Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Nuwe studie toon oorsprong van Afrika-jakkals
Die skedel van die nuwe spesie Eucyon khoikhoi van Langebaanweg in die Weskus. Foto: Alberto Valenciano

’n Nuwe studie oor die oorsprong van jakkalse toon dat ’n nuwe spesie miljoene jare gelede ontwikkel het in die gebied wat nou die Wes-Kaap is.

Die navorsing is in die vaktydskrif The Zoological Journal of the Linnean Society van Londen gepubliseer.

Die nuwe spesie hondagtige (Canidae – lid van die hondfamilie) waarvan die huidige familie van jakkalse en wolwe insluit, is Eucyon khoikhoi gedoop ter ere van die Khoi-Khoi-mense wat in die Wes-Kaap gewoon het waar die spesie ontdek is, luidens ’n verklaring.

Volgens dr. Alberto Valenciano, voormalige navorser van die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Iziko-museums van Suid-Afrika en tans ’n postdoktorale paleontoloog van die Juan de la Cierva-program aan die Universiteit van Zaragoza in Spanje, was die Eucyon khoikhoi deel van ’n kritieke oomblik in die evolusie van die Afrika-jakkals vyf miljoen jaar gelede toe hulle buite Noord-Amerika, waar hulle oorspronklik vandaan kom, begin diversifiseer het.

Later het hulle in die Pleistoseen-tydperk meer algemeen voorgekom totdat vier lewende spesies op die Afrika-vasteland tot stand gekom het – die witkwasjakkals (Schaeffia adusta), die rooijakkals (Lupulella mesomelas), die Afrika- goue wolf (Canis lupaster) en die Ethiopiese wolf (Canis simensis).

Die spesie se morfologiese kenmerke dui op ’n direkte verwantskap met die witkwasjakkals en bevestig die teenwoordigheid van die groep meer as 5 miljoen jaar gelede.

Dr. Romala Govender (links) en dr. Alberto Valenciano in 2019 besig met opgrawings in Langebaanweg. Foto: Angus Rayners

Die studie het ook belangrike implikasies wat die evolusie van mediumgroot hondagtiges buite Noord-Amerika betref en vir fossiele van die Iberiese skiereiland, waar die oudste hondagtige buite daardie vasteland gevind is. Dit is Canis cipio wat 7,5 miljoen jaar gelede in die Spaanse gebiede Concud en Cerro de la Garita voorgekom het.

Later (sowat 6 miljoen jaar gelede) het Canis cipio saam met Eucyon debonisi in Venta del Moro in Spanje verskyn en Eucyon intrepidus in Oos-Afrika (Kenia en Ethiopië).

Navorsers van die Iziko-museums van Suid-Afrika, die UK, die Universiteit van Zaragoza (Spanje), die National Museum of Natural Sciences (Spanje) en die Institute for Research in Environmental Sciences in Aragon (Spanje), was deel van die navorsing.

Die navorsing is moontlik gemaak deur fossiele van die vroeë Piloseen-gebied (5,2 miljoen jaar terug) wat in Langebaanweg aan die Weskus ontdek is. Die fossiele verteenwoordig die grootste voorbeeld van hondagtiges in Afrika tot op datum.

Lees die oorspronklike artikel hier: academic-oup-com.eres.qnl.qa/zoolinnean/advance-article-abstract/doi/10.1093/zoolinnean/zlab022/6288410?redirectedFrom=fulltext

’n Kunstenaarsvoorstelling van die flora en fauna van Langebaanweg vyf miljoen jaar gelede. Foto: Maggie Newman

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.