Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Onsin oor entstof stel wêreld in gevaar

Vandag word mense soos in die Middeleeue siek en sterf soos versukkeldes aan masels, ’n baie voorkombare siekte. Ironies genoeg, as jy jou gesonde verstand gebruik, behoort niemand op aarde een van die siektes te kry waarteen jy geïmmuniseer kan word nie.

’n Driedimensionele voorstelling van ’n maselvirus.Voorstelling: Alissa Eckert/CDC

Dié kritiek sluit natuurlik diegene uit wat graag geïmmuniseer wil word, maar nie toegang daartoe het nie omdat hulle of hul lande te arm is. Soos die uitbreking in Madagaskar. Dis die mense wat weier om ’n gratis entstof te kry, wat ons almal in gevaar stel.

Die anti-entstofliga het ’n lewe van sy eie gekry en word gedryf deur ’n baie sterk agenda – en met miljarde dollar daaragter: die alternatiewe “geneeskunde”. En natuurlik ’n rebelse streep om teen die establishment te wees.

Daar is duisende webtuistes, gelaai met pseudowetenskap, wat opsetlik vals inligting versprei. Dis oneties, kwaadwillig en stel mense se lewens in gevaar.

Dit is ’n nypende bedreiging vir die gesondheid van almal op aarde. As jy kanker, diabetes, ’n long- of hartsiekte, of vele ander chroniese siektes het, is dit vir jou ’n bedreiging. Ook vir swanger vroue, kinders, babas en enige ouer persoon, al is hulle gesond.

Sedert 2016 het die getal gevalle van masels wêreldwyd met 30% toegeneem. Einde laas jaar het die Wêreld­gesondheidsorganisasie in ’n verslag aangekondig 110 000 mense het die afgelope paar jaar aan masels en die verwante komplikasies gesterf.

Verlede jaar was daar 41 000 gevalle in Europa en dit is steeds nie in bedwang nie. So gaan dit in Amerika en min of meer oral. Polio kom ook weer voor.

Immunisering behoort eintlik nie ’n individuele keuse te wees nie, want dit is iets wat jy doen om jouself, jou kind en die gemeenskap te beskerm. Want die krag daarvan lê in die getal mense wat dit kry – die trop-immuniteit.

Neem die Ebola-virussiekte as ’n voorbeeld en dit gee die meeste mense die horries. As dit hipoteties gesproke hier of in Amerika sou uitbreek, sal mense mekaar vertrap om die entstof (daar is ’n paar wat klinies getoets word) te kry.

Op die skaal wat kenners gebruik om te bepaal hoe aansteeklik siektes is, is Ebola se R0-waarde 1.5-2.

Ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears) is 2-5, kinkhoes is 5.5, witseerkeel is 6-7, pampoentjies is 4.7 en masels is 12-18.

Die waardes is ná jare se navorsing uitgewerk en gee epidemioloë ’n aanduiding waarmee hulle te doen het. Soms verander dié R0-waardes in ’n groot epidemie, afhangend van die plek waar dit uitbreek.

As die neiging om nie te immuniseer nie voortduur, kan die wêreld dekades se werk verloor. Die ander supermiddel wat ons onderskei van die Middeleeue, toe mense oud was as hulle 50 gehaal het, is antibiotika.

Dis nou ’n gesondheidsoorlog – die misbruik van antibiotika aan die een kant en die weiering om een van die moderne wetenskap se suksesvolste ontdekkings gratis te gebruik. Dis soos om stroomop te swem en dan te besluit om nie meer te skop met jou voete nie.

Daar is ’n rede hoekom entstowwe vir sekere siektes ontwikkel is: gehoorverlies, sigverlies, breinskade, verstandelike gestremdheid, liggaamli­ke gestremdheid, lyding en die dood.

Pneumokokkale infeksies, veroorsaak deur die bakterieë streptococcus pneumoniae, kan longontsteking en ’n soort bloedvergiftiging veroorsaak wat die hele liggaam aantas, én dit kan meningitis veroorsaak.

Die Haemophilus influenzae b-enstof beskerm teen meningitis, longontsteking en ’n ernstige keelinfeksie.

Wakefield wou die entstof deur ’n nuwe een vervang. Hy sou miljoene Britse pond per jaar met sy slangolie maak.

Dit is juis dié bakterieë wat ook toenemend weerstandig teen antibiotika geraak het. En dít is die kern van die saak: Deur nie jou kind te immuniseer nie, “bou” hy nie “self” ’n sterk immuniteitstelsel op nie. Deur in die “grond te speel en blootgestel te word aan ander kinders se kieme” doen hy dit nie kastig “natuurlik op nie”. Hy is nog te swak daarvoor.

Die teendeel is waar: Entstowwe bou juis ’n sterk immuniteitstelsel teen baie gevaarlike siektes op. ’n Entstof stel jou net bloot aan ’n baie, baie klein en veilige hoeveelheid van die virus of bakterieë wat óf verswak óf dood is. Dit leer jou immuunstelsel om dit te herken en aan te val indien nodig. Dit is nie waar dat jy siek word of ’n ligter vorm van die siekte opdoen nie.

Die mite dat inentings skadelik kan wees, het begin met Andrew Wakefield se bedrogspul dat die entstof teen masels, Duitse masels en pampoentjies (MMR) “outisme veroorsaak”. Dié twak word steeds versprei.

Wakefield het dit in 1998 in die mediese vaktydskrif The Lancet ’n navorsingsartikel gepubliseer. Dit is later amptelik herroep en as “fataal foutief, oneties en oneerlik” beskryf.

Nog lank voor dié uitslag het honderde dokters bewys dat sy bewerings ongegrond is. Diegene wat teen entstowwe gekant is, gebruik egter sy werk om hul veldtog te regverdig. Dit het bly groei en deel van die een of ander vreemde anti-establishment-beweging geword.

Wakefield wou die entstof deur ’n nuwe een vervang. Hy sou miljoene Britse pond per jaar met sy slangolie maak.

Dis herhaaldelik in kliniese toetse bewys dat stoornisse op die outistiese spektrum niks met entstowwe te doen het nie. Kinders word so gebore en dit blyk geneties te wees.

Die snert oor entstowwe het nou die aard van ’n same­sweringsteorie aangeneem. Die geneeskundige gemeenskap behoort dit saam met die owerhede met wortel en tak uit te roei eerder as om daaroor te lag.

Bronne: American Journal of Epidemiology, Volume 160, Issue 6, 15 September 2004, https://doi.org/10.1093/aje/kwh255; WHO, Cureus. 2018 Jul; 10(7), doi: 10.7759/cureus.2919

* Brits is ’n vryskutwetenskapsjoernalis.

Meer oor:  Gesondheid  |  Entstof  |  Elsabé Brits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.