Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Padkaart vir bewaring van insekte voorgestel

Navorsers het saamgespan om met ’n padkaart vir die wêreldwye bewaring van insekte en die herstel van insek-bevolkings vorendag te kom.

Met dié dat ’n geskatte 40% van alle insekte deur uitsterwing bedreig word, het 73 wetenskaplikes, insluitend van die Universiteit Stellenbosch (US), besluit dringende stappe moet gedoen word om insekspesies te beskerm.

Hulle het onder leiding van prof. Jeff Harvey van die Nederlandse instituut vir ekologie die padkaart onlangs in die vaktydskrif Nature Ecology & Evolution gepubliseer.

Dit sluit in ’n lys van onmiddellike stappe wat so gou moontlik gedoen moet word om insekbevolkings oor die wêreld heen te bewaar.

Dié stappe behels onder meer pogings om mense oor die belangrike rol van insekte op te voed, die gebruik van plaagdoders uit te faseer, die invoer van ekologies skadelike produkte te verminder, die bekendstelling van uitheemse spesies te vermy en diverse landskappe in die landbou te bevorder.

“Grootskaalse beoordeling van die spesies, gebiede en kwessies wat ons aandag verg, moet ook gedoen word,” lui ’n verklaring wat die US Dinsdag uitgereik het.Dr. James Baxter-Gilbert van die US se Sentrum vir Indringerbiologie en een van die medewerkers, sê die padkaart sal regerings, navorsers en bewaringskundiges help om “die bedreigings wat ’n uitwerking op insek-gemeenskappe het, reg te stel en sodoende die afname in insekte wêreldwyd te bekamp”.

Foto ter illustrasie.Foto: Michael Hammond

Volgens Baxter-Gilbert is dit in ons beste belang om insekte te bewaar, aangesien hulle ’n belangrike rol in die instandhouding van ekostelsels en die volhoubaarheid van funksionele voedselkettings speel.

“Sonder die insekte sal die natuur soos ons dit ken, verlore gaan. Verder is insekte noodsaaklik vir menslike voedselproduksie, met baie spesies wat gewasse bestuif en as ’n biologiese plaagdoder dien.”

Baxter-Gilbert sê in die lig van die wêreldwye verlies aan biodiversiteit, is bewaringsaksies nou meer as ooit nodig.

“Tog, indien ons die tipiese spesies wat deur bewaring geteiken word (die vertebrata, die donsige of veeragtige diertjies, al die individuele gunsteling-spesies wat elkeen van ons het), wil beskerm, moet ons eers die insekte bewaar, aangesien hulle so ’n groot las van die ekologiese funksie dra wat die res van lewe toelaat om te bly voortbestaan.”

Op mediumtermyn vra die padkaart dat nuwe studies oor die verskillende mensgeskepte stressors en huidige inligting oor insek-diversiteit in die verlede in private museums en insekversamelings by universiteite ontleed moet word.

Op lang termyn moet vennootskappe gesluit word om nuwe habitatte vir insekte te skep, bestaandes te herstel en te beskerm en ’n wêreldwye moniteringsprogram daar te stel sodat mense dieselfde metodes kan gebruik.

Meer oor:  Insekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.