Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Ontdekking in die see: ’n Vis wat in duisternis verdwyn

In die dieptes van die oseaan waar sonlig skaars is, het wetenskaplikes een van die swartste materiale op aarde ontdek. Die vel van sekere visse wat meer as 99,5% van lig kan absorbeer.

Die ultra-swart visse absorbeer lig so effektief dat hulle na silhoeëtte sonder onderskeibare kenmerke lyk wanneer hulle in helder lig gebring word. In die donkerte van die oseaan, selfs wanneer hulle omring word deur bioluminessensie lig, “verdwyn” hulle.

Hierdie navorsing is dié week deur ’n span van die Smithsonian se National Museum of Natural History in die vakjoernaal Current Biology bekend gemaak.

Unieke pigmente op die visse se vel help dat hulle byna al die lig kan absorbeer en so min as 0,05% word teruggekaats. As mense dit in ’n materiaal kan namaak, sal dit in teleskope, kameras en vir kamoeflering gebruik kan word.

Dit is opgemerk toe een van die navorsers ’n pikswart vis wou afneem wat in ’n diepseenet gevang is. Ondanks die beste kameratoerusting kon sy nie die detail van die vis afgeneem kry nie. Meer navorsing het getoon dat dié ultra-swart visse absorbeer soveel lig dat dit haas onmoontlik is om eienskappe op ’n foto te onderskei. Beter toerusting moes ingespan word.

Een van die spesies ultra-swart visse Anoplogaster cornuta wat 99,5% van lig kan reflekteer. In die diepsee is die vis byna heeltemal onsigbaar. Foto: Karen Osborn/ Smithsonian National Museum of Natural History

In die diepsee waar ’n enkele foton aandag kan trek, kan so intense swartheid ’n vis se kanse om te oorleef verhoog. Omdat sonlig nie meer as ’n paar honderd meter diep onder die oppervlak penetreer nie, maak dié lewe wat so diep voorkom, hul eie lig – ’n bioluminessensie gloei om maats aan te trek, prooi te lok en roofdiere af te lei.

Die visse het die vermoë om lig te absorbeer danksy melanien, dieselfde pigment wat vel kleur en ons teen sonlig beskerm.

Die melanien in die visse se vel is op ’n unieke manier versprei. Die sellulêre kompartemente, die melanosome, is dig verpak en kom baie naby aan die oppervlak van die visse se vel voor, in aaneenlopende lae. Die grootte en vorm van die melanosome en die manier hoe dit gerangskik is, veroorsaak dat die lig geabsorbeer word, en die lig wat nie dadelik geabsorbeer word nie, word na die naburige melanosome weggewys.

Die lig bons nie weg nie, dit verdwyn in die lae. Visse is die enigste bekende diere wat dit kan doen. Sowat 16 visspesies is gevind wat so ontwikkel het. Daar is ultra-swart vere gevind op voëls en skubbe op vlinders, maar hulle kontrasteer die helder kleure.

• Oor die swart-wit strepe van sebras is al baie geskryf. Wat is die doel daarvan? In een studie vanjaar het kenners dit gaan toets. Lastige perdevlieë nader sebras, maar hulle sukkel meer om op die strepe geland te kry as op perde.

In ’n toets het ’n kwart minder van hulle op sebras as op perde gaan sit. Maar is dit oor die sebra of die perd? Toe gewone komberse oor die perde gegooi is, asook gestreepte komberse het dieselfde gebeur – die vlieë sukkel met die strepe.

Is die strepe vir kamoeflering? Kenners het dit getoets deur digitale beelde wat in die natuur geneem is met kleur- en ruimtelike filters te verander.

Elsabé Brits

Hoe sal die sebra vir leeus en hiënas lyk? Die strepe se wydtes, lig, kontras en helderheid is gemeet om die maksimum-afstand te bepaal – geskoei op die diere se visuele vermoëns – waarvandaan die roofdiere strepe sal kan sien.

Verder as 50 m in daglig en 30 m in skemerlig – wanneer die meeste diere jag, kan die strepe deur mense gesien word, maar dit is moeilik vir die roofdiere om dit te sien. Wanneer daar nie maanlig is nie, is die strepe op ’n afstand van verder as 9 m veral moeilik sigbaar.

Dit beteken die strepe kan nie goeie kamoeflering wees waar daar bome is nie, want voorheen is gemeen die swart strepe herinner aan bome en die wit aan lig wat deurskyn.

In die oopte kan leeus die buitelyne van die sebras sien, net so maklik soos prooi van dieselfde grootte. Die strepe verwar dus nie die buitelyne van die sebra nie, volgens dié navorsing.

Ander navorsing in die Journal of Natural History, meen die strepe is daar vir temperatuurbeheer, omdat sebras net soos perde sweet. Sebras het die vermoë om net die swart hare te laat regop staan, terwyl die wit hare platlê. Die hare se temperatuurverskil help met afkoel en om hitte te behou.

Op die hitte van die dag lig die swart hare op wanneer die strepe verskillende temperature is. Dit help met die oordrag van hitte van die vel na die hare en omgekeerd. Wanneer die strepe soggens dieselfde temperatuur is, en daar geen beweging van die lug is nie, sal die swart strepe help om lug vas te keer en te keer dat hitteverlies plaasvind.

Oulik, nè?

Bronne: Current Biology  ; PLOS ONE; Journal of Natural History 

Meer oor:  Elsabe Brits  |  Hoe Werk Dit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.