Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Robot op pad na son!

’n Robottuig, gepantser met ’n hitteskerm, gaan binnekort na die son gestuur word en sal die naaste daaraan kom wat enige aardse tuig nog ooit was.

’n Voorstelling van Nasa se Parker Solar Probe wat die son sal bestudeer. Dit sal die eerste robottuig wees wat so naby aan die son sal kom. Voorstelling: APL/NASA GSFC

Die Parker Solar Probe sal deur materiaal beweeg wat ’n paar miljoen grade Celsius is, sonder om te smelt.

Die tuig, so groot soos ’n motor, sal ná 6 Augustus deur Nasa gelanseer word sodra die weer ooreenstem met die regte lanseervenster.

Dit sal tot 6,4 miljoen kilometer van die son se oppervlak kom wat ver klink maar wat eintlik baie naby is. Indien die aarde aan die een punt van ’n maatstok van 92 cm gesit het en die son aan die ander punt, sal die tuig binne 7,6 cm van die son kom.

Volgens die mediapakket oor die Parker Solar Probe het die tuig ’n hitteskerm en outomatiese stelsel wat dit beskerm. Die geheim lê in die verskil tussen hitte en temperatuur, want ’n hoë temperatuur beteken nie altyd die verhitting van ’n ander voorwerp in die ruimte nie.

Temperatuur meet hoe vinnig deeltjies beweeg, terwyl hitte die totale hoeveelheid energie meet wat hulle oordra. Deeltjies kan dalk baie vinnig beweeg (hoë temperatuur), maar indien daar min van hulle is, sal hulle nie baie energie oordra nie (lae hitte). Omdat die ruimte baie leeg is, is daar min deeltjies wat energie kan oordra aan ’n tuig.

Die korona van die son, wat een van die areas is wat bestudeer gaan word, het ’n baie hoë temperatuur - miljoene grade Celsius, maar ’n baie lae digtheid. Dit is soos die verskil om jou hand in ’n oond te druk (sonder om aan die element te raak) of in kokende water. Die water gaan jou meer brand want dit is digter as die oond.

Parker Solar Probe sal onder meer die son se korona bestudeer. Dit is net sigbaar, soos hier, tydens ’n algehele sonsverduistering. Foto: NASA/Gopalswamy

Die tuig sal deur die korona beweeg, maar die oppervlak van die hitteskerm sal net tot sowat 1 400°C verhit word.

Dit is steeds baie warm, maar dit sal nie smelt nie.

Die hele tuig sal by 30 °C gehou word, deur onder meer wit keramiekverf wat sonlig reflekteer.

Om die sonwind te meet, sal ’n Faraday Cup gebruik word, gemaak van ’n allooi en die skyfies is van wolfram.

Die sending is genoem na Eugene Parker wat in 1958 gesê het sonwind bestaan. Die son is volgens Nasa ’n dinamiese en magnetiese aktiewe ster. Dit stuur die hele tyd gemagnetiseerde materiaal uitwaarts tot ver anderkant Pluto.

Die sonwind, korona, energieke deeltjies wat die son uitskiet, magneetveld en die siklusse van die deeltjies sal alles bestudeer word.


Meer oor:  Nasa  |  Ruimte  |  Son  |  Parker Solar Probe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.