Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
So lyk Mars-helikopter se 1ste foto

Dié foto is nie die eerste kleurfoto van Mars nie, maar wel die eerste een wat die Mars-helikoptertjie Ingenuity geneem het. Twee wiele van die Perseverance, die Marstuig waarop Ingenuity op die planeet aangekom het, is op die foto sigbaar. Foto: Nasa

Die Mars-helikoptertjie Ingenuity gaan nou wel nie ’n fotografie-kompetisie wen met sy eerste kleurfoto van die Rooi Planeet nie, maar dit wys darem dat hy sy man staan in temperature van -90 °C.

Die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa, het die foto Maandag uitgereik.

Space.com  berig die foto wys die vloer van die Jezero-krater op Mars en ’n gedeelte van twee wiele van die Perseverance, die ruimtetuig waarmee die Ingenuity na Mars vervoer is.

Oor die volgende paar dae gaan Perseverance ry na ’n ligging wat as die Van Zyl-uitkykpunt bekend staan. Hiervandaan is daar ’n goeie uitsig op die vliegveld wat wetenskaplikes vir Ingenuity gekies het. As alles volgens plan verloop, sal die helikoptertjie, wat sowat 1,8 kg weeg, Sondag sy eerste vlug bokant Mars uitvoer.

Die Van Zyl-uitkykpunt is genoem na die Namibiese wetenskaplike dr. Japie van Zyl wat in Augustus verlede jaar op die ouderdom van 63 jaar aan ’n hartaanval dood is. Van Zyl was 33 jaar lank verbonde aan Nasa se Vuurpylaandrywingslaboratorium in Pasadena, Kalifornië, voordat hy in 2019 daar weg is. Ingenuity was een van sy laaste projekte vir Nasa.

Volgens Nasa is die doel van Ingenuity se vlug om vas te stel of dit ’n haalbare manier is om Mars te verken.

Indien Ingenuity goed vaar in sy vyf beplande toetsvlugte oor die volgende maand, kan toekomstige missies na die planeet soortgelyke helikopters insluit as verkenners vir Marstuie en as ontdekkers in eie reg.

CNet.com berig die bittere koue op Mars kon Ingenuity se sensitiewe elektronika en batterye beskadig het, maar dit is deur isolasie, verwarmers en voldoende batterykrag beskerm.

Nasa hoop dat die foto’s wat Ingenuity op sy toetsvlugte neem, ’n hoër resolusie sal hê as die eerste foto wat hy geneem het.


Meer oor:  Ingenuity  |  Nasa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.