Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
SA kry teleskoop om donker energie te bekyk

Suid-Afrika gaan nog ’n radioteleskoop op die SKA-terrein in die Karoo bou, wat spesifiek die donker energie in die vroeë heelal gaan ondersoek.

Die Hirax (Hydrogen Intensity and Real Time Analysis eXperiment) se doel is om na ’n kritieke tyd in die heelal se ontstaan te kyk: Van 12 tot 7 miljard jaar gelede.

In dié tyd het donker energie begin oorheers om die heelal al vinniger en vinniger te laat uitdy.

Prof. Kavilan Moodley, kosmoloog aan die Universiteit van KwaZulu-Natal en die hoofnavorser van Hirax, het gesê in die tyd in die bestaan van die heelal het donker energie die uitdying begin oorheers.

Die eerste prototipe van die radio-antennas van die Hirax-teleskoop is gebou en word by die Hartebeesthoek Radio-astronomie-sterrewag getoets. Hirax, wat spesifiek na donker energie gaan kyk, gaan op die SKA-terrein in die Karoo gebou word. Foto: Kabelo Kesebonye/Hirax

Net sowat 5% van alles in die heelal bestaan uit materie, sowat 68% is donker energie en sowat 27% is donker materie.

Die teleskoop het ’n konfigurasie van 1 024 radio-antennas van ses meter elk, wat baie naby mekaar sal staan, anders as MeerKAT en die SKA, wat ver uit mekaar is. In die vier jaar wat dit operasioneel is, sal dit ’n aansienlike deel van die ruimte bo dit kan karteer.

’n Ander area wat ondersoek sal word, is vinnige radio-uitbarstings met hoë energie waarvan daar een sowat elke minuut is. Wat presies die aard daarvan is en waar dit vandaan kom, is nog nie ontrafel nie.

Met Hirax sal die presiese “plek” van die vinnige radio-uitbarsting bepaal kan word.

Die uitdagings van grootdata vir plaaslike kenners en studente sal ook groot wees, omdat Hirax 6,5 teragrepe per sekonde sal genereer.

Moodley het gesê die teleskoop sal in fases gebou word en die eerste 128 radio-antennas sal oor sowat ’n jaar op die SKA-terrein in die Noord-Kaap opgerig word. Dit sal binne twee maande gedoen kan word en hulle hoop om dié fase in 2020 te toets.

’n Voorstelling van hoe die Hirax-radioteleskoop op die SKA-terrein in die Karoo sal lyk. Dit sal bestaan uit 1 024 radio-antennas wat naby aan mekaar sal staan en spesifiek donker energie sal ondersoek.Voorstelling: Cynthia Chiang/Hirax

Daarna sal die res van die radio-antennas in 2020 gebou word en die plan is dat die teleskoop teen vroeg 2021 operasioneel sal wees.

Die projek word befonds deur die Universiteit van KwaZulu-Natal, die departement van wetenskap en tegnologie en die Nasionale Navorsingstigting.

Moodley het gesê die koste van die hardeware beloop R70 miljoen, terwyl die totale koste nog bereken moet word sodra hulle op die terrein is.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van wetenskap en tegnologie, het gesê een van die feite oor wetenskap is dat dit geen aandag skenk aan oos en wes, noord en suid, en swart, geel en wit nie. “Dit behoort aan almal wat bereid is om ’n poging aan te wend om dit te leer.”

Dit is beleggings in navorsing en projekte soos Hirax wat kennis sal genereer.

“Wetenskap gaan uiteindelik oor die mense in ’n gemeenskap van die mensdom enige plek in die wêreld.”

Meer oor:  Karoo  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.