Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Sowaar, ’n enorme Maja-gebou ontdek

Dis byna ondenkbaar dat al die groot antieke strukture van ou beskawings nog nie ontdek is nie, maar helaas. Die oudste én grootste Maja-monument is al taamlik met moderne tegnologie in Mexiko ontdek.

As jy daar staan is dit onmoontlik om te sien wat op die plato is, iets buitengewoons, maar onsigbaar. Met lasertegnologie en daarna die gebruik van radioaktiewe koolstofdatering is die oudste Maja-monument nóg gevind en gedateer.

‘n Lugfoto van die versteekte Maja-terrein in Mexiko, die grootste en oudste een wat nog gevind is. Beeld: Takeshi Inomata

Aguada Fénix is onder die oppervlak van die landskap van Tabasco, naby die noordwestelike grens met Guatemala, versteek.

Dit is gebou tussen 1 000 v.C. tot 800 v.C. en in die vakjoernaal Nature is pas bevestig dat dit die oudste terrein van die Maja is. Voor die ontdekking was die oudste Maja-terrein dié van Ceibal, wat in 950 v.C. gebou is.

Die reuse-struktuur strek oor 1 400 m en is op plekke 40 m tot 50 m wyd en tussen 10 m en 15 m hoog. Verskeie van die platforms is met nege brûe met mekaar verbind. Baie mense moes daaraan gewerk het.

Die internasionale span kundiges gelei deur die Universiteit van Arizona het egter nie die struktuur toevalling ontdek nie. Hulle het met Lidar-tegnologie daarna gaan soek.

Om hierdie tegnologie te benut word met ’n toegeruste vliegtuig of hommeltuig oor ’n bepaalde gebied gevlieg. Laserimpulse wat uitgestuur word, bons terug na ’n toestel om datapunte te vorm. So word ’n kaart van die terrein saamgestel en maak dit moontlik om deur die plantegroei te sien, byna soos ’n topografiese kaart.

Reguit lyne en hoeke dui op ’n mensgemaakte struktuur en ’n goeie ontleding van die data toon uiteindelik die struktuur, wat nie met die blote oog gesien kan word nie en dekades se opgrawings sou verg.

‘n Driedimensionele beeld van die Maja-terrein in Mexiko, die grootste en oudste een wat nog gevind is. Beeld: Takeshi Inomata

Die gebied is ook nie in die middel van ’n digte oerwoud nie. Dit is plat en groot, en lyk byna soos die natuurlike landskap. Dit kom egter letterlik te voorskyn met die gebruik van die lasertegnologie en die driedimensionele beelde wat dit skep. Die wetenskaplikes het ook daar met opgrawings begin en die datering op die terrein gedoen.

Die Maja het ’n kunsmatige plato asook ’n lae piramide met ’n platform ’n ent verder gebou. Mense het moontlik daar byeengekom om die veranderings in die seisoene, asook die winter- en somersonkeerpunt te vier.

Wat nie daar is nie, is die reuse-klipbeelde van die regeerders en die elite, wat eers later in die Maja-kultuur voorgekom het.

In nog ’n studie wat ook die week in die vakjoernaal Science Advances gepubliseer is, is oor die merkwaardig goed bewaarde skelette van 44 mense wat in rotsskuilings in die Majaberge in Belize gevind is. Die oorledenes is in die afgelope 10 000 jaar daar begrawe. Uit die skelette kan ’n mens veral leer wat die mense geëet het.

Elsabe Brits

Dit wys hoe mense van ’n leefwyse van jagterversamelaar oorgegaan het na landbouers wat al hoe meer op mielies as voedsel staatgemaak het.

Teosinte, ’n wilde gras, is sowat 9 000 jaar gelede as mielies vir landboudoeleindes aangepas. Daar is bewyse dat die eerste mielies sowat 6 500 jaar gelede in die Maja-laaglande aangeplant is. Die studie van die koolstof en stikstof in die 44 skelette – waarvan die oudste van 9 600 jaar gelede en die jongste van 1 000 jaar gelede dateer, wys wat hierdie mense geëet het.

Aanvanklik het mense kruie, vrugte, neute en vleis geëet. Daarna het hulle mielies begin byvoeg en selfs die babas se skelette wys dat hul ma’s dit geëet het.

Teen 4 000 jaar gelede het die dieet van mense in Sentraal-Amerika uit 70% mielies bestaan. Dit was later so belangrik vir die Maja dat dit sentraal tot hulle bestaan geword het.

Uiteindelik het hulle die omgewing ontbos. Dit het die grond laat verarm en wanneer ’n droogte voorgekom het, het hulle honger gely.

Dit was deel van hul skeppingsverhaal en kosmologie. Die Maja was so afhanklik van die gewas dat hulle geglo het dat hulle uit mielies geskep is.

Daar is verskeie redes vir die uitsterwing van die Maja-beskawing met sy miljoene mense. Droogte en ontbossing kon van die redes gewees het. Hulle het hul mooi stede verlaat, maar van die mense het oorleef en hul nasate is vandag nog met ons.

Bronne: Science Advances https://advances.sciencemag.org/content/6/23/eaba3245 en Nature https://www.nature.com/articles/s41586-020-2343-4

* Brits is ’n vryskutwetenskapjoernalis

Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap  |  Maja-Beskawing  |  Elsabé Brits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.