Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Nuwe tak van menslike stamboom (dalk) gevind

Oorblyfsels van ’n geraamte van ’n nuwe spesie in die mens se verlede is glo in die Filippyne gevind.

Hierdie vermoedelike nuwe tak van die stamboom word Homo luzonensis genoem en is in die Callao-grot op Luzon-eiland ontdek.

Die spesie was sowat 50 000 tot 67 000 jaar gelede op die aarde terwyl die voorouers van Homo sapiens (die moderne mens) en die Neanderdallers reeds na Europa en Asië versprei het, berig The Guardian.

Sewe tande, twee handbeentjies, drie voetbeentjies en ’n heupbeen is gevind wat vermoedelik aan twee volwassenes en ’n kind behoort het. Homo luzonensis was net langer as ’n meter en kon boomklim.

“Ons het altyd gedink ons voorouers het uit Afrika gekom en versprei, maar nou blyk dit dat verskeie spesies terselfdertyd as Homo sapiens ontwikkel het, dat daar onder mekaar geteel is en sommige uitgesterf het, sê Florent Détroit van die natuurhistoriese museum in Parys en skrywer van die nuwe bevindings in die vaktydskrif Nature.

“Ons sal al hoe meer sien dat Homo sapiens ’n paar duisend jaar gelede nie alleen op die aarde was nie,” skryf hy.

Aida Gómez-Robles, ’n paleo-antropoloog van die Universiteitskollege van Londen wat die studie voor Woensdag se publikasie hersien het, sê sy huiwer nog om ondubbelsinnig te sê dat die beentjies aan ’n nuwe spesie van die mens behoort.

Tog sê sy al die ander moontlikhede om die beentjies te verduidelik, is net so interessant, berig National Geographic.

Die projekleier van die studie, Armand Mijares, ’n argeoloog van die Universiteit van die Filippyne Diliman, sê Homo luzonensis daag die outydse opvatting uit dat die moderne mens in ’n netjiese lyn van ’n minder gevorderde tot ’n meer gevorderde spesie ontwikkel het.

Aanvanklik is daar in die Callao-grot gegrawe en niks is gevind nie. Daar is opnuut begin grawe nadat Homo floresiensis – ’n klein mensagtige spesie wat intussen die “hobbit” genoem word – op die Indonesiese eiland Flores gevind is.

Aanvanklik is net een voetbeentjie in die Callao-grot gevind en in 2010 is aangekondig dat die beentjie aan ’n klein lid van Homo sapiens behoort. Nadat die bykomende bene gevind is, is dit as die nuwe spesie, Homo luzonensis, geïdentifiseer.

Die kurwes en groewe van die beentjies toon ’n onverwagte mengsel van baie ou en meer gevorderde eienskappe. Die tande is klein en eenvoudig gevorm, wat op ’n moderne mens dui, maar een van die boonste kiestande het drie wortels – iets wat net sowat 3% van die moderne mens het. Die een voetbeentjie lyk soos dié van die baie ou Australopithecus, die familiegroep van die bekende fossiel Lucy.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.