhoringkewers (Cerambycidae) so getrou naboots dat die mannetjies met die orgidee “paar” en bestuiwing so laat plaasvind.

Die orgidee is familie van die rooidisa wat die laaste keer in 1966 gesien is en waarvan slegs 11 plante in die laaste 200 jaar gevind is.

Cohen sê hy het gesien hoe ’n kewer na die plant vlieg en duidelik begin “paar”, luidens ’n verklaring.

Die “Disa forficaria” boots die voorkoms en chemie van ’n vroulike kewer na. Foto: Callan Cohen

Volgens hom is orgideë bekend as bedrieërs. Hulle gebruik byvoorbeeld seksuele misleiding by bye en perdebye en sal ook plante met nektar naboots. Dít is egter die eerste geval van ’n plant wat ’n kewer seksueel bedrieg. Die kewer het ook sperm op die orgidee agtergelaat.

Cohen het ’n internasionale span kundiges saamgestel om die verskynsel te ondersoek.

Die orgidee en ’n kewer is in ’n laboratorium getoets en daar is bevind die orgidee bevat ’n chemiese stof wat die kewer lok.

’n Deel van die plant is na die Max Planck-instituut in Duitsland gestuur, waar dr. Ales Svatos die chemiese stof geïdentifiseer het. Sy kollega, dr. Jerrit Weissflog, het vorms van die molekulêre stelsel gesintetiseer. Die chemiese stof, ’n voorheen onontdekte makrolied, is toe “disalaktoon” gedoop.

Kewers word aangelok deur ’n nuwe chemikalie en laat selfs sperm agter op die orgidee. Foto: Callan Cohen

Nadat die molekules getoets is, is bevind die kewers gaan almal na ’n spesifieke deel van die gesintetiseerde komponent wat ’n nabootsing is van die vroulike kewers se feromone (wat die orgidee produseer).

Tydens die eksperiment met die molekules is ook ontdek dat van die kewers stuifmeel dra van minstens twee individue van die disa, wat bewys die plant bestaan nog.

Die span kan nou die gesintetiseerde stof gebruik om kewers te lok.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.