Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Skenk jou liggaam vir mediese navorsing

Dit is noodsaaklik vir dokters se opleiding om deur middel van disseksie alles oor die hele liggaam te leer. Daarvoor het hulle geskenkte liggame nodig.

Enigiemand kan hul liggaam skenk aan ons land se mediese skole, en só kan jy in jou dood een van dié studente se eerste pasiënte word. Jy help ’n student om ’n driedimensionele kaart van die liggaam te vorm. Dit is ’n noodsaaklikheid om geneeskunde te praktiseer; ook diegene wat later spesialiseer het dié praktiese en tegniese werk nodig.

Indien jy nie self sien en weet wat onder die vel is nie, presies hoe dit in die werklike lewe van alle kante af lyk nie, kan jy nie iemand behandel nie. Jy kan jou dit nie uit boeke verbeel nie.

Kyk na dié video waar dosente en studente van die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Anatomiese Wetenskap verduidelik.

Daar is egter voorwaardes. Indien iemand te veel oorgewig is, word die liggaam nie aanvaar nie, omdat disseksie te lank neem. Iemand wat aan ’n onnatuurlike oorsaak dood is, soos ’n ongeluk of weens ’n misdaad, word ook nie aanvaar nie omdat so ’n liggaam vir ’n lykskouing gaan en dit moeilik is om dié liggame te balsem. Sekere aansteeklike siektes en trauma word ook uitgesluit.

Oorweeg om jou liggaam ná jou dood aan die Universiteit van die Witwatersrand se mediese skool te skenk. Disseksie is steeds een van die pilare van anatomie. Foto: WITS

Al die organe moet ook nog daar wees, omdat studente die anatomie so normaal as moontlik moet sien. Wat wel verwyder mag word, is korneas. Wat heel eerste en so vinnig as moontlik gebeur, is om die liggaam te balsem om ontbinding te keer.

Elsabé Brits

Die anatomiese werk op geskenkte liggame wissel van 18 maande tot drie jaar by Suid-Afrikaanse universiteite.

’n Mens moet aandui of jy wil hê die oorskot moet veras word en aan die naasbestaandes terugbesorg word. Die mediese skole doen die verassing op hul onkoste, maar mense moet dit binne ’n sekere tyd kom haal.

Die meeste mediese skole aanvaar skenkings binne 200-300 km van hulle, weens onkoste met vervoer. Die studente en personeel hou ook jaarliks ’n diens, wat alle gelowe insluit, om die skenkers te eer en dankie te sê.

Die etiek en manier van dinge doen in mediese skole is onderhewig aan vele regulasies. Stories van studente wat kastig die spot dryf met kadawers is bloot nie waar nie. Liggame word met respek hanteer.

Die idee is dat studente die liggaam moet sien, en self verken – driedimensioneel. Skerms en poppe, al is dit hoe gevorderd, is nie dieselfde as om weefsel te “voel” en te sien nie: die ragfyn senuweenetwerk, are, slagare, bindweefsel, die brein.

Die vader van die anatomie is die Flaamse man Vesalius (1514-1564). Hy het anatomie geskuif van teks na empiriese bewyse en was die een wat behoorlike disseksie op kadawers gevestig het. In Padua waar hy gewerk het, het hy sy eerste anatomiese sketse genaamd die “Tabulae Anatomicae Sex” (Ses anatomiese sketse) in 1538 gepubliseer. Daarna was sy groot werk in 1543 Humani Corporis Fabrica Libri Septem (Die samestelling van die menslike liggaam in sewe volumes), wat ’n besonderse blik op die anatomie gegee het.

Disseksie op menslike kadawers was egter onwettig in baie lande weens die invloed van die Katolieke Kerk, maar danksy die werk van Vesalius het dit meer aanvaarbaar geword.

Die Protestantse Hervorming het die verhouding met die Katolieke Kerk begin versuur, veral in Engeland waar Henry VIII en pous Clement VII koppe gestamp het.

Dit het daartoe gelei dat dokters aan die Royal College of Surgeons en die Company of Barber Surgeons in 1565 elk tien kadawers per jaar kon kry.

Sowat 100 jaar later is mense wat vir moord tereggestel is se liggame vir dié doel aangewend. In die res van Europa was daar ook ’n al hoe groter vraag na liggame, omdat disseksie in die begin van die 19de eeu ’n vereiste was om behoorlik as dokter te kwalifiseer. Mense het grafte begin beroof, veral dié waarin mense nie in kiste begrawe is nie omdat hulle te arm was. Daar was selfs bendes wat lyke oral gesteel het om aan die mediese skole te verkoop.

Dit is teen 1834 ná ’n nuwe wet stopgesit in Brittanje. Die liggame van mense wat nie opgeëis is nie, is gebruik. Ook arm mense wat in psigiatriese instellings dood en verlate gelaat is. Uiteindelik het dit in die 20ste eeu begin verander met streng wetgewing en etiese standaarde. Liggame moet geskenk word en etiese prosedures moet gevolg word. Maar soms volg mites en dwaalstories ongelukkig dié nodige werk.

• Bron: Anat Cell Biol. Published online 2015 Sep 22. doi: 10.5115/acb.2015.48.3.153

• Om jou liggaam na te laat aan Wits: https://www.wits.ac.za/anatomicalsciences/become-a-body-donor/ aan die Universiteit van Kaapstad: http://www.health.uct.ac.za/fhs/give/body-donation-programme en aan die Universiteit van Stellenbosch: http://www.sun.ac.za/english/faculty/healthsciences/Anatomy_and_Histology/body-donation-programme

• Elsabé Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.