Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Sommige robma’s soog kleintjies vir meer as ’n jaar

Pelsrob ma’s soog hul kalfies vir baie langer as wat eers gedink is en dit verbeter die spekvetkalfies se kans op oorlewing.

Navorsers betrokke by die Namibiese Dolfynprojek, ’n navorsingsprojek wat deur Sea Search Africa onderneem word, het hierdie waarnemings gemaak by die robkolonie wat by Kaap Kruis in Namibië aangetref word.

Kaap Kruis is een van die wêreld se grootste broeikolonies van Kaapse pelsrobbe en bestaan uit byna 210 000 diere. Terwyl die robbulle slegs gedurende die broeiseisoen teenwoordig is, bly die robkoeie met hul kroos heeljaar lank by Kaap Kruis en jag in die waters van die omgewing.

Dr. Anna Osiecka, hoofouteur van ’n gepubliseerde artikel oor die pelsrobbe se gedrag, sê Kaapse pelsrobbe speen hul kalfies gewoonlik binne die bestek van ’n jaar. Dit wil egter voorkom asof sommige verkies om hierdie band met hul kalfies vir langer te bou of om selfs onverwante kalfies te soog.

‘n Kaapse pelsrobkoei soog ‘n jaaroue babakalf (regs) en ‘n 2-jarige kalf tegelykertyd. Foto: Anna N Osiecka/Sea Search

Aangesien robmelk baie ryk aan vet en proteïen is, kan hierdie ekstra “verniet” kos so ’n kalf ’n voorsprong gee, sê Osiecka. Jong robbe kry op hierdie wyse die kans om groter te word en sodoende hul kans op oorlewing te vergroot, alvorens hulle die wye wêreld op hul eie hoef aan te durf.

“Vir manlike kalfies kan dit beteken dat hulle ’n groter kans het om ’n trop te beskerm en ’n nageslag te kan hê wanneer hulle volgroeid is aangesien groter bulle geneig is om meer suksesvol te wees,” sê sy.

Kaapse pelsrobbe is die enigste robbe wat in Suider-Afrika broei, binne ’n gebied wat vanaf suidelike Angola tot by Port Elizabeth strek.

Osiecka sê die waarnemings bewys dat ma-en-kind-verhoudings nie so eenvoudig is as wat voorheen aanvaar is nie.

“Koeie kan aanhou om hul ouer kalf te soog indien die huidige jaar se kalf doodgaan of doodgebore word. Dit is tot groot voordeel van die ouer kalfies – hulle kan vinniger groei en dit sal uiteindelik hul kans op oorlewing en voortplanting as volwassenes verhoog.”

* Dr. Simon Elwen, mariene soogdierkundige en direkteur van Sea Search, sê Kaapse pelsrobbe is in die vorige eeu tot op die rand van uitsterwing gejag, maar met die nodige beskermingsmaatreëls het hul getalle herstel en kom hulle nou volop oor die hele verspreidingsgebied voor.

* Dr. Tess Gridley, nadoktorale genoot by die Universiteit Stellenbosch se departement van plant- en dierkunde, lei die navorsingsprojek oor die Kaapse pelsrobbe se biologie en gedrag in Suid-Afrika en Namibië.

* Die studie se bevindinge is in die vaktydskrif African Zoology in ’n artikel getiteld “Prolonged nursing in Cape fur seals (arctocephalus pusillus pusillus) at Cape Cross colony, Namibia”, gepubliseer.

Lees meer hier:

Namibian Dolphin Project

Taylor & Francis Online

Sea Search




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.