Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Neanderdal-mense leef nog voort in jóú

Dit is tyd dat die Neanderdalmens se beeld ’n bietjie gepoets word, want hulle was nóg dom, nóg onverwant aan ons. Hulle leef in ons.

Honderdmiljoene mense het vandag van dié uitgestorwe spesie se gene in hulle – en dit is gene wat ’n invloed het op hoe ons lyk en voel.

Dié antieke mense leef voort in ons, of ons dit wil weet of nie. Hulle het ook kuns gemaak en ’n simboliese lewe gehad, en dit is heel waarskynlik dat hulle kon praat.

Neanderdalmense se skulpkuns van tussen 115 000 en 120 000 jaar gelede. Die kleur van die skulpe is ook verander (met rooi en geel oker) Dit is soortgelyk aan die kuns wat in Suid-Afrika by Blombos gevind is en wat deur moderne mense sowat 70 000 jaar gelede gemaak is.Foto: J. Zilhão

Neanderdalmense (Homo neanderthalensis) se gene het verskeie dinge aan ons oorgedra: Dit speel ’n rol in vel- en haarkleur, hoë cholesterolvlakke, die opbou van vet om jou middel, lupus, rumatoïede artritis, die risiko vir skisofrenie, en dit het ’n invloed op jou slaappatrone soos bepaal deur jou interne horlosie.

In 2010 is die volledige genoom van dié spesie, ’n susterspesie van ons, gekarteer onder leiding van prof. Svante Pääbo, verbonde aan die departement van evolusionêre genetika by die Max Planck-instituut vir Evolusionêre Antropologie in Duitsland.

Aanvanklik, voor 2010, is daar gedink dat ons en die Neanderdalmense nie met mekaar gekruisteel het nie, maar die aard van die wetenskap is dat hy homself korrigeer wanneer daar nuwe bewyse na vore kom. En dit het.

Die eerste genoom, en die ses ander wat gevolg het, is kaarte uit ’n era van ons stamboom. Jy kan daarmee terugstap in tyd, want gene bewaar ons herkoms. Dan word dit vergelyk met vandag se genetiese kaarte.

Almal wat vandag leef en wat van Europese of Asiese afkoms is, dra tot 2,6% van die Neanderdalmense se gene in hulle rond. Dit is baie gene.

Prof. Svante Pääbo, wêreldleier op die gebied van antieke DNS, en die persoon wat daarin geslaag het om in 2010 die eerste Neanderdal-genoom van ’n fossiel te karteer. Hier hou hy ’n replika van ’n Neanderdalmens se skedel vas. Foto: Frank Vinken/Max Planck Instituut

Een van die nuwer genome wat gekarteer is, is dié van ’n vrou. Sy het 52 000 jaar gelede in die omgewing van Vindija in die hedendaagse Kroasië geleef. Die kruising tussen ons en hulle het ook al aansienlik vroeër plaasgevind, nadat nog ’n genoom van 130 000 jaar gelede ook ontrafel is.

Die gene van Neanderdalmense kom egter net voor in diegene wat van Eurasiese afkoms is, en nie in hedendaagse Afrikane nie.

Dit is omdat mense uit Afrika gemigreer het na Eurasië en toe later in aanraking gekom het met die Neanderdalmense.

Mense van Oos-Asië het tussen 2,3% en 2,6% van die Neanderdal-gene in hulle. En dié wat ’n herkoms van westelike Asië het, tussen 1,8% en 2,4%.

Die beraming is dat moderne mense en Neanderdalmense tussen 650 000 en 700 000 jaar gelede ’n gesamentlike voorsaat gehad het, en dat die genome daarna geskei is, maar die genetika vertel nou ’n ander verhaal. Dié skeiding het dalk 400 000 jaar gelede gebeur. En om die prentjie nog meer ingewikkeld te maak, was daar ook ’n derde spesie – waarvan ons weet – in die omtrek.

Elsabé Brits

Dié hominiede, die Denisovans, het ook aan die genus Homo behoort en het minstens 130 000 jaar lank in een gebied in Siberië gewoon. Hulle het ook genetiese kontak met ons voorsate gehad.

Hulle het met moderne mense gekruis, Neanderdalmense met ons, en daar is die eerste bewyse gekry dat Denisovans ook met die Neanderdalmense gekruis het. Dit het ’n hele vloei van die gene-pot veroorsaak, soos vandag, wat aan ons ’n verbintenis met die diepe verlede gee.

Die Neanderdal het ook die oudste rotskuns ter wêreld gemaak. Dit was sowat 20 000 jaar voordat die moderne mense hul eerste kuns geskep het.

Vondste in drie grotte in Spanje dui daarop dat die Neanderdalmense, eerder as die moderne mens, die oudste rotskuns geskep het.

Skulpe wat met oker rooi en geel gekleur en versier is, is ook in die grotte gevind. Dit is 115 000 jaar oud, veel ouer as die rotskuns wat vandag in Suid-Afrika bestaan.

Toetse dui daarop dat die rotstekeninge van diere, kolle en geometriese vorms in rooi oker minstens 64 800 jaar oud is. Die moderne mens, wat uit Afrika in Europa aangekom het, se oudste bestaande kuns is tussen 45 000 en 40 000 jaar oud.

Die rotskuns was ook ’n lang tradisie. In die grotte is bewyse gevind dat dié kuns oor ’n tydperk van derduisende jare beoefen is. Dit was dus nie een persoon wat een tekening gemaak het nie.

Jy moet simboliek verstaan en moet ’n taal hê as jy items van waarde besit, soos die skulpe wat vir versiering gebruik is. Kuns is iets wat van die een geslag na die volgende oorgedra word.

Uiteindelik wonder ’n mens wat en wie die Neanderdalmense was. Wat het hulle gedink, en waaroor het hulle saans gesit en gesels om die vuur? Want hulle was nie onnosel “grotmense” nie. Hulle was vir baie, baie lank hier, en hulle het suksesvol oorleef voordat hulle tussen 40 000 en 30 000 jaar gelede uitgesterf het.

* Elsabé Brits is ’n wetenskapsjoernalis.

* Bronne: Cell, American Journal of Human GeneticsScience

Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.