Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
SA atlete help met studie oor EPO
Ter Illustrasie

Suid-Afrikaanse atlete is betrokke by ’n studie wat ondersoek sal instel of oefening op ’n hoë hoogte bo seespieël spesifieke genetiese veranderings veroorsaak.

Dit sal help in die stryd teen verbode middels in sport.

Dié navorsing word gelei deur prof. Andrew Bosch aan die Universiteit van Kaapstad se eenheid vir oefeningwetenskap en sportgeneeskunde en betrek “14 van die beste hardlopers in die Westelike Provinsie en twee van Durban”.

Daar word onder meer gekyk of ’n spesifieke molekulêre “vingerafdruk” by atlete gelaat word. Uiteindelik sal dit kan help onderskei tussen die uitwerking wat oefening op sulke hoogtes het en die verbode middel eritropoiëtien (EPO).

Wanneer EPO, wat ook natuurlik in die liggaam voorkom, misbruik word, lei dit tot ’n hoë produksie van rooibloedselle. EPO help dat jy meer suurstof in jou longe en uiteindelik ook in jou spiere dra.

EPO is ’n verbode middel en die navorsing is nodig om atlete wat kul, uit te vang.

Baie van die veranderinge wat in die bloed voorkom wanneer atlete in hoogliggende gebiede oefen, is soortgelyk aan EPO.

Bosch sê baie van die veranderinge wat in die bloed voorkom wanneer atlete in hoogliggende gebiede oefen, is soortgelyk aan EPO. Maar daar is tog verskille en dit wil hulle nou opspoor.

Die navorsing word gedoen in samewerking met die Universiteite van Brighton en Foro Italico. Die nodige “vingerafdruk” in die bloed is reeds gevind en kan nou vir vergelyking gebruik word.

Aanvanklike toetse is reeds op die atlete gedoen. Hulle sal nou vier weke bly en oefen by ’n fasiliteit in Ethiopië. In dié tyd sal hulle bloed- en hardlooptoetse ondergaan. Wanneer hulle na Kaapstad terugkeer, sal die toetse vier weke lank herhaal word.

Volgens Bosch sê baie atlete ter verdediging dat hulle nie EPO gebruik het nie, maar op sulke hoë hoogtes bo seespieël geoefen het. Tans is daar geen manier om uit te vind wat die waarheid is nie. Die hoop is nou om met wetenskaplike metodes te bewys wat is wettige oefening en wat is onwettige manipulasie van die bloed.

Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.