Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Organiese materiaal op Mars gevind

Organiese molekules in rots van sowat drie miljard jaar gelede is op Mars gevind.

Nasa se robottuig Curiosity het dié ontdekking op die planeet gemaak. Dit is ten spyte van buitengewone strawwe kondisies op die oppervlak wat organiese molekules afbreek.

Volgens Nasa is die molekules in die boonste lae van die grond, die boonste vyf sentimeter, gevind. Dit sou wees uit ’n tyd toe dié planeet nog bewoonbaar sou kon wees.

’n Saamgestelde foto van die Mars-tuig Curiosity wat die robot van homself en die landskap in die Gale-krater geneem het. Foto: Nasa/JPL-Caltech/MSSS

Op volgende sendings na Mars, soos Mars2020, sal aansienlik dieper geboor kan word.

Organiese molekules bevat koolstof en waterstof, maar kan ook ander elemente soos suurstof en stikstof bevat. Dit word met lewe verbind.

Daar is aansienlike aanduidings dat Mars voorheen lopende water gehad het. Daar was onder meer ’n meer in die Gale-krater, waar Curiosity is.

Die ouderdom kon bepaal word deur te kyk hoeveel kraters daar is. Hoe meer daar is, hoe ouer is die area.

Is daar tekens van lewe op Mars?

“Ons weet nie, maar dié resultate wys ons is op die regte spoor,” het dr. Michael Meyer, Nasa se Mars-wetenskaplike, in ’n verklaring gesê.

Die Mars2020-sending sal die eerste wees wat aktief na mikrobiese lewe op die planeet sal soek en die aanvoorwerk vir menslike ontdekking sal doen. Dit sal in Februarie 2021 daar aankom.

Danksy kameras wat die landing gaan opneem, sal die mensdom vir die eerste keer kan sien hoe ’n tuig op ’n ander planeet land.

Net soos met die vorige tuig, Curiosity, sal dié tuig met ’n ruimtehyskraan op die planeet neergesit word. Maar die verskil is dat alles gesien en gehoor sal kan word, lui ’n mediaverklaring.

Volgens Nasa sal die eerste toetse gedoen word om suurstof uit die atmosfeer te maak, en daar sal aktief na waterbronne gesoek word. Die omgewing sal bestudeer word om toestande vir toekomstige menslike sendings na die planeet te ondersoek.

Die eerste wetenskaplike doelwit is om te soek na tekens van oerlewe op die planeet, en of daar dalk steeds mikrobiese lewe is. Die tweede is om die klimaat te karteer en die derde is om die geologie van die planeet te bepaal.

Meer oor:  Nasa  |  Mars  |  Ruimte  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.