Olifante kry byna nooit kanker nie, omdat hulle danksy evolusie daarin geslaag het om ’n geen wat van ander soogdiere afgeskakel is, aan te skakel.
Genetiese studies oor die werking van dié geen, LIF6, kan dalk help om kankerweerstandigheid in menslike biologie te ontsluit.

Olifante het evolueer op so ’n manier dat hulle byna nooit kanker kry nie, omdat hulle ’n geen aangeskakel het wat nie funksioneel by ander soogdiere is nie. Foto: Mahala Kephart
’n Studie wat in die vakjoernaal Cell Reports verskyn het, wys hoe olifante dié geen inspan. Die geen werk in reaksie op DNS-skade soos wat weens ultravioletstraling, asook weens die verdeling van selle voorkom. Die geen maak selle dood wat kankeragtig sal word.
Olifante se spesifieke gene wat eie aan hulle is, is geïsoleer, asook dié wat eie is aan hul naaste verwante: die dassie en lamantyn – ’n mariene soogdier.
Daarna is DNS-skade aan die selle van olifante en hul naaste verwante op sellyne in die laboratorium aangebring. Die selle van die olifante het doodgegaan sodra die skade aan die DNS gedoen is, en daar was geen risiko dat dit ooit in kanker sou omsit nie.
Die genetiese meganisme wat daarvoor verantwoordelik is, is die LIF-gene wat die ontwikkeling van kanker staak. Spesifiek die LIF6-geen. Dit maak olifante hoogs sensitief vir selle wat nog in die beginstadium van kanker is, en stuit dit in hul spore.
Ander soogdiere, ook mense, het die geen maar dit is nie funksioneel nie.
Walvisse, die naakte mol, en vlermuise kry ook nie kanker nie, maar dit is nie danksy dié geen nie. Daar is ’n ander nog onbekende meganisme wat dit voorkom.
Volgens die studie kan dit moontlik wees om middels te ontwikkel wat die meganisme van LIF6 naboots, of om die kopieë van die gene aangeskakel te kry.